
Kniel
Jy gooi jou woorde argeloos
op die ashoop van my siel.
Jy kyk nie waar dit val nie,
jy weet,
ek sal,
noodgedwonge,
moet kniel
om hulle op te tel.
Daar lê hulle en verrot
vir jare lank,
met die stank
van wanhoop,
wat om hulle vou . . . . .
Soms kom iemand verby
en vra –
Hoe gaan dit nog met jou ?
Partykeer kom n mossie
om bo – op die gemors te sit
Pik nuuskierig hier en daar,
maar,
word gou naar
van die sleg . . . . . .
Vlieg dan vínnig weg
van die rou,
wat oor is –
na jou . . . . . .



Hoekom ?
Party blommetjies groei
in ander mense se pad.
Party blommetjies is geplant
vir ander mense
om op te trap
tot hulle bloei . . . . . .
Later kom
die mense terug,
en sug –
en sê . . . . . . .
Hoekom
is hulle so dóm
om in die pad te groei ?

