SUID-AFRIKA SE LIEDJIEBOER, ANTON GOOSEN, STEL ’N NUWE REEKS VELDSKOENE BEKEND.

Anton Goosen se musiek is net so deel van die Afrikaanse kultuur, soos melktert, braaivleis en koeksisters.

Daarom is dit heel gepas dat hierdie legendariese Liedjieboer se naam en handelsmerk voortaan verbind gaan word aan ’n nuwe reeks eksklusiewe veldskoene, die JANTJIE VELDSKOEN, wat volgens sy unieke spesifikasies vervaardig is.

Foto van Anton uit 1980.

Anton, wat reeds sedert die 80s veldskoene op die verhoog dra, was nog altyd versot op hierdie gemaklike skoen en het selfs ’n 1980-skildery (deur Hermien Spies) van ’n paar wat by Karasburg Handelshuis in die ou Suidwes-Afrika gekoop is, op die omslag van sy derde album, Liedjieboer, gebruik.

Dié paar skoene, waarna hy vandag steeds nostalgies verwys, was gemaak van koedoeleer (of soos hy vertel – “dit was ’n koedoe voordat dit ’n skoen was”) en het baie aandag getrek omdat die veters gebreek het, terwyl hy op toer was, en hy dit met wit elektriese draad vervang het omdat dit al was wat hy kon kry.

Gehore het dié humoristiese staaltjie so baie geniet dat hy dit deel gemaak het van sy vertonings en altyd gegrap het dat die draadveters ekstra-spesiaal was omdat jy dit kon inprop om die “beat” van die musiek te kry. Dit is dan ook hierdie storie wat as inspirasie gedien het vir die musikant en liedjieskrywer se reeks veldskoene.

Volgens Kobie Koen van Vonk Musiek, kan die JANTJIE VELDSKOEN beskryf word as ’n moderne veldskoen wat volgens ou, nostalgiese waardes vervaardig is.

Die Plaat / CD omslag van Liedjieboer. Dit was ‘n skildery deur Hermien Spies in 1980.  Die skoene is gekoop by Karasburg Handelshuis in die destydse Suidwes-Afrika.

“Anton wou graag ’n nostalgiese ontwerp hê wat aansluit by die skoene wat hy op die skildery gedra het en daar is omtrent sewe rondtes veranderinge aangebring voordat die finale produk gereed was,” verduidelik hy. “Dit is ’n lae-snit suede veldskoen wat gemaklik pas soos ’n pantoffel, maar modern genoeg is om aan die nuutste tendense te voldoen. Ons is baie trots op die eindproduk.”

Die naam van die reeks is geïnspireer deur sy treffer, Jantjie, wat in 1976 deur Sonja Herholdt opgeneem en bekend gemaak is.

Die nuwe Anton Goosen Liedjieboer Vellies.

“Jantjie kom al ’n baie lang pad saam met my. Hy het vir ons gewerk op Kroonstad en my geleer rook, melk en kitaar speel en sy vrou was Katryntjie. Sy kon die mooiste blomrangskikkings maak,” verklap Anton oor hoekom hulle op dié naam besluit het. ’n Spesiale veldskoen vir vroue, wat Katryntjie gaan heet, is ook in die pyplyn vir die nabye toekoms. Ander veldskoensnitte word ook as deel van die Liedjieboerreeks beplan.

Anton is ’n bekroonde musikant, regisseur en liedjieskrywer, met meer treffers op sy kerfstok as enige ander Suid-Afrikaner, waaronder Silver de Lange, Boy van die suburbs, Byeboerwa, ’n Brief vir Simone, Kruidjie-roer-my-nie, Jantjie, Waterblommetjies, Harlekyn, Hanoverstraat, Trein na Matjiesfontein, Ta’ Mossie se sakkie-sakkie boeredans en vele meer.

Verder spog hy met meer as twintig topverkoper-albums en talle musiektoekennings, en het hy al die verhoog gedeel met die room van plaaslike kunstenaars en opgetree by al die groot musiekfeeste in die land. Hy word beskou as die vader van Afrikaanse rockmusiek, wat die grondslag gelê het waarop baie suksesvolle musikante daarna kon bou.

Hier vertel Anton Goosen die storie vertel van sy skoene en die “beat”.:

Anton Goosen: Liedjieboer, sy lewensverhaal wat deur die bekende joernalis Hanli Retief neergepen is, is in 2020 deur NB-uitgewers uitgereik.

Tans toer hy die land vol en is hy besig om aan nuwe musiek te werk vir ’n album wat hy in die nabye toekoms wil uitreik.

Die JANTJIE VELDSKOEN is tans aanlyn beskikbaar by www.vellieboutique.co.za.

“Hierdie vellies is baie gemaklik. Ek dra dit non-stop vir die afgelope paar weke en dit is heerlik,” sluit Anton af.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/AntonGoosen

Webwerf: www.antongoosen.co.za

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies

Alishia van Deventer

Sel: 083 635 4717

E-pos: alishia@starburstmusic.co.za

Webwerf: www.starburstmusic.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →