VOETSPORE…

Vissersvrou

Ek is n Vissersvrou,
wat in die oggend vroeg,
met my hande wroegend
voor my bors gevou,
op die strand,
wag vir jou.

Gaan jy terugkom ?
O Here, asseblief !
Bewaar hom veilig –
hou hom vas !
Ek het hom só lief !
Sal U hom asseblief
beskerm en oppas ?

Afgesonderd in jou smeking-
eensaam in jou smart,
staan elke vrou alleen
en wag en smeek,
met n krimpende hart,
dat die dag moet breek.

Jou liggaam word oud,
jou siel is koud
van angs.
Jou lippe word stom,
terwyl jy binne
wroeg en pleit
en skreeu . . . . .
en later dom –
eenvoudig smeek –
Here, wees asseblief by hom !

Genoeg

Mense EER
gaan my nie aan nie.
Ek gee nie om
om ALLEEN te staan nie.

Ek wil nie hê
mense moet van my WEET
Ek gee nie om
as mense my VERGEET !

My kom en gaan
is maar n rimpeling
in die Oseaan
van die Lewe . . . . .

As ek iewers – net íewers,
iemand se bestaan
verbeter
verryk
verhef,
om te besef
waaroor alles WÉRKLIK gaan . . . . . .

is ek bly.
Dit is GENOEG vir my.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →