FAK Allegretto tienertoneelwenner bekroon in Voortrekkermonument Senotaafsaal

Die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge) Allegretto Toneelfees het uiteindelik na sy finale ronde wat gister in die Senotaafsaal by die Voortrekkermonument plaasgevind het, die toptienertoneel bekroon.

Vanuit die 114 produksies wat vir hierdie kompetisie ingeskryf het, het die topsestonele hul kans gehad om vir die topprys te kompeteer.

Die ongelooflike talent wat op die planke te siene was, het die beoordelaars egter laat besluit om nie net een wenner te bekroon nie, maar om die eersteplek-trofee aan die twee toptonele te gee.

Hoërskool Hugenote, met hul toneel “Idees” en Helpmekaar Kollege met “’n Einde” kan spog met die ongelooflike eer om die enigste skoletoneel-wenners te wees wat in 2023 by die Oppiwater Kunstefees die verhoog gaan betree om hul wentonele op te voer.

“Wat die FAK beteken vir jong akteurs in ons land is astronomies.”

Só sê akteur en beoordelaar Phillru van Achterbergh.

Dié toneelfees is die enigste tienertoneelfees wat die ongelooflike voorreg het om in die Voortrekkermonument se Senotaafsaal op te tree.

Dillan Bach (17), wat die hoofrol in “Idees” vertolk het, kan nie glo dat hul toneel gewen het nie.

Idees met hoofrol deur Dillan Bach

“Nie net is dit ’n uitmuntende voorreg om op ’n skip ons toneel te kan opvoer nie, maar om dit saam met ons teatermaats Helpmekaar Kollege te kan doen, maak dit net ’n duisend keer beter!”

‘n Einde deur Helpmekaar Kollege

Die akteurs van Hoërskool Hugenote en Helpmekaar Kollege het deur die loop van die kompetisie vanjaar sterk bande gevorm en die ondersteuning tussen hierdie twee skole is opvallend.

Hoëerskool Hugenote

Zonika de Vries, van die toneel “’n Einde”, sê dat dit die bande is wat hulle met ander skole vorm wat tienertoneel so positief maak en vertel van die wedersydse ondersteuning en blydskap wat hulle met mekaar deel.

De Vries sê verder oor die vooruitsig om by die Oppiwater Kunstefees op te tree: “Dis ’n belewenis om na uit te sien!”

Hierdie ongelooflike eer is te danke aan die nuwe samewerking tussen Allegretto Eisteddfod en die bekende Lefra Produksies, wat betrokke is by die Oppiwater Kunstefees.

Die ander toneelstukke wat tydens die finale ronde opgetree het, is Hoërskool Noordheuwel se toneelstuk “Bloedval”, Hoërskool Swartkop se “Ikarus en die sonvanger”, asook Hoërskool Hugenote se “Jon(g)ker”.

Bloedval deur Hoërskool Noordheuwel
Ikarus en Die Songvanger deur Hoërskool Zwartkop
Middernagstad – Hoërskool Noordheuwel

Verder is digitaal ook drie monoloë aan die gehoor gewys, ’n videoformaat “optrede” wat nou ook deel uitmaak van die kompetisie sedert die Covid-19-inperkings.

Een van hierdie optredes was Hoërskool Noordheuwel met “Ont.hou”, opgevoer deur Rico Immelman. Verder ook is “Oogdruppels is nie gemaak om te drink nie” van Hoërskool Zwartkop en opgevoer deur Carla Hugo aan die gehoor gewys en laastens weer Hoërskool Noordheuwel met “Raas” opgevoer deur Karli Marais.

Bertha le Roux-Wahl, wat as beoordelaar van hierdie fees opgetree het, vertel van die ongelooflike groei en passie wat sy gesien het in die jong akteurs.

“Jy kan net sien hoe die kinders groei en hoe hulle blom deur die verloop van die hele proses. Ek is so opgewonde vir toneel in Suid-Afrika!” sê Le Roux-Wahl.

Vir diegene wat ’n passie het vir die verhoog en droom om op die planke te wees, Van Achterbergh se raad aan jou is om nooit op te gee nie.

“As jy glo jy kan dit doen, sal jy dit kan doen. As jy bereid is om te leer en om die ekstra myl te stap, sal jy dit maak.”

Die kultuurbestuurder van die FAK, Henk Maree, spreek sy dank uit teenoor almal wat betrokke was en van die FAK Allegretto Toneelfees ’n sukses gemaak het.

“Die topgehalte van vertonings wat ons in die finaal gesien het, dui vir ons op ’n ongelooflike blink toekoms vir Afrikaanse kunste. Kompetisies soos dié maak dit moontlik om die volgende generasie van Afrikaanse kunstenaars op te lei en te bemagtig om ook sukses te behaal.”

Uitslae met die prysuitdeling:

Beste Kostuums: Helpmekaar Kollege – Vrot – Kobus Botha

Beste Stel: HTS Witbank – Te hel met die maan – Juan Wessels

Beste Tegnies: Hoërskool Noordheuwel – Middernagstad

Beste Verhoogbestuur: Hoërskool Hugenote – Lelieblomlaan – Kayla van Wyk

Beste Beligtingstegnikus: Noordheuwel – Bloedval – Minke Meyer

Beste Klanktegnikus: Hoërskool Hugenote – Jon(g)ker – Dylan Karsten

Beste Ensemble: Hoërskool Hugenote – Idees

Beste Manlike Byrol: Hoërskool Hugenote – Idees – Henlo Meyer

Beste Vroulike Byrol: Hoërskool Hugenote – Idees – Chermelè Wolmarans

Beste Akteur: Hoërskool Noordheuwel – Middernagstad – Connor McGill

Beste Aktrise: DEEL  Helpmekaar Kollege – ’n Einde – Zonika de Vries en Hoërskool Hugenote – Jon(g)ker – Nikita Meyer

Beste Regisseur: Helpmekaar Kollege – ’n Einde – Linda van Niekerk

Beste Leerlingproduksie: Hoërskool Zwartkop – Oberon

Beste Ander (Riller): Hoërskool Noordheuwel – Bloedval

Beste Drama: Hoërskool Noordheuwel – Middernagstad

Beste Komedie: Hoërskool Hugenote – Idees

ALGEHEEL

DERDE: Hoërskool Zwartkop – Ikarus en die sonvanger

TWEEDE: Hoërskool Noordheuwel – Middernagstad

BESTE PRODUKSIE: DEEL – Hoërskool Hugenote met Idees en Helpmekaar Kollege met ’n Einde

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →