MULLER BRANDT SING OOR ’N LEKKER JAGNAWEEK IN NUWE ENKELSNIT.

Kort op die hakke van die uitreiking van sy eerste solo-album en sy oorwinning in Ontbytsake se liedjieskryfkompetisie, is Muller Brandt terug op almal se lippe met ’n lekker sekulêre treffer oor vriende wat saam plaas toe gaan om te jag.

WILDEBEES, wat hy saam met Jattie de Beer geskryf het, is gebaseer op sy eie plaas-ervaring op sy swaer se plaas in All Days en beskryf hoe elke man van nature ’n wildebees in hom het.

“Dis ’n lekker humoristiese skoffelliedjie, wat jou voete sal laat jeuk om te dans,” sê hy oor sy tweede Afrikaanse enkelsnit.

Die musiekvideo, wat op Sikilele-plaas geskiet is en wys hoe ’n klomp stadsjapies op die plaas kuier en leer hoe alles werk, sal binnekort op die kassie te sien wees.

“Jy hoef nie goed te wees in alles om ’n wildebees te wees nie, is die boodskap wat ek graag met dié video wil tuisbring,” verduidelik Muller.

Wildebees vorm deel van sy debuut-album, Brand die Skepe, en volg in die voetspore van Moedertaal wat baie goed ontvang is en speeltyd op groot radiostasies regoor die land geniet.

Die lied is ook die temalied van die avontuur program op VIA, Wildebees, wat ook ‘n baie gewilde klere handelsmerk is.

Muller Brandt het in Pretoria grootgeword en werk al twaalf jaar in die musiekbedryf. Sy pa se liefde vir country-musiek het sy passie vir sing laat vlam vat en hy het nog nooit afgewyk van sy droom om ’n voltydse sanger te wees nie.

Dié dertigjarige kunstenaar meen dat Theuns Jordaan die grootste invloed gehad het op sy eie styl, maar vind ook aanklank by musikante soos Kris Kristofferson, Johnny Cash, Elvis Presley, Boney M, Bryan Adams, Bon Jovi, John Mellencamp, Neil Diamond en Luke Combs.

Hy verklap dat hy reeds besig is om liedjies bymekaar te maak vir sy volgende album, maar vir nou sien hy eers uit om ’n blaaskans te vat aan die einde van die jaar en tyd met vriende en familie te spandeer.

WILDEBEES is op sy album op alle digitale platforms beskikbaar. Kry dit hier: https://MullerBrandt.lnk.to/BrandDieSkepe

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/mullerbrandtmusiek
Instagram: @c.muller_brandt
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCKOMzywnRRb12apdm5Ftbiw

PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Gizela Sharim
Sel: 083 399 6869
E-pos: gizela@starburstmusic.co.za
Webwerf: www.starburstmusic.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →