Taalmonument deel die gees van gee met Vader Krismis, geskenke en volmaanpiekniek

Om die druk op hom te verlig, het Kersvader wéér besluit om solank vooraf geskenke uit te deel tydens die gewilde Desember-volmaanpiekniek by die ikoniese Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) op Saterdag, 10 Desember 2022. 


ʼn Beeldskone aand met kindervermaak, speelparke en buitelugspeletjies vir die jongspan, asook ʼn sonsondergang gevolg deur ʼn volmaan, beloof om die dag in ʼn onvergeetlike geleentheid te omskep. Gaste word aangemoedig om die omgewing en die simboliekgelaaide beeldhouwerk te verken. Omdat die piekniekreeks ten bate is van ‘Laat ons Lees!’, die ATM se geletterdheidsprojek, word besoekers aangemoedig om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk.

Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ʼn piekniekmandjie by die ATM Koffiehuis via 082 216 2510 of info@atmkoffiehuis.co.za te bestel – hierdie koffiewinkel sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Onthou warm klere en ʼn flits; genoeg en veilige parkering is beskikbaar.

Toegang is R40 per volwassene, R10 vir SA studente, pensioenarisse en kinders, en gratis vir kinders onder 6 jaar asook jaarpermithouers. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en besprekings is onnodig. Die hekke open reeds om 17:00. Kinders kan gratis hul gesigte laat verf totdat die kindervermaak om 18:00 afskop wanneer die geliefde kulkunstenaar Glenn McMeeking die jongspan en ouers met sy ongelooflike towerkuns vermaak. Om 19:00 behoort Kersvader sy opwagting te maak om presente uit te deel, dus ouers moet asseblief hul kinders se duidelik gemerkte geskenke teen 18:00 in sy Kerskous in die Besoekersentrum besorg. Die geleentheid sal tot 22:00 duur. 

Die volgende volmaanpieknieks is op 7 Januarie, 4 Februarie en 4 Maart in 2023. Meer oor McMeeking by
www.facebook.com/glenn.mcmeeking/.

•    Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die ATM Koffiehuis bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte.

Jeffrey Pietersen
Assistent: Geleenthede en Kommunikasie
Assistant: Events and Communication
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument
T +27 (0)21 872 3441
F +27 (0)86 231 7324/+27 (0)21 872 3642
E bemarking2@taalmuseum.co.za 
W www.taalmuseum.co.za | www.taalmonument.co.za
F www.facebook.com/afrikaansetaalmonument
T www.twitter.com/taalmonument
www.instagram.com/taalmonument
Y www.youtube.com/user/taalmonument1

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →