VOETSPORE…

ASSEBLIEF

Gee asseblief aan my n potskerf,
om my sere mee te krap.
Stuur asseblief honde
om my wonde te lek . . . . .

Groei asseblief n besembos
waaronder ek kan lê
en as ek opstaan – sê
asseblief vir my
hoe ver ek moet stap . . . . .

Stuur asseblief n walvis om my in te sluk
en op die regte plek
weer néér te sit !

Laat asseblief n Samaritaan
by my stop – om my óp te tel
met wyn en olie
vir my vel !

Laat hy my vertel
HÝ het vir my betaal –
ek moet gereed maak –
HY kom my haal !

Raak my asseblief aan
sodat ek weer kan staan !
Gee my asseblief krag
om aan te gaan !

SKERWE

Ek lê op die ashoop
van my lewe . . . . .
My liggaam is vol sere.

Daar is niks oor –
geen lag
geen lus
geen strewe.

Droeë blomme
verbrokkel tot stof,
eers blink sterre
deur trane verdof.

Ek soek tussen die stukke –
is daar iets soets –
iets moois
wat ek kan onthou,
waaraan ek vas kan hou ?

Ek kry net krummels
en dooie as
van drome
wat ek gedink het was !

Een ding staan vas !
Ek weet
U het my níe vergeet !

Liewers met my Vader
op die ASHOOP
as met Satan
in sy paleis !

My Vader, wat ek dien,
sal op die regte tyd
die regte potskerf
en hond voorsien,
want HY is sáám met my
op hierdie reis !

HEMELBROOD

Vader, gee my asseblief
U Hemelbrood
sodat ek 40 dae
en 40 nagte
kan loop.

Help my
om vas te staan
as die wind
en die aardbewing
en die vuur
oor my gaan.

Wys my
wanneer om uit te gaan
Wys my
waar om voor U te staan.

Bedek my aangesig
met U
mantel van Lig.

Maak asseblief my oë oop
en stroop my
van eiebelang
sodat ek gehoorsaam
U pad kan loop.

Dankie
dat ek U mag dien !
Dankie
dat ek dag en nag
U Grootheid
Mag
en Krag
mag sien !

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →