Jy is mal oor jou ou, verwaarloosde hardebandboeke, maar wens net jy kon die kuns bemeester om hulle met liefde reg te dokter? Dan is die boekherstelspesialis George Wentzel se kursusse by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl weereens die antwoord op jou drome. Wentzel, ‘n gekwalifiseerde meesterboekbinder met meer as 46 jaar se ondervinding, bied ‘n inleidende kursus oor die herstel van ou hardebandboeke vanaf Maandag, 3 Oktober 2022, tot Woensdag, 5 Oktober, aan.

Hierdie kenner het voorheen in die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika se boekbewaringsafdeling gewerk en is altyd geesdriftig om hierdie skaars vaardigheid aan andere te onderrig. Danksy sy vele toekennings en die aanbied van meer as 50 rampbestuur- en boekbindwerkwinkels dwarsoor die land, is hy ongetwyfeld ʼn fontein van teoretiese en praktiese kennis.
Geen vooraf opleiding is nodig vir die tweetalige driedagkursus nie. Deelnemers sal drie boeke maak en bladgoudwerk en basiese boekherstelwerk doen. Ingesluit is werksprosedures, ‘n oorsig van die dele van ‘n boek en die samestelling daarvan, asook demonstrasies van en praktiese oefeninge in skutblaaie, boekbindwerk, leerbindwerk, omhulsel afronding en bladrugsteun.
Die kursusfooi beloop R2 000 per persoon, wat ʼn sertifikaat van bywoning en ʼn stel basiese gereedskap insluit. Dit vind daagliks van 09:00 tot 16:00 in die Besoekersentrum se konferensielokaal by die Taalmonument plaas. Koffie en tee is ingesluit, maar deelnemers moet sorg vir hul eie etes of kan die ATM Koffiehuis ondersteun. In terme van die Covid-19-regulasies sal deelnemers maskers moet dra.
Vir besonderhede en besprekings, kontak Jeffrey Pietersen by 021 872 3441 of stuur ʼn e-pos na bemarking2@taalmuseum.co.za.
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument bied jaarliks ʼn hele reeks kursusse en werkswinkels aan wat fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Vanjaar se program sluit Arabies-Afrikaans- boekherstel- en fotografiewerkswinkels in. Voorstelle vir bykomende werkswinkels oor verwante onderwerpe is welkom. Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. DIE TAALMONUMENT, TAALMUSEUM EN KOFFIEWINKEL IS OOP VIR BESOEKERS. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.