Gʼn maan van kaas; dis ʼn Melkmaan Taalmonument se Volmaanpiekniek eer ons daaglikse suiwel.

Met nóg ʼn jaar wat einde se kant toe staan, is dit die perfekte tyd om asem te skep en die volmaan van nader te bekyk op ʼn heerlike somersaand op die pragtige Paarlberg. Daarom nooi die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se vriendelike personeel almal hartlik uit om hierdie natuurlike verskynsel op Vrydag, 11 November 2022, met hulle te aanskou.


Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek aan die Melkmaan gewy – dit verwys na die feit dat suiwel nog altyd ʼn belangrike bron van proteïene vir onder meer die Khoekhoen was. Dit is vars en gefermenteer aan besoekers aangebied, en in die voorbereiding van kos asook die maak van botter gebruik. 

Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én toeriste, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Gaste kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument, ʼn simboolgelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. ʼn Gratis begeleide toer om dit alles te verduidelik, vind om 18:30 plaas. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing en tydelike uitstallings te verken; daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Genoeg veilige parkering is gratis beskikbaar.

Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ʼn piekniekmandjie by die ATM Koffiehuis via 082 216 2510 of info@atmkoffiehuis.co.za te bestel – hierdie koffiewinkel sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Onthou warm klere en ʼn flits.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders, derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke ter ondersteuning te skenk.

Toegang is R40 per volwassene, R10 vir SA studente, pensioenarisse en kinders, en gratis vir kinders onder 6 jaar asook jaarpermithouers. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se geletterdheidsprojek vir kinders, en besoekers word versoek om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk. Meer oor die Sentrum vir Astronomiese Erfenis by https://cfah.org.za. Die volgende Volmaanpieknieks is op 10 Desember (met Kersvader!) en dan op 7 Januarie, 4 Februarie en 4 Maart in 2023.

•    Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die ATM Koffiehuis bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →