Taalmonument gasheer vir geleentheid van pret, gesellig eet en ʼn bietjie sweet, Aandwedloop samel draf-draf geld vir palliatiewe sorg in.

Met die groeiende uitdaging om die lewensgehalte van pasiënte met lewensbedreigende siektes, asook hul gesinne, te verbeter, is dit nou die tyd om draf-draf (of stap-stap) geld in te samel vir die Drakenstein Palliatiewe Hospies. Boonop is talle medaljes en kontantpryse op die spel wanneer die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), Historium Trust, Drakenstein Palliatiewe Hospies en Paarl Atletiekklub se pretgelaaide Aandwedloop op Woensdag, 7 Desember 2022, op die beeldskone Paarlberg plaasvind. 



Soos altyd kan deelnemers en ondersteuners staatmaak op die perfekte piekniek- en kuierplekke by die monument, waar tydelike uitstallings asook ’n avontuurlike speelgrond en buitelugspeletjies wink. Boonop kan almal hierdie ikoniese monument vir een van Afrika se jongste tale gratis verken en bewonder. Maak ’n heerlike aand daarvan: bring ʼn piekniekmandjie of bestel een vooraf by die ATM Koffiehuis op 082 216 2510 (WhatsApp). Dié koffiewinkel sal ook verversings en pizza te koop aanbied. Bring ʼn kombers/kussings en onthou ook asseblief warm klere en ʼn flits.

Die 10km-Aandwedloop, wat ingevolge die reëls van Atletiek Suid-Afrika en Boland Atletiek aangebied word, begin om 18:30; dit volg ʼn opwindende en uitdagende roete op teer- en grondpaaie. Die vooraf inskrywingsfooi is R100 (R110 op die dag) en tydelike nommers (vir diegene wat nie lede van ʼn atletiekklub is nie) is beskikbaar teen R50. Die gesellige 5km-Woordloop, wat om 18:45 begin, is gemik op die hele gesin – selfs stootwaentjies is welkom! Die vooraf inskrywingsfooi is R60 (R70 op die dag) en deelnemers skryf in met ’n prettige Afrikaanse woord in stede van ʼn nommer. In beide gevalle is stappers is ook welkom, dus daar is g’n verskoning om nie gesond, goed en vrygewig te voel nie. 

Deelnemers kan op drie maniere inskryf: aanlyn vóór 4 Desember 2022 om 00:00 by www.topevents.co.za (info@topevents.co.za), by Drakenstein Palliatiewe Hospies en die Taalmonument (daagliks vanaf 08:00 tot 16:30) asook op die dag van die wedloop self tussen 16:00 en 18:15. Toegang is gratis vir ondersteuners. Vir navrae oor die 10km-Aandwedloop, kontak Lucky Mokwena op mokwena1@icloud.com of 084 826 5895, en vir navrae oor die 5km-Woordloop, kontak Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za

Meeste palliatiewe sorg in Suid-Afrika word uitsluitlik deur privaatinstellings aangebied, en Drakenstein Palliatiewe Hospies is in 1991 deur ‘n klein groep vrywilligers gestig is om hierdie gemeenskapsdiens te verrig. Hulle versorg gemiddeld 230 pasiënte met lewensbedreigende siektes in hul huise per maand, en bedien die hele Drakenstein-distrik van Saron tot Simondium, insluitend al die dorpe, landelike gebiede en informele nedersettings. Hul sorgspan verseker dat pasiënte en hul gesinne van die beste gehalte palliatiewe sorg voorsien word en met waardigheid sterf. Die doel is om lyding te voorkom en te verminder deur middel van vroeë identifikasie en deeglike assessering, en deur die pyn en ander probleme wat met die siektes verband hou op ’n fisieke, psigososiale en geestelike vlak aan te pak. Meer inligting  by drakensteinhospice.org.za of 021 872 4060.

•    Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die ATM Koffiehuis bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte.




About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →