
KLIPPE
Klippe praat – klippe sing !
Klippe vertel ons
van die Skepping
se DAERAAD.
Klippe weerspieël
die KRAG
en ALMAG
van die Skepper.
Klippe is boeke
wat oop voor ons lê,
onhoorbaar verkondig hul
dit wat Vader
aan ons wil sê.
Klippe is Vader se papier,
waarop Hy skryf
hoe ons moet lewe
hier op aarde.
As ons swyg –
sal die klippe dit uitroep !
n Klip onder Sy Kop –
n Klip voor die Graf.
12 Klippe uit die Jordaan
12 Klippe wat vandág nog staan !
5 Klippe het Dawid
in sy hand gehou –
genoeg GENADE
vir my en jou !
Jakob se klip –
n teken van Vader se Verbond.
“EK het gekom om
julle gesond te maak.”
Mense TRAP op klippe.
Mense STAP oor klippe.
Mense GOOI mekaar met klippe . . . . .
Klippe is soos blomme
wat op die grond lê.
As jy mooi kyk –
SIEN jy wat hulle sê . . . . .
Klippe bring ons
in die Koningstad in.
Soos fonteine spuit
Sy Heerskappy
uit die klippe uit !
Die klippe klap hande
en juig Sy Koningskap uit !
n Vaste ROTS
wat ewig staan,
is die Hoeksteen
en Sy Naam
is Malki – Tsedek.



MOEË PELGRIM
Ek is n moeë Pelgrim
op REIS,
maak my n voetstoel
in U PALEIS.
My oë is op
die blink Môrester,
HÝ sal die pad
vir my wys !
Geen berg te hoog –
geen dal te diep –
geen stroom te sterk !
Ek sal my vingers
vir U deurwerk !
Vasberade – alleen,
stap ek hierdie pad.
Geen kamerade
om my hand te vat.
Niemand wat sien
as my voet swik,
niemand wat hoor
as ek roep.
Net U, ALLEEN,
wat my lot beskik.
Ek is n moeë Pelgrim
op REIS . . . . .
Vader,
ek sien die Paradys voor my !
Wys my hoe
om vinnig en veilig
daar te kom !
Ek is dom
en het U so nodig !
Ek sien die strate van goud,
daar, waar niemand oud word nie !
Baie waters van rus,
vir n Pelgrim soos ek,
wat so ontséttend moeg is !

