Murphy stel sy tweede enkelsnit, Ons sal jou nie vergeet vry.

Vyf maande nadat die Kaapse sanger Murphy sy debuutenkelsnit, Dans soos ’n kind, uitgereik het,  is hy terug met sy tweede enkelsnit, Ons sal jou nie vergeet.

Murphy sê dié enkelsnit is opgedra aan DG en Duhan – twee jongmense wat té voortydig die tydelike met die ewige verwissel het.  Hulle dood was ook die inspirasies vir die snit wat as droewige rou-rock beskou kan word.

Temas van dood, vergetelheid, ontroosbare ouerharte en onsterflikheid word kaalvuis aangepak en die deksel word gelig oor onderwerpe waaroor die mensdom nie graag wil praat nie; die dood van ’n kind.

Murphy, wat al sowat drie dekades in die musiekbedryf doenig is,  het ’n ritmiese pen in die opsig dat liriek en musiek sinchroniseer. 

Hy het reeds twaalf liedjies geskryf, maar het besluit om dit oor die volgende paar jaar as enkelsnitte uit te reik.

Murphy is self ’n ouer en beide Dans soos ’n kind en Ons sal jou nie vergeet fokus op “dinge en drome van kinders.”  In sy nuutste enkelsnit staan kinderdrome, wat deur voortydige dood gekniehalter is, veral prominent.

Murphy het die afgelope paar jaar vir hom ’n sterk luistermark oopgesing en sy ondersteuners geniet veral sy dreunende tenoorstem wat pasknap vir die lirieke is.

Dans soos ’n kind  sou seker as ’n metafoor vir die woelige weskuswinde beskou kan word, dit is ’n op-en-wakker liedjie wat die luisteraar dinge deur die oë van ’n kind sou laat raaksien.

Ons sal jou nie vergeet  weer ’n metafoor vir onsterflikheid; deur middel van foto’s en sosialemediaplatforms word die wat ons verlaat het onsterflik. Ons kan hulle op video’s hoor praat, hoor lag en hulle stories onthou. Tog is die liedjie nie net droewig nie, maar dit handel ook oor positiewe houdings, glimlagte. Dit laat ons nadink oor ons eie lewens.

Murphy vertel dat die liedjie uit ’n sterwende seun se Facebook-plasings gebore is. “ ’n Ou kennis se seun is met ’n terminale siekte gediagnoseer en ek het sy reis op Facebook begin volg. Hy het ’n vegter se gees gehad, ’n postiewe houding en ’n breë glimlag wat self ou Jack Frost se hart sou laat smelt. Ek het hom nooit ontmoet nie, maar sy lewensreis het my geïnspireer. Dit het vir ’n ruk lank goed gegaan, maar hy is net skielik oorlede. Ek was onkant gevang deur sy dood, stomgeslaan.”

“Terwyl ek nog besig was om Duhan se skielike dood te verwerk het my ma my ook laat weet dat my niggie se enigste seun in ’n motorongeluk oorlede is. Hy was net 24 jaar oud.  Ek het ook nooit die voorreg gehad om hom te ontmoet nie, maar ek deur sy Facebook-blad geblaai, na die foto’s gekyk. Hy was lief vir mense, lief vir diere.”

“Ek kon my niggie se onbeskryflike pyn aanvoel en wou probeer om die pyn in musiek te verewig. Die trane, woorde en musiek het gevloei. ’n Ouer bly ’n ouer en ek dink nie dáárdie verlore gevoel wat ’n kind se dood agterlaat sal ooit verdwyn nie.”

Murphy is met karpale tonnelsindroom gediagnoseer en kan vir ’n paar jaar glad nie sy kitaar se snare pluk nie. Karpale tonnelsindroom is sekerlik enige musikant se nagmerrie, want die belangrikste simptome is pyn en gevoelloosheid in die duim, wysvinger, middelvinger en halwe ringvinger.  “Ek het gelukkig nou volkome herstel en ek kan weer die kitaar witwarm slaan,“ glimlag hy.

Murphy gaan met dié liedjie ’n paar nuwe aanhangers werf. Hulle sal aan sy lippe en woorde hang soos bye aan ’n stroopsoet blom.

Ons sal jou nie vergeet  is deur Darryl de Lange (’n voormalige lid van Mean Mr. Mustard) van Musicology Studios opgeneem en vervaardig.  

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →