Sedert luisteraars bykans drie dekades gelede met Jeanette Pretorius se heuningstem kennis gemaak het, het sy diep in musiekharte ingekruip. Sy het ook keer op keer bewys dat sy een van Suid-Afrika se veelsydigste sangeresse is.

Nou, na bykans twee jaar van kinderliedjies skryf en die kleingoed vermaak met die stroopsoetstemmetjie van Bee Bee die By, ’n kinderkarakter wat sy aan die begin van die grendeltydperk geskep het, het Jeanette ’n volwasse pop-enkelsnit, Trots Afrikaans, uitgereik.
En die lirieke – het net soos beurtkrag in die duister van die nag – opgedaag. Die melodie het saam met die lirieke ontvou en die resultaat is ’n speelse liedjie wat die draak steek met hedendaagse dinge soos beurtkrag, Charlize Theron se “vermetelde mening” dat daar net 44 mense is wat Afrikaans kan praat, en musiek wat soms so laf en los in ons lewens ronddans.
Die liedjie handel oor die positiewe dinge in die lewe, boere wat planne maak “al staan hulle agter in die ry,” ’n vleisie op die vuurtjie as die krag weer af is, en redes waarom ons nog kan lag.
Jeanette vertel dat sy lank met skrywersblog gesukkel het en dat sy om die dood nie ’n ligte, kuierliedjie kon skryf nie. “Die kinderliedjies het maklik uit my pen gevloei; dit was ook maklik om emosioneel belaaide liedjies te skryf, maar ek was nie lus om weer ’n liedjie te skryf wat aan emosies karring nie. Ek glo dat Suid-Afrikaners die afgelope paar jaar deur diep waters is en nie die lus het om na ’n geween en gekners van tande te luister nie; daarom wou ek nie ’n liedjie skryf wat oor die knelpunte van die dag handel nie. Mense wil van die werklikheid ontsnap, en net laf wees en dans.”
Trots Afrikaans se lirieke het ook net eendag by Jeanette kom aanklop. “Die woorde het maklik gekom en ek het besef dat ek met die liedjie Suid-Afrikaners kan moed gee en laat besef dat ons sterker is as wat ons dink ons is. Ons kan ook met geloof alles in die lewe – van beurtkrag tot misdaad – oorwin.”
Trots Afrikaans is ook ’n liedjie wat ons inspireer om trots te wees op ons taal, “want dit is die bloed wat deur ons are loop,” sing Jeanette in dáárdie soet stem wat al keer op keer vir haar ’n toekenning in die sak gebring het. As ons aan Afrikaans dink, dink ons aan boerewors, Mannetjies Roux, ’n wintervakansie in die bosveld, smeltende roomys op Balito se strand en ’n braai, slaai en ’n musikale lawaai. Dit is alles wat ons Afrikaans en Suid-Afrikaans maak.
Dié snit is net so prettig soos ’n mallemeule rit by Gold Reef City; jou kop gaan knik, jou voete gaan ruk en jou lyf gaan saam met die musiek pluk.
Trots Afrikaans lui die nuwe jaar met ’n knal in en die snit sal by oud en jonk byval vind.
Die snit kan afgelaai word by Trots Afrikaans – Jeanette Pretorius (sten.to)
