ʼn Poskaart uit Moskou, Kobus de Villiers se nuwe naelbyt boek is nou uit.

Die Russiese inval van die Oekraïne is deesdae hoofnuus.

Joernaliste sou seker wonderlike stories kon skryf as hulle geweet het dat tussen 1990 en 1994 ‘n klein groep Suid-Afrikaanse ingenieurs in Bresjnjev se datsja gewoon en saam met van die  ontwerpers van die Mig-29 vegvliegtuig gewerk het. Die tegnologie was uiters gevorderd en ons het ongelooflik baie geleer.

Dit was in die laaste jare van die Sowjet-unie en die mense het baie swaar gekry. Winkels was leeg, die strate kleurloos, advertensievry en lang rye mense in swart en donkergrys jasse staan geduldig in die sneeu en wag om hul rantsoenkaartjies en kwynende roebels te ruil vir vir ‘n swart boerbrood, ‘n liter melk en soms vir 200g varkvleis.

Dit was gedurende die wapenboikot jare en die projek was so geheim dat ons families nie eers geweet het waar ons was nie. Jare later was die projek aan die publiek bekend gemaak maar ons kon nog steeds nie daaroor praat nie.

In 2010 het ek my familie Rusland to geneem om vir hulle te wys waar ons gewoon en gewerk het. Dit was byna onmoontlik om ons woonstel in St Petersburg, Leningrad toe ek daar was, te vind. Die plek het onherkenbaar verander. ‘n Europese stad met te veel tinsel en advertensies wat jou in ‘n hoek wil vaskeer. MacDonald ‘s en Coke en al die nuutste mode aanplaksels van ‘n Disney-tipe lewenswyse. Bresjnjev se datsja was gesluit en vervalle, die sanatorium waar ek diep in die moeilikheid was, is nou iets soos ‘n Florida aftreeoord.

Die hoofontwerpingenieur by Mig destyds het een aand, na te veel vodka en met ‘n hees stem van die gesing van eindelose marsjeerliedjies, vir my verduidelik dat die Russe altyd ‘n baie sterk en ongenaakbare leier sal verkies.

Die paar kollegas met wie ek nog kontak het van daardie onvergeetlike jare is nou ook grys en afgetree en uiters bekommerd oor hulle land en hulle kleinkinders se toekoms.

Nou dat die ‘nuwe SA’ ou nuus is en ek van my stories van ons avonture in vreemde plekke kan vertel, het Malherbe Uitgewers my nuutste boek, ʼn Poskaart uit Moskou, vrygestel.

Meer oor die skrywer:

Dit voel vreemd om oor myself as persoon te praat. Ek was altyd een van die ‘backroom boys’ by die werk, die ouens met die wit jasse, dik brille en penne in die bosak. Ek is ʼn lugvaartingenieur en my vrou het linguistiek studeer.

    Ek het as kaalvoetseun op die myndorp, Welkom, in die Vrystaat groot geword en weens die nuus en algemene invloed van die 60s se koue oorlog en ruimteprogramme, was ek so

beïndruk met al die nuwe idees en tegnologie, ek wou met alle mag vuurpyle en vliegtuie ontwerp en bou. Die mense om my het dit nie verstaan nie, gedink ek is bietjie snaaks en ek verwar selfs die klas en ons Voorligting juffrou met my verduideliking dat ek eendag by Caltech in Pasadena wil studeer en dan by NASA se Jet Propulsion Laboratory (JPL), gaan werk.

    My familie is meestal onderwysers, kuns en musiek, en daar is ʼn paar predikante en so een of twee (my pa ingesluit) wat iets te doen het met die mediese wetenskap. Net my een oupa, ʼn plaasboer aan my ma se kant, verstaan my en moedig my aan.

    Soos van al die jong manne destyds verwag word, doen ek my Diensplig en Grensdiens. Met ‘n gesukkel gaan studeer ek ingenieurswese. Omdat ek iets so uitheems wil aanpak kry ek min steun van die familie en moet ek vir my eie studies betaal.

     My eerste boek beskryf hoe ek uiteindelik my droom bereik het en in verskeie lande aan die nuutste vliegtuie en ruimtetuie gewerk het. 

Daarna het ek begin skryf oor ons ander ervaringe in vreemde lande en ‘n boek vir mense wat in die buiteland woon en na SA verlang.

Ons is nou afgetree en woon in Port Moody, op die weskus Kanada. Ons spandeer ook met rukke tyd by ons kuierplek in die suide van Frankryk.

    Hoe ons ontmoet het en uiteindelik in Kanada beland het is ʼn lang en half ongelooflike storie veral as mens in ag neem waar ek groot geword het en dat sy, ʼn beeldskone Franse meisie, naby Le Lavandou in die Côte d’Azur haar kinderjare deurgebring het. Beide van ons het miere gehad en wou om verskillende redes die wêreld gaan verken. Om een of ander rede het ek ʼn gawe om ingewikkelde tegniese goed te kan ontwerp en dit het vir my geleenthede geskep om in die buiteland te studeer en te werk. Dit is ook hoe ons toe die wêreld verder saam gaan verken het.

Waar kan lesers jou volg, en jou boeke aankoop?

In SA is my boeke beskikbaar by Malherbe Uitgewers en Bargain Books. In die buiteland verkoop my boeke flink op Amazon.

Malherbe Uitgewers-Publishers – Kobus de Villiers

 My blog is hier; https://howzit.ca/blog/slypsteen/

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →