NUWE SKITTERENDE EN INSPIRERENDE ENKELSNIT WORD VRYGESTEL DEUR PETRONEL BAARD: ‘STERREDAK HEELAL’

Petronel Baard se nuutste musiek vrystelling, ‘Sterredak Heelal’,wat op 18 November vrygestel is, se storie strek terug na 23 Desember 2021, toe sy en Helena Marais vir die eerste keer paaie gekruis het. Dis in daai serendipitiese oomblik wat hulle dadelik aanklank gevind het met mekaar op die noot van musiek. Nie lank daarna nie, het die twee hul kreatiewe sterrestof gekombineer en sodoende ‘n nuwe, skitterende musiekprojek geskep in die samesmelting van Helena se melodie en lirieke en Petronel se engelstem.  

‘Sterredak Heelal’ is ‘n viering van die siklus van die lewe – vanaf die verwondering vir die wêreld as kind, tot die ontnugtering wat almal op ‘n latere stadium ervaar. Die lewe is kort en báie korter as wat ons dink, moet dus nie dat teleurstellings jou onderkry nie – sien dit eerder as ‘n leerkurwe en iets wat ons kan help om die goed en mooi op ons paaie soveel meer te waardeer. Ek het destyds besef dat ek ‘n liedjie gehad het wat in my laai lê en so het ‘Sterredak Heelal’ gestalte gekry die dag toe ek Petronel vir die eerste keer ontmoet het. Baie dankie Petronel Baard vir hierdie avontuur – ek kon nie gevra het vir iemand meer perfek om hierdie liedjie vlerke te gee nie!” – Helena Marais 

Helena Marais en Petronel Baard

Die enkelsnit se musiekvideo word amptelik op 3 Desember uitgesaai op ‘n eksklusiewe premiere tydens KykNet se Ontbytsake program asook op Petronel se YouTube kanaal hier: Petronel Baard

“In 2022 se begin het ek gebid vir nuwe vlerke, musiek uit iemand anders se pen waar ek ‘n slag my pen kon neerlê en net my sangtalent kan uitleef. Die volgende dag bel Helena Marais my, met haar liedjie ‘Sterredak Heelal’ wat toe nog ‘n ander naam gehad het. Ek was mal daaroor, het dit aangeleer en so het ons begin gestalte gee aan hierdie pragtige produk wat so stukkie van ons altwee se siele simboliseer. Uiteraard het hierdie ‘n gesamentlike projek en produksie geword waarby ons albei nou betrokke is by élke stap en wat gebore is, is niks minder as besonders nie. Van die konsepsualisering van die opname self, opname proses, wie ons betrek, die video, vrystelling, elke fyn detail, is in pragtige aanvullende samewerking gedoen met die ongeveinsde sinirgie wat net Goddelike inspirasie kan bring. Kunswerke van die lewe en my voorreg om mee te werk, dankie Helena!” – Petronel Baard  

Oor die projek vertel beide: 

“Die musiekvideo is geskiet in Klein-Brakrivier – waarlik dié lekkerste projek met die mees uiteenlopende, kreatiewe mense saam! Aan ons ander talente, Anrich Herbst, Erica Wessels, Wilmar en Annalie Marais – baie dankie vir jul pragtige toneelspel en geesdrif! Verdere dankies aan Loki Rothman by Rothman Records vir die klankvermenging en vervaardiging van die lied, John Rogers al die pad in die VSA vir die meester van die klank, Efpe Senekal  vir die musiekvideo se maak, Mordegai’s Photography vir die ongelooflike foto’s en Reach Creative vir die grafiese ontwerp. Baie dankie ook aan Spin City Publicity wat ons publisiteit en bemarking behartig. 

SONY DSC

Laaste maar nie die minste nie, dankie vir almal se liefde en ondersteuning deur die loop van die projek – vir julle is ons bitter dankbaar!”

Die lewe is bittersoet onder hierdie Sterredak Heelal – daarom vier ons alles wat mooi en eg is saam met alles wat ons is. 

Olka Bolka het ‘n onderhoud gedoen met legendariese Petronel:

Vertel ons lesers waar jy gebore en grootgeword, waar bly jy tans?

Ek is gebore in Riversdale toe my ouers in Heidelberg, Kaap gebly het onder die arms van die “Sleeping Beauty” (bekende baken in die berge daarom). Ek bly in Reebok naby Mosselbaai. 

Wat het jy na Matriek gedoen?

Vir een jaar Rekenaar Sekretariëel gaan studeer wat my handig te pas gekom het sover in my werk as sanger en kulturele entrepreneur. Daarna het ek my Drama graad aan die US voltooi en was in my Honneurs jaar vir dit, toe ek ATKV-Crescendo gewen het en as kunstenaar voltyds begin werk het. 

Wat doen jy behalwe musiek?

Ek is ‘n kulturele entrepreneur wat beteken dat ek baie teater en kunsontwikkeling doen saam met my voltydse loopbaan as musikant. Ek dien bv. nou ‘n tweede termyn as lid van die Weskaapse Kultuur Kommissie. 

Vertel my van jou nuutse enkelsnit?

“Sterredak Heelal” is een van my absoluut gunsteling vrystellings nog. Ek het begin van die jaar gebid om iemand anders se musiek te sing, ‘n jonger perspektief te deel toe Helena Marais my genader het om te kyk na die liedjie wat toe opgeneem en verwerk is deur Loki Rothman met insae deur Helena. My stemwerk is deur Deon Scheepers in Mosselbaai opgeneem. Ons het gemeester deur John Rogers van Las Vegas, VSA en dit Vrydagaand 18 November “Oppiradio” saam met Haidee Muller-Isaacs bekend gestel. Die musiekvideo is verfilm deur Efpe Senekal in Kleinbrakrivier waar die lied geskryf is ook en die akteurs Anrich Herbst en Erica Wessels speel onder andere daarin. Dit word Saterdag 3 Desember op Ontbytsake op KykNET bekendgestel. 

Skryf jy self jou liedjies?

Ek skryf baie van my musiek, “Gelukwaarts” is een van my eie wat op Erfenisdag vrygestel is en baie goed ontvang is sover, ek toonset ook musiek. Ek skryf ook my eie vertonings soos my projek “‘n Blom in Elke Vrou” wat tydens die “Lock-downs” gebore is en nou al twee jaar toer. Ek hou egter ook van “collaborations” soos hierdie nuutste enkelsnit toon.  “Sterredak Heelal” is vir ons almal ‘n veer in die hoed en in beide integriteit en kommersiële waarde, sterk. Ek glo ek en Helena gaan nog verskeie projekte saam aanpak. 

Is daar ‘n liedjie wat vir jou uitstaan wat jy opgeneem het?

Hierdie nuutste enkelsnit, “Sterredak Heelal” is baie besonders en soos ek sê een van my sterkste vrystellings nog, daar is gewis nog, maar dit vat tans die koek. Mens gaan deur fases met musiek en daar is ‘n tyd vir alles. 

Wat verkies jy om Afrikaans of Engels te sing?

Ek is passievol oor Afrikaans en sing en skryf graag daarin, ek is net so gemaklik met Engels. 

Vertel ons van jouself in ‘n neutedop?

Ek wou al sing en optree van kleins af en het in die Overbergse strate van Villiersdorp rondgehardloop en my verbeel die lewe is een groot, verhoog. In ‘n mate is dit. Ek is getroud, het nie kinders nie, maar ons het katkinders. Ek lewe vir my werk, is ‘n kunstenaar in murg en been. My uitganspunt is egter om mense op te hef en dit beteken ek is ook diepsinnig en filosofies van denke, wat my uitgangspunt as uitvoerende kunstenaar voer. 

Wat is jou gunsteling Musiek genre?

Ek is baie lief vir Jazz, blues en neig deesdae meer in ‘n lig klassieke rigting, maar “Sterredak Heelal” het weer die liefde vir die rock genre oopgemaak! Ek is ook gaande oor die Afrikaanse luisterliedjie beweging wat steeds groei. 

Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?

Ek is ‘n oop boek, wat jy sien kry jy.

Wat inspireer jou?

Mense en ons dinge, “Life” en die musiek in die wind. Stilte inspireer my, mooi dade, goeie mense, liefde, Afrikaans. 

As jy saam met enigeiemand in die wêreld kan sing, wie sal dit wees en hoekom?

Diana Krall, ek doen reeds ‘n “tribute show” van haar musiek. Ook Marizá, die Fado sanger van Portugal, ongelooflik! 

Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?

Ek het oor die jare verskeie vertonings opgebou waarmee ek jaarliks toer:

“Musiek van die Lang Vrou” wat my solo vertonings is en verskeie vorme aanneem. 

“Verdubbel die Geluk” saam met Stef Kruger.

“Triptruuk” saam met Stef Kruger en Soetmelk waarmee ons slegs een keer per jaar toer, fantastiese vertoning. 

“‘n Blom in Elke Vrou” saam met my orkes wat my hartsproduksie is. 

“Gelukwaarts” saam met die Mosselbaai Strykensemble em Suidkaap Kinderkoor is nuut op die horison, ons tree die eerste keer lewendig saam op in April 2023. 

Ek het ook ander projekte en musiekopnames wat voorlê.  Vir nou egter, is my fokus op “Sterredak Heelal” wat ek glo mense baie gaan geniet en by ‘n wye gehoor aanklank gaan vind. Dit sal ook nog uitspruit in ander projekte en optredes, tyd sal leer. 

Gaan jy bietjie toer en optredes doen gedurende die feestyd, gee 

asseblief plekke en datums waar mense na jou kan gaan luister.

Die grootste datum in Desember vir my is die 3de Desember wanneer ons video op Ontbytsake bekendgestel gaan word. 

Ek tree op by Peperboom in Grootbrakrivier (4 Desember en dan weer 22 Januarie wat eintlik uit die Feestyd val), hou Oujaar saam met Riku en Jackie Lätti in ‘n privaat partytjie in Kleinbrakrivier en speel ook in ‘n Pantomime by Pinacle Point naby Mosselbaai saam met hul Kunsvereniging van 21 tot 23 Desember. Mense kan op my webtuiste kyk asook sosiale media vir meer informasie. 

Ek vat tussendeur eintlik bietjie af om batterye te herlaai vir 2023 wat weer ‘n vol, nuwe jaar is. 

Wat is op jou emmerskoplys? (Bucket List)

Wêreld vrede. 

Wanneer verjaar jy?

12 April

Wat is jou gunsteling:

Tipe Musiek

Smooth Jazz, Afrikaanse luister-liedjie, Blues, Fado…die lysie raak nou weer te lank. 

Sangers

Annie Lennox, Diana Krall, Nina Simone, Mariza…and many more. 

Band

Soetmelk en SkallaBrak 

Gunsteling liedjie

Sterredak Heelal 

Rolprent

Dirty Dancing 

Akteurs

Patrick Swayze (daar is ‘n storie om die antwoord, lol). 

Reeks

All Creatures Great and Small (pragtig)!! 

Kos en drankie

Craft Gin en my eie slaai konkoksies

Ontspanning

Swem, stap, kuier met vriende, lees

Boek

Sonstorie (Mardene Marais se gedigte) 

Vakansie bestemming

Boggomsbaai of Warmwaterberg naby Barrydale, my hart verloor in Aghulhas onlangs ook.

Kleur

Groen

Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge.

Valsheid, mense wat gelyk met my praat, om te warm te kry en pyn.

Waar kan mense jou kry en volg?

Webtuiste: https://petronelbaard.com/

Enskelsnit Vrystelling skakel: https://petronelbaard.hearnow.com/sterredak-heelal

Instagram: @petronelbaardmusic

Facebook: https://af-za.facebook.com/petronelbaardofficial/

Twitter: @PetronelBaard

Spotify:

https://open.spotify.com/artist/4J1h9siHxQN6QFm1WVwpOG?si=phim8jmGT0KUVCmci8kGQg

YouTube: Petronel Baard

Apple Music: https://music.apple.com/us/artist/petronel-baard/769276911

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →