Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) speel in Oktober die gasheer vir seker een van die grootste gospelkonserte in die Paarl tot nog toe. In samewerking met Marco Mentoor en Chadleigh Gowar, beloof hierdie spirituele sang-extravaganza om van Sondag, 30 Oktober 2022, ʼn onvergeetbare middag in die Amfiteater op Paarlberg te maak.

Minstens 21 sangers en groepe gaan vanaf 14:00 tot 20:00 besoekers met musiek en lirieke uit die boonste rakke bekoor. Hulle sluit in Chadleigh Gowar, Clarissa Benjamin, Colin Mitchells, David Jantjies, Deon Valor, Divine Purpose, Divine Ministry, DOEP, Dumisani, Gerty Ryan en Merlin Balie (wat beide ook as seremoniemeesters optree), Jerome Scholtz, Kunjalo, Larry George, Loren Erasmus, Marco Mentoor en MM Productions, Nosipho H, No S’wett, Set One Band, Steyn Fourie asook Triveno Smith. Hierdie talentvolle musikante kom vanaf die Paarl en die res van die Wes-Kaap; hulle verteenwoordig ʼn verskeidenheid gospelgenres en bespeel talle instrumente, onder meer saxofone en klavier. Hul bekende opnames kry ruim lugtyd, en hulle het al wyd gereis om voor groot gehore hul boodskap oor te dra.
Die hekke open om 13:00 en gaste word aangemoedig om ʼn gesinsuitstappie daarvan te maak. Daar is oorgenoeg sitplekke, dus geen ander stoele word toegelaat nie. Stalletjies sal bekostigbare, heerlike verversings aanbied, derhalwe word geen eie kos of drank toegelaat nie. Genoeg parkering is beskikbaar.
Kaartjies is beskikbaar by Computicket teen R100 vir volwassenes en R30 vir kinders onder 13 jaar oud. As daar enige oor is, sal dit vanaf 13:00 by die hekke te koop wees. Vir besonderhede en navrae, kontak Jeffrey Pietersen by 021 872 3441 of stuur ʼn e-pos na bemarking2@taalmuseum.co.za.
- Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die ATM Koffiehuis bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte.
Jeffrey Pietersen
Assistent: Geleenthede en Kommunikasie
Assistant: Events and Communication
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument
T +27 (0)21 872 3441
F +27 (0)86 231 7324/+27 (0)21 872 3642
E bemarking2@taalmuseum.co.za
W www.taalmuseum.co.za | www.taalmonument.co.za
F www.facebook.com/afrikaansetaalmonument
T www.twitter.com/taalmonument
I www.instagram.com/taalmonument
Y www.youtube.com/user/taalmonument1