Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) meen die Vrystaatse provinsiale departement van sport, kuns, kultuur en rekreasie wil glad nie befondsing bewillig om erfenis te bewaar nie, maar gebruik eerder hul geld vir groot partytjies.

Die Valke het die week beslag gelê het op dokumente van dié departement in Bloemfontein wat handel oor die Macufe-kultuurfees. Luidens mediaberigte is die tender vir die fees al vir ’n hele klomp jaar aan een maatskappy, C-Squared, toegedien.
Die deposito vir die één fees is byna 10 keer die begroting vir die ses provinsiale museums vir die hele jaar.
Die provinsiale begroting om dié ses museums in die provinsie te onderhou, is sowat R1,5 miljoen. Die fees se deposito van 75% vir slegs vanjaar is R14 miljoen.
Die onbehoorlike toekenning van fondse deur die provinsiale regering dui daarop dat die departement geensins waarde heg aan die bewaring van ons land se onvervangbare erfenisskatte nie.
Die Vrystaatse provinsiale regering gee onvervangbare erfenisskatte, waaraan daar nie ’n randwaarde gekoppel kan word nie, prys vir een naweek se feesvieringe. Dit is vir die FAK glad nie verbasend dat die polisie se spesiale eenheid, die Valke, beslag gelê het op die dokumentasie in die kantoor van die LUR nie en daarom verwelkom die FAK die ondersoek wat die Valke nou doen op die jaarlikse fees.




Die FAK het vroeër vanjaar ’n beroep gedoen op die Vrystaatse provinsiale regering om geld te bewillig om die Ou Presidensie te herstel. Dié departement het aanvanklik gesê dat daar geen befondsing vir die broodnodige herstelwerk is nie. Die departement het wel later R50 000 bymekaar kon skraap wat net meer as die helfte is vir die eerste fase se herstelwerk.
Die nodigste herstellings aan die lekkende dak beloop R91 000 en die FAK het ook reeds meer as R10 000 ingesamel tot die herstelprojek.
Die dak is in 2012 in geheel vervang, maar weens swak onderhoud en die versuim om behoorlike instandhoudingswerk te doen oor die laaste tien jaar, is die skade wat aangerig is onberedderbaar en is daar ook strukturele skade aan die dak en vloer aangerig.




Erfenisskatte soos ’n Persiese tapyt wat aan president MT Steyn behoort het, is ook ernstig beskadig weens die versuim aan instandhoudingswerk.
Die Provinsie se erfenis stort in duie, maar daar is geld vir feeste.
Vir die FAK is die bewaring van erfenis topprioriteit.
As jy ’n erfenisbewaarder wil wees, is dit nóú die tyd. Klik op die skakel en wys jou steun om die presidensie in Bloemfontein te restoureer. https://www.fak.org.za/presidensie-in-bloemfontein/

Besoek skakel hierbo vir inligting oor Gelofte week.