DAVID FOURIE GEE NUWE LEWE AAN BEKENDE DONNA SUMMER-TREFFER

David Fourie het beslis geen bekendstelling nodig nie. Sedert hy in 2002 sy buiging op die SA IDOLS-verhoog gemaak het, het hy diep spore in die plaaslike musiekbedryf getrap en kan hy spog met ’n hele rits treffers, hoogtepunte en toekennings.

Hy was nog altyd ’n kreatiewe siel, wat dit geniet om uit die boks te dink, en sy nuutste enkelsnit, ON THE RADIO, is ’n goeie getuigskrif van hoe hy dit regkry om sy unieke stempel af te druk op elke projek wat hy aanpak.

Hierdie herskepping van die gewilde Donna Summer-treffer, wat vervaardig is deur Marius Brouwer en Dirk van Niekerk, kombineer elemente van soul-, disco- en popmusiek op ’n unieke en moderne manier en sal beslis aanklank vind by diegene wat lief is vir sy musiek.

“Ek is ’n groot aanhanger van Donna Summer en die disco-/ soul-era. Daarom het dit vir my, as musikant, baie genot verskaf of nuwe lewe in hierdie liedjie te blaas en dit op die radio vry te stel,” verduidelik hy. ON THE RADIO is natuurlik elke sanger se droom en dit neem my terug na my kleintyd in die platteland toe ek graag my liedjies oor die radio wou hoor.”

Foto Krediet aan Liza-Marie Fourie

’n Musiekvideo van hierdie besonderse verwerking is ook nou beskikbaar. Dit is in Johannesburg verfilm, met Pierre Smith aan die stuur, en sluit ’n mengsel van ateljee- en buitelug-beeldmateriaal in.

“Die video vertel ’n storie van wat gebeur wanneer jy ’n lied oor die radio hoor wat jou herinner aan ’n verhouding wat jou ’n les geleer het, en nes jy dink jy het aan beweeg hoor jy weer iets wat alles terugbring,” deel die musikant.  

“In die video word ek uitgebeeld as hierdie netjiese sanger wat sing en klavier speel saam met die radio, asook as my growwer getatoeëerde alter ego,” verklap hy. “Daar is ook ’n toneel van ’n meisie wat dans op die dak en emosie weergee. Die beelde pols soos wat golwe op die radio ook maak maar ook hoe jou emosionele golwe op en af gaan.”

Volgens hom is die boodskap dat musiek (veral oor die radio) ’n geleier is vir die siel omdat dit golwe van herinneringe en emosie terug bring, goed of sleg.

Kyk die video hier: https://youtu.be/iDHe-8YsNHo

ON THE RADIO volg in die voetspore van talle groot radiotreffers, waaronder Ek Wil Jou Ken, Kaboemielies, Hou My Vas Stywer Vas, My Hart Het Klaar Besluit, Jy Soen Soos ’n Engel, Vandag Maak Ek Jou My Vrou en vele meer.

David sing al vandat hy ses jaar oud is en wou nog altyd ’n musikant wees. Hy het die mark amptelik in 2002 betree nadat hy ’n finalis was op die Suid-Afrikaanse weergawe van die musiekprogram, IDOLS.

Kort daarna is sy eerste album, Land in die Suide, uitgereik waarvoor hy in 2003 ’n SAMA-benoeming ontvang het.

Oor die jare het hy verskeie loopbaanhoogtepunte bereik, waaronder openingsvertonings vir Westlife gedurende hulle Suid-Afrikaanse toer en om uitgenooi te word om as spesiale gas by die Eurovision-sangkompetisie op te tree in 2011. Hy het ook die wenliedjie, Running Scared, opgeneem wat ’n groot treffer in Suid-Afrika was. Verder het hy ook al die voorreg gehad om die Suid-Afrikaanse, Australiaanse en Skotse volksliedere te sing tydens toetsrugby. 

Dié 42-jarige Vrystater woon tans in die Kaap saam met sy lewensmaat, Shaun. Hy spog met ’n graad-ses-musiekkwalifikasie van Unisa en was deel van die Bloemfonteinse Kinderkoor, wat in Duitsland en Switserland opgetree het.

Hy het ook op ’n kol in Nieu-Seeland gewoon, gewerk en opgetree, voordat hy onlangs weer teruggetrek het Suid-Afrika toe.

David sou graag ’n sjef of ’n koskenner wou wees as hy ’n ander beroep moes volg en hy moes op een stadium verslankingsprodukte verkoop om te oorleef toe hy in Indië gebly het. 

Die musiekbedryf het hom geleer dat dit soms goed is om ’n blaaskans te vat en weg te tree uit die kollig om jouself opnuut te ontdek en te vernuwe. 

Hy werk ook as ‘n kreatiwiteitsbestuurder vir ’n maatskappy in Nieu-Seeland en maak Engelse studiemateriaal vir kinders regoor die wêreld. Hy is ook besig om sy eie fiksheidsklerereeks te ontwikkel en gee musiekles vir kinders met gestremdhede.

Sy planne vir 2023 sluit heelwat nuwe musiek in en hy beplan ook om aanlyn ’n liedjie op te neem saam met kinders in Auckland, wat op die spektrum is en met fisiese uitdagings sukkel.

ON THE RADIO is ’n knap verwerking van ’n ou gunsteling, wat luisteraars lank sal bybly en jonk en oud sal bekoor.

Dié besonderse herverwerking van ’n gewilde treffer is simbolies van hoe David ook konstant besig is om homself te vernuwe, want elke gewilde treffer verdien dit immers om soms ’n nuwe baadjie aan te trek.

“Die liedjie is regtig ’n samevatting van my sterkpunte: my stem, klavierspel, kreatiwiteit, ritme en emosie en dit is ’n herdenking wat erkenning gee aan ouer genres soos disco en soul,” sluit hy af.  

Hierdie snit is nou beskikbaar op digitale platforms. Kry dit hier: https://li.sten.to/ontheradio

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/davidfouriepage/

Instagram: @davidfourinsta 

Twitter: @mydavidfourie

TikTok: David Fourie

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Gizela Sharim

Sel: 083 399 6869

E-pos: gizela@starburstmusic.co.za

Webwerf: www.starburstmusic.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →