DeWet Meiring se Wat is ’n man dan sonder ’n pa? is ’n lekkerluister, liedjie en mense wat ook al ’n pa verloor het, sal hierby aanklank vind.

Die sanger van Nigel DeWet Meiring het in 1996 op ’n wonderbaarlike manier die dood ontkom nadat hy in ’n baie ernstige motorongeluk betrokke was. Sy gesig was vergruis en na twee dae is hy breindood verklaar.

Na drie weke in die intensiewe eenheid en maande in die hospitaal en konstruktiewe chirurgie is hy huis toe gestuur.

Bykans 27 jaar later onthou hy steeds die visioen wat hy gehad het terwyl hy in ’n koma was: Reuse engele, van tussen ses en sewe voet, wat opgevaar het na die hemel. Die engele was soos soldate aangetrek – met gepantserde oorlogsdrag en het lofliedere gesing.  

“God het vorentoe gebuig en die soldate het soos bye teenoor Sy grootheid gelyk. Ek kon net die oneindige liefde in Sy oë sien toe hy gesê het: ‘Ek het jou sien spartel in jou bloed,  staan op en leef voort.’ Net na dit het ek wakker geword uit die koma,” vertel DeWet op die vooraand van die uitreiking van sy jongste enkelsnit, Wat is ’n man dan sonder ’n pa?

Ek het nooit ’n musiekloopbaan oorweeg nie, maar iets het soos ’n kanker aan my gevreet, iets wat my aangekla het: Ek moes my storie met mense deel.”

“Ek was nooit iemand wat ’n pastoor of prediker sou kon wees nie. Ek het vir God vir ’n teken gevra. Ek het ’n musiekwinkel binnegestap en ’n weldoener het die kitaar vir my gekoop. Ek het in daardie stadium nog nooit eers ’n noot op die kitaar gedruk nie.”

DeWet het kort daarna  begin om bekende sangers se liedjies te ontleed om sodoende die styl van liedjieskryf te verstaan, en het homself ook leer kitaar speel.

Gedurende 2011, nadat ’n mede-sanger, Jacques G, hom gevra het om by CD-bekendstelling ’n paar liedjies te sien, het sy paaie met dié van die sanger en liedjieskrywer Warren Elliott gekruis.  So is die sanger DeWet (sy regte naam is eintlik Sean) is in 2012 gebore en hy het op die verhoog, tussen mense, sy musiek en storie begin deel.

Hy kon nog altyd maklik oor die gebeure in sy lewe gesels (of eerder sing). Om liedjies te skryf het so natuurlik soos die vloei van ’n waterstroom gekom, maar om ’n liedjie oor sy pa se kort stryd teen maag- en  beenkanker was vir hom bitter ink om in die pen te doop…

Na sewe jaar van trane, rou en pyn het die liedjie Wat is ’n man dan sonder ’n  pa? uiteindelik op papier vorm aangeneem en nou is hy uiteindelik ook gereed om die liedjie met sy ondersteuners te deel.

“My pa is op 26 Oktober 2015 – vyf dae voor my troudag – na ’n kort siekbed oorlede. Ek het gesukkel om woorde vir dié liedjie te vind, want elke keer as ek begin skryf het, het die hartseer en herinneringe van sy stryd teruggekeer.”

Nadat die woorde op papier begin sin maak het, het hy dit by die wêreldbekende musiekvervaardiger, sanger en realiteitsster, Ernie Bates, se ateljee opgeneem. “Dit was baie emosioneel,” vertel hy oor die proses.

Die eindresultaat is ’n country-popgedrewe volwasse kontemporêre snit wat hy aan sy beste vriend, vertroueling en pa opgedra het. Dié persoon wat hom altyd met raad en daad bygestaan het.

Hy sing dat daar nou ’n groot leemte in sy lewe is, want “’n man is niks sonder sy pa nie.”

Hy is in Beaufort-Wes gebore, maar het sy laer- en hoërskoollopbaan in Kaapstad voltooi.  Na al die jare in die Kaap het hy, sowat sewe jaar gelede, na Gauteng verhuis.

“Ek glo dat die provinsie meer musiek- en optrede geleenthede vir ’n sanger en musikant bied.”

Hy het al saam met bekende sangers soos  Manie Jackson, Wynand & Cheree Strydom, Pierre Rossouw, Stephan Visagie, Hugo Nieuwoudt, Wynand Windpomp, Maroela Boom, Cordelia, Warren Elliott, Desmond Wells , Gert Koevert en  Dirk van der Westuizen opgetree.

Hy beskryf homself as ’n persoon wat ’n omgee-hart het en sal sy behoeftes altyd tweede stel. Dit is ook waarom hy al ’n hele paar jaar vir KANSA ondersteun. Hy is ook ’n ambassadeur vir die Hartpomp Foundation, ’n organisasie wat kinders met hartdefekte help. Wat is ’n man dan sonder ’n pa? is ’n lekkerluister, radiovriendelike liedjie en mense wat ook al ’n pa verloor het, sal hierby aanklank vind.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →