Taalmonument en Historium Trust bied Arabies-Afrikaanse werkswinkel én kompetisie aan
Ter ere van Arabies-Afrikaans bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en Historium Trust ʼn werkswinkel oor hierdie unieke skryftradisie op 16 Julie 2022 aan én loods hulle nog ʼn kompetisie met groot kontantpryse.

Dit volg op die hoogs suksesvolle kompetisie in 2020 toe meer as 40 nuwe Arabies-Afrikaanse geskrifte vanuit Suid-Afrika, Duitsland, Oostenryk en Saoedi-Arabië ontvang is en die drie wenners met R10 000 beloon is. Die positiewe reaksie, mediadekking en talle inskrywings – van religieuse tekste, oorspronklike werke oor Afrikaans en kwessies soos ubuntu tot die lirieke van Spoegwolf en Refentse – bewys dat daar steeds ʼn groot belangstelling in Arabies-Afrikaans is. As deel van die ATM se uitreik na die gemeenskap sal die instelling boonop ʼn paar deelnemers uit die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit borg om om die werkswinkel gratis by te woon.
Die aanbieder (en beoordelaar van die vorige kompetisie) is dr. Shamiega Chaudhari, ‘n dosent in die fakulteit opvoedkunde aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie waar sy Afrikaans as hoofvak en Kurrikulumstudie doseer. Sy is nie net ʼn kenner op Afrikaans en Arabies – en liefhebber van Jawies – nie, maar fokus ook op dekolonisering, identiteitstudies en oratuur. Haar tweetalige werkswinkel sal ʼn inleiding tot die geskiedenis van Arabies-Afrikaans, opleiding in die Arabiese skryfstelsel asook voorbeelde van moderne tekste en hoe om spesifieke Afrikaanse klanke weer te gee (in die Jawiese tradisie) behels. Daarna sal sy deelnemers help om hul eie teks in Arabies-Afrikaans te skryf, met ʼn weergawe van die teks in die Romeinse skrif daarnaas.
“Hierdie werkswinkel is veral gerig op beginners,” verduidelik Chaudhari. “Wat ons gaan doen is om ʼn tipe Arabies-Afrikaanse madrassa-klas van die verlede te herskep om deelnemers ʼn gevoel te gee van hoe dit sou gewerk het, maar met ʼn moderne aanslag. Dit is gemik op almal wat meer wil leer oor hierdie pragtige skryftradisie, nie net Moesliems nie,” sê Chaudhari, wat hartstogtelik oor die geskiedenis van Afrikaans in die algemeen is, en veral hoe ons almal onlosmaaklik verbind is in die tapisserie van hierdie ongelooflike taal.
Arabies-Afrikaans, oftewel Afrikaans wat met behulp van die Arabiese alfabet geskryf is, word algemeen aanvaar as die eerste geskrewe vorm van Afrikaans. Talle Arabies-Afrikaanse geskrifte – soos studentenotaboeke, verkiesingsplakkate, publikasies en manuskripte – het behoue gebly; tot dusver is 74 van dié werke wat tussen 1845 en 1957 geskryf is, deur kundiges ontdek en geïdentifiseer. Hieronder tel uitstekende voorbeelde van die vroegste Afrikaanse literatuur. Daar is boonop heelwat onopgetekende Arabies-Afrikaanse geskrifte in privaatbesit; die ATM wil hulle graag digitiseer om vir die nageslag te bewaar.
Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die doel van hierdie werkswinkels en kompetisies om ʼn moderne bydrae tot dié skryftradisie te lewer. “Ons missie is immers om onder meer die versweë geskiedenisse van Afrikaans te belig en die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook haar moderne gedaantes te vier. Daarom wil ons mense aanmoedig om ook op hierdie manier hul deelname aan hierdie taal te herbevestig,” sê hy. “In die Taalmuseum in die Paarl gee ons heelwat erkenning aan Abu Bakr Effendi wat in die 1800’s ʼn groot rol in die ontwikkeling van Arabies-Afrikaans en derhalwe ook Afrikaans in die Bo-Kaap gespeel het. Ons wil graag sien dat die Afrikaanse gemeenskap hierop voortbou.”
Die werkswinkel is op Saterdag, 16 Julie, vanaf 09:00 tot 13:00 in die Historium Trust in Pastorielaan, Paarl, en kos slegs R250. Die inskrywing sluit ook ʼn kort besoek aan die Taalmuseum se Arabies-Afrikaanse uitstalling en Kaaps-Maleise verversing (als halaal) in. Om in te skryf, kontak Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za teen 13 Julie. Inwoners van die plaaslike distriksmunisipaliteit kan ook vertoë aan hom rig rakende borgskappe.
Meer besonderhede oor die gratis Arabies-Afrikaanse kompetisie, en groot kontantpryse wat gewen kan word, sal later bekend gemaak word. Enigiemand kan aan die kompetisie deelneem; vorige kontantwenners sal nie vir die top-drie pryse oorweeg kan word nie, maar wel vir die top-12 wat in die Groen Galery uitgestal word. Sien intussen meer inligting by taalmonument.co.za/arabies-afrikaans/ en taalmuseum.co.za/wp-content/uploads/2021/02/groen-galery-2021-arabies-afrikaans-klein-pdf.pdf
Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. DIE TAALMONUMENT, TAALMUSEUM EN KOFFIEWINKEL IS OOP VIR BESOEKERS. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.