Elke keer as ’n hart na ‚n operasie spontaan onder sy vingers begin klop is dit asof hy in dáárdie oomblik die absolute wonder van die Skepping kan waarneem.

Dit is ook een van die redes waarom dié bekroonde klassieke sanger en kardiotorokale chirurg, dr. Wilhelm Lichtenberg, verlede jaar Young Hearts Africa, wat poog om deur middel van musiek aan kindertjies weer ’n gesonde hartklop te gee, gestig het.
Wilhelm het ook twee oud-rugbyreuse, Corné Krige en John Smit, genader om as ambassadeurs vir die stigting op te tree. Daarbenewens het hy verlede jaar saam met die kitaarlegende Brian May, van die rockgroep Queen, die lied Who Wants To Live Forever opgeneem. Met behulp van dié bekende name en vele ure se swoeg en sweet, is daar genoeg fondse ingesamel om ’n hele paar kinders se hartjies weer warm te laat klop. Dit kos sowat R200 000 om ’n hartoperasie uit te voer en fondse is baie beperk.
„Ons is uiteindelik waar ons wil wees en ek is baie opgewonde om die volgende groot stap in ons veldtoghierdie week met die wêreld te kan deel,” sê Wilhelm.
Twee liefdadigheidskonserte, waar hy die verhoog sal deel met van die kunstenaars wat met hom op die album meegewerk het sal deel, word in die komende twee weke onderskeidelik in Kaapstad en Centurion aangebied.
Tydens diè geleenthede gaan hy ook sy tweede vollengte album Sacred Heart, wat nie net digitaal, maar ook as ’n CD uitgereik word, bekendstel. “Die opbrengs uit alle CD- en digitale verkope gaan aan die stigting geskenk word. Op diè manier gaan ons kinders se harte weer gesond maak.”
Hy beskou Sacred Heart as ’n heilige, geestelike album, en ook ’n ideale kersgeskenk wat die jaar onder die kersboom kan beland. Daar is agtien snitte op die album, waarvan vier snitte in Afrikaans is. Hy sê hy is baie trots op die finale produk en is tevrede met al die snitte. Elke lied is om ‚n spesifieke rede gekies en die repertoire is met groot sorg en oorweging aanmekaar gesit.
Hy kan nie regtig ‚n gunsteling snit noem nie, maar om sentimentele redes, is twee liedere wat hy saam met sy twintigjarige dogter Maria, ‘n tweedejaar student op Stellenbosch, opgeneem het die twee wat vir hom uitstaan. Lichtenberg sê dit laat sy vaderhart absoluut swel van trots.
’n Ander lied wat veral vir hom uitstaan is I Believe wat hy saam met Esté Gross opgeneem het. “Ek is al jare vertoud met haar as omroeper op radio, maar ek het onlangs eers op haar buitengewone sangtalent afgekom. Haar stem het my onmiddelik bekoor en ek is oortuig sy gaan nog ‘n baie groot naam vir haarself maak. Dis ‘n stem waarop ‘n mens verlief kan raak.”
Wilhelm het sowat drie jaar gelede ’n duet Die Taal van My Hart, saam met die sanger en liedjieskrywer, Stef Bos, opgeneem, en sy gelyknamige debuutalbum, waarop die duet ook verskyn het, is ook in 2020 vir ’n SAMA-toekenning vir beste klassieke album genomineer. Iets wat bykans ongehoord in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is.
Nou het hy weer sy stem saam met die van Stef gevoeg en die resultaat is Koos du Plessis se Gebed – ’n bekende liedjie wat verwerk en verpak is om nuwe diepte en ’n eiesoortige interpretasie te bring.
Volgens Wilhelm is Sacred Heart ’n projek deur Suid-Afrikaners vir Suid-Afrikaners. “Ek het nie my op hierdie album my hand aan my eie lirieke gewaag nie, maar uit die uiters talentvolle pen van my vriend en kollega Dr Marius Steyn, is ‚n unieke Afrikaanse teks vir die Ave Maria, geskoei op die Intermezzo uit die opera Cavalleria Rusticana, gebore. Kyk veral uit vir die lied Anker My op die album. Dis uiters spesiaal!“
Van ons land se beste musikante en kunstenaars het deel geword van die projek.” Die snitte op dié album is almal bekend, maar danksy die fenomenale verwerkingsvermoeëns van die geniale Riaan Steyn en die samewerking van o.a. die Kaapse Filharmoniese Orkes, die Tygerberg Kinderkoor, Die Suid-Afrikaanse Jeugkoor, Die Soweto Gospelkoor, die Bloemfontein Mannekoor en die Kaapse Walliese Mannekoor, het die majestieuse ambisie van die album tot sy reg gekom.
Benewens die boostaande betrokke groepe, het die soprane Britney Smith, Sian Atterbury, Elsa Klopper en Sibongile Mngoma, die baritons Conroy Scott en Barend van der Westhuizen, asook die bekende TV persoonlikheid en sanger Katlego Maboe, luister aan die abum help verleen.
Ander snitte op die album sluit onder meer in ‘n uiters kragtige, dog gevoelvolle vertolking van die Our Father, O Heer my God, Plea for Africa, Wees stil en weet en Sunset poem.
Wilhelm is ’n ambisieurse kunstenaar en was nog nooit bang om “ongewone” projekte an te pak nie. Benewens die projek saam met Brian May, het Healthcare Heroes, wat hy in samewerking met die Kaapse sopraan Britney Smith, en die twee bogenoemde jeugkore vervaardig het, wêreldwyd opslae gemaak en die musiekvideo het bykans ’n driekwartmiljoen unieke kykers op sosiale mediagekry. Die lied is eweneens die pennevrug van die uiters begaafde Steyn.
Wilhelm het gedurende sy studentejare aan die Universiteit van die Vrystaat trompet in die simfonieorkes van die Vrystaatste Kunsteraad gespeel het. Eers nadat hy as hartchirurg gekwalifiseer het, het hy sangstudies onder die befaamde mezzosopraan Violina Anguelov begin.
Onder haar bekwame leiding het sy stem in ’n ryk stygende tenoor ontwikkel wat hom in staat stel gestel het om klassieke sowel as kontemporêre genres met moeitelose, suiwerheid te bemeester.
Sy nuuste projek is soos ’n wynversnit, waar die klassieke genre smaakvol en elegant grense oorsteek om dit op plekke meer kontemporêr vir die moderne luisteroor te maak.
