Dit is gestroop van voorgee en spesiale effekte.
Peyton Luyt se eerste enkelsnit, BUTTERFLIES, vang die gevoelens en angs van verlief wees perfek vas. Dit is geskryf vanuit die perspektief van ’n geheime bewonderaar en ondersoek die effek wat hierdie ervaring op die persoon het wat nooit kans kry om uiting te gee aan daardie mengelmoes van emosies nie.

Hierdie liedjie is oorspronklik geskryf as deel van ’n klasopdrag wat van leerders vereis het om hulle eie liedjies te skryf en dit is ook die laaste lied wat Dennis East, saam met Sergio Trout, by CTS vervaardig het voordat hy oorlede is. “Op daardie stadium was ek smoorverlief,” erken sy. “Ek het gedink hy te goed vir my en ek was bang om iets te sê of te doen. Die liedjie is deur hierdie ervaring geïnspireer.”
Peyton glo dat BUTTERFLIES aanklank sal vind by luisteraars omdat dit ’n eerlike en opregte liedjie is. “Die meeste van ons was al verlief. Dalk was jy ook soos ek bang om op daardie gevoelens te reageer omdat jy skaam was of nie verwerp wou word nie. Miskien voel jy ook nou dat dinge anders kon wees as jy wel iets omtrent die situasie gedoen het.”
Haar debuut-enkelsnit word gekomplementeer deur ’n oulike musiekvideo wat in die ateljee deur Danie Nel verfilm is. “Ek wou iets natuurlik hê wat mense laat voel asof hulle saam met my in die ateljee is,” verduidelik Peyton. “Nadat ek my idee met hulle gedeel het, het Patrick van Blerk voorgestel dat ons ’n video moet skiet wat vasvang hoe BUTTERFLIES geskep is. Ons het besluit om die ateljee te gebruik sodat niks geforseer of geoefen voel nie.”

Kyk die video hier: https://youtu.be/FXMyIZus5Pw
Sy voeg by: “Ek is opgewonde om my eerste enkelsnit en musiekvideo met luisteraars te deel. Ek voel dat dit ’n wonderlike manier is om myself en my musiek aan hulle voor te stel. Dit is opreg en outentiek, met geen voorgee of fieterjasies nie.”

Aangesien sy haar buiging in die musiekbedryf maak met BUTTERFLIES, het dit ’n spesiale plek in haar hart. Maar daar is ook ander redes hoekom dié lied vir haar uitstaan. “Dit het my blootgestel aan ’n hele nuwe aspek van die musiekbedryf en my die geleentheid gegee om saam met groot name in die bedryf en talentvolle individue te werk,” sê die sangeres. “Ek het baie geleer uit die skryf- en vervaardigingsproses, asook uit die maak van die video.”
Hierdie jong musikant, wat in Oos-Londen woon en tans in graad 10 is, was van jongs af passievol oor musiek. Sy het altyd haar familie vermaak met haar pienk mikrofoon en elektriese kitaar. Te danke aan haar oupa, is sy blootgestel aan verskeie genres en kunstenaars, wat haar passie laat verdiep het.
Sy is al deel van musiekproduksies vandat sy agt is. Dit, buiten vir haar deelname aan verskeie kore en die kerkorkes, het haar musiekvernuf verbeter en haar selfvertroue gebou.
Op die ouderdom van tien het sy begin met klassieke opleiding. Sy het reeds haar graad 5-sertifikaat in Klassieke Sang van Trinity College in Londen en beplan om haar graad 7-kwalifikasie vanjaar te voltooi. Sy kry ook opleiding in opera en die Alexander-tegniek. Verder werk die jong kunstenaar aan ’n popliedjie om haar repertoire uit te brei en beplan sy om ’n kortspeelplaat vry te stel in die nabye toekoms. “Sing is ’n manier om myself uit te druk en dit maak my oor die algemeen gelukkig,” sê sy.

Hoewel Peyton ’n wye musieksmaak het – haar speellys sluit alles in van Tchaikovsky tot rock en Afrikaans – probeer sy haar bes om nie beïnvloed te word deur ander kunstenaars se klank nie. “Ek wil oorspronklik wees. Wanneer mense na my luister, wil ek nie hê hulle moet iemand anders hoor nie,” deel sy.
Buiten vir musiek en skoolwerk, geniet Peyton ook die dramatiese kunste en is sy mal daaroor om vertonings by te woon – van ballet tot simfonieë, opera en verhoogproduksies. Sy is ook ’n selferkende boekwurm. “Ek lees basies enigiets wat ek in die hande kan kry, veral romanne wat in ander tydperke afspeel. Verder hou ek van teken en verf en om saam met my ma te bak. Sy is ’n meester in die kombuis.”
Dié opkomende jong ster erken dat sy meer as net haar ma se uitsonderlike kookvernuf bewonder. “My ma is my rolmodel. Sy het my nie net die geleentheid gegee om musiek te maak en my drome te bewaarheid nie, maar my ook gewys wat dit is om hard te werk vir wat jy wil hê.”

BUTTERFLIES is ’n hartroerende debuut-enkelsnit wat met die hart praat. Dit is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier: https://linktr.ee/woowi
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/Peytsings
Instagram: @peyt_sings
TikTok: @peyt_sings
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UC7y25FQBlJkAfWbpIs92t3w

PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Alani Coetsee
Sel: 072 442 6918
E-pos: alani@starburstmusic.co.za
Webwerf: www.starburstmusic.co.za