Vrouemaand met swier en pryse gevier
Altesaam 16 fenomenale vroue is deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, Historium Trust en die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit (KWDM) tydens ʼn spoggeleentheid in die Paarl vereer vir hul inspirerende werk.

Foto: Die 8 wenners wat vereer is. Photo: Winners with CWDM Management and Mayor.
From Left: Lavona Solomons; Pietie Williams (ED: CDPS and Programme Director CWDM); Jocelyn van der Ross, Andeline Coetzee; Felicity Fransman; Henry Prins (Municipal Manager, CWDM); Ald (Dr) Elna von Schlicht (Executive Mayor CWDM); Juanita Eversen; Elize Boer, Nicolette Labuschagne, Thembi Mehlo, and Elmarie Rabe.
Die Fenomenale Vroue van die Kaapse Wynlande-toekenningseremonie is verlede week as deel van Vrouemaand gehou; hiertydens is die agt wenners en agt naaswenners in verskillende kategorieë aangewys en met pryse beloon. Die verrigtinge is gelei deur Pietie Williams, uitvoerende direkteur van die KWDM se gemeenskapsontwikkeling en beplanningsdienste, en is bygewoon deur wenners, naaswenners, die mense wat hulle genomineer het, lede van die vennootorganisasies asook twee gassprekers.
Michael Jonas, ATM-direkteur het geopen met ʼn voorlesing van Sproeireën, digter DJ Opperman se bekendste ode aan vroue. “Volgens hom is elke vrou so uniek soos haar geur. Hy bewonder vroue. Hy voel positief oor vroue, want hy sê hulle kan troos en beskik oor verskeie deugde,” het Jonas gesê. “Die vieringe van Vrouemaand 2022 bied [ons] die geleentheid om bande met die gemeenskap te versterk en hulde te bring aan vroue wat hul lewens daagliks wy aan die bevordering van maatskaplike samehorigheid, die beskerming van vroueregte, die verbetering van vroue se omstandighede en die uitwissing van die sosio-ekonomiese en maatskaplike agterstande.”
Lede van die publiek is genooi om nominasies in te dien vir ‘n vrou wat hulle as fenomenaal beskou. Die inskryfreëls is eenvoudig gehou om inklusiwiteit te verseker, en indiening is vergemaklik deur ‘n selfoonvriendelike aanlynvorm. Nagenoeg 100 inskrywings is van alle uithoeke van die distrik ontvang, en Elize Boer, Andeline Coetzee, Juanita Eversen, Felicity Fransman, Nicolette Labuschange, Tembi Mehlo, Elmarie Rabe en Jocelyn van der Ross is eindelik as wenners aangewys.
“Deur hierdie geleentheid en die nominasieproses het die KWDM en ons vennote ‘n geleentheid gesoek om die onbesonge heldinne te vier, die vroue wat hul tyd, liefde en omgee gee sodat ander kan floreer, dikwels terwyl hulle hul eie behoeftes verwaarloos,” het die KWDM se uitvoerende burgemeester, raadslid Elna von Schlicht, verklaar. “Ek is trots om tussen die fenomenale vroue in hierdie kamer, distrik en land te wees.”
Chrystinn Jacobs, mede-eienaar van Jacobs Jam in Ceres, en Jaydee Joubert, ’n opkomende entrepreneur van die Paarl, het hul inspirerende stories van sukses met die gaste gedeel. Die wenners en naaswenners het geskenke van die KWDM, ATM, Historium Trust, Jacobs Jam en Tupperware Wes-Kaap ontvang.
Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaa
ns, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die ATM Koffiehuis bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte.
Jeffrey Pietersen
Assistent: Geleenthede en Kommunikasie
Assistant: Events and Communication
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument
T +27 (0)21 872 3441
F +27 (0)86 231 7324/+27 (0)21 872 3642
E bemarking2@taalmuseum.co.za
W www.taalmuseum.co.za | www.taalmonument.co.za
F www.facebook.com/afrikaansetaalmonument
T www.twitter.com/taalmonument
I www.instagram.com/taalmonument
Y www.youtube.com/user/taalmonument1