JP ZEELIE BEÏNDRUK MET TWEE NASHVILLE-STYL KONTEMPORÊRE COUNTRY-ENKELSNITTE EN ’N KORTSPEELPLAAT

Die begaafde 36-jarige musikant, JP Zeelie, was nog nooit iemand wat dinge op die gewone manier doen nie en sy musiek is geen uitsondering nie.

Daarom het hy besluit om die musiekmark nie net met twee indrukwekkende enkelsnitte te betree nie, maar ook met ’n kortspeelplaat wat by die beste internasionale vrystellings kan kers vashou.

COLLIDE is ’n Nashville-styl kontemporêre country-snit, uit sy eie pen, oor twee mense wat bedoel is vir mekaar, maar wat deur hulle verskillende wêrelde uitmekaar gehou word.

“Dit is ’n storie van ’n ou wat in verwondering op sy foon kyk, omdat hy uiteindelik die meisie se nommer het wat hy gedink het buite sy bereik is,” verduidelik hy oor dié besonderse lied wat uit die staanspoor aan jou hartsnare sal tokkel. “Tog het hy nooit hoop verloor nie, omdat hy besef het dat dit hulle verskillende wêrelde is wat hulle uitmekaar hou en dat hulle ware droom eintlik mekaar is.”

Hy verklap verder dat die laaste versie geskryf is vir diegene vir wie dit uitwerk en wat mekaar bo hulle verskillende wêrelde kies.

“Dis vir my ’n baie spesiale liedjie, omdat dit die eerste een is wat ek met die publiek deel en die begin van my musiekloopbaan is. Ek dink COLLIDE gaan met tyd meer en meer op mense groei, net soos wat dit ook op my het.”

Met sy tweede vrystelling, EYE OF THE STORM, wil hy luisteraars aanmoedig om nie moed op te gee nie en aan te hou hoop.

Dis ’n kontemporêre country-liedjie met ’n geestelike aanslag wat hy self geskryf het in ’n tyd waarin hy self baie teleurstellings beleef het.

“In die klein kamertjie waarin ek op daardie stadium gebly het, het ek een middag my kitaar opgetel en ’n melodie begin speel wat die tema geword het van die liedjie. Daarna het ek probeer om my ervaring in lirieke vas te vang. Die koorgedeelte het eers later gekom,” vertel hy. “Die liedjie beskryf hoe ons almal deur moeilike oomblikke gaan, want dis deel van menswees. In daardie tye van chaos, is daar altyd ’n kern in die storm waarin daar absolute vrede is. Ek het besef dat waarin jy glo vir jou ware vrede kan bring. As dit nie doen nie, is dit seker nie die waarheid nie, want die waarheid bring vrede. Elke storm het ’n kern. Mag jy joune vind. Vir my was dit geloof.”

Dié snit wat kan kers vashou met internasionale treffers, is deur Sunset Recording Studios vervaardig, en gaan beslis met harte praat omdat almal by die boodskap sal aanklank vind en baie van ons hoop nodig het in die tye waarin ons vandag leef.

“Dis ’n ervaring om na te luister, veral op goeie klank, en lekker om dit vir mense te sing. Die liedjie verbaas my nou nog,” verduidelik die sanger en liedjieskrywer.

EYE OF THE STORM en COLLIDE vorm beide deel van ’n spesiale kortspeelplaat, getiteld Close to You, wat bestaan uit vyf van die beste snitte uit sy arsenaal van moderne country-musiek.

Dié kortspeelplaat spog met ’n kontemporêre klank, maar daar is ook iets nostalgies en klassiek daaraan wat dit baie uniek maak.

“Ek wou graag die mark betree met iets wat oorspronklik en opreg is. Daar is kommersiële klanke met besonderse produksies daar buite, maar ek wou graag intree met die eenvoud van my kitaar, stem en goeie liedjies wat enige plek gesing kan word. Dis vir my belangrik dat ’n liedjie sy kern moet behou, ongeag of dit op ’n akoestiese kitaar om die kampvuur of saam met ’n orkes op ’n groot verhoog gespeel word.”

JP, wat tans in Glentana woon, het in Polokwane grootgeword en kom uit ’n musikale huis. Sy pa is ook ’n musikant wat in die 90’s gereeld optredes gedoen het wat hy as seun bygewoon het.  

Reeds van jongs af, het hy geweet dat lewendige musiek met kitare en dromme is wat sy hart laat vinniger klop. Nadat hy op universiteit sy eerste bokskitaar gekry en homself leer speel het, het hy en sy broers die groep Sweet November (waarvan Riaan Benadè deel was van 2016 tot 2017) begin en opgetree vir sakgeld, en die res is geskiedenis.

Alhoewel die musikant eers ’n jaar gelede die musiekmark professioneel betree het, is hy al vir jare doenig in die bedryf en het hy in 2011 deelgeneem aan seisoen sewe van Idols en die kykNET-realiteitsreeks, Die Sanger, in 2012. Hy het ook onlangs by die Winterfees in Limpopo opgetree saam met groot name soos Brendan Peyper, Franja du Plessis, Elandré en meer.

Verder spog dié veelsydige man ook met ’n kommersiële vlieglisensie. Wanneer hy nie op die verhoog is nie, gee hy vliegopleiding in die Kaap en geniet hy dit om tyd te spandeer in die buitelug.

Hy hou van musiek waarby hy aanklank vind en het groot bewondering vir kunstenaars soos Elvis Blue, Arno Carstens, Jesse Clegg, Riana Nel, Riaan Benadè, Roan Ash, Bruce Springsteen, Chris Stapleton, Kip Moore, Patrik Droney en Zach Brown.

Dit is vir hom belangrik om oorspronklik te wees en goeie verhoudings te bou, omdat dit vir jou goud werd kan wees.

Tans skryf hy aan nuwe materiaal en is hy besig om ’n band bymekaar te sit waarmee hy die land vol wil toer.

Daar is min plaaslike kunstenaars wat dit regkry om country-musiek te bemeester, maar JP Zeelie slaag beslis in hierdie doel op geestelike en sekulêre vlak. “Vir my is EYE OF THE STORM ’n ware storie van hoop en dankbaarheid. As ek nie die kitaar opgetel het en geloof gehad dat dié liedjie my plekke sou vat nie, was ek seker nou nog vasgevang in ’n wêreld van teleurstellings. Ek hoop om met COLLIDE en die res van my werk weer die egtheid van musiek uit te bring en vir luisteraars meer te gee as net ’n lekker wysie,” sluit hy af.

Albei liedjies en die kortspeelplaat is nou aanlyn beskikbaar. Kry dit hier:

EP:

Apple Music: https://music.apple.com/za/album/close-to-you-ep/1640707726?ls

Spotify: https://open.spotify.com/album/4d87cVKNkKb7A6eieRhlal?si=hvPESkfFTfWg_92Vzm25dg&utm_source=whatsapp

Collide Enkelsnit:

Apple Music: https://music.apple.com/za/album/collide-single/1615449026

Spotify: https://open.spotify.com/album/2Bc0IDBsNXGBpoFXfFERjD

LYS VAN SNITTE OP DIE KORTSPEELPLAAT

Close to You

Sometimes

Eye of the Storm

When I Think of You

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/jpzeelielive

Instagram: @jpzeelielive

YouTube: http://www.youtube.com/channel/UCGOXxG_59ARy7gwimV8VyTg

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Alani Coetsee

Sel: 072 442 6918

E-pos: alani@starburstmusic.co.za

Webwerf: www.starburstmusic.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →