Dit is al ‘n geruime tyd dat die sanger, Johan Anker, stoele laat draai het in 2017 met The Voice SA. Vandaar het hy homself stewig gevestig in die Afrikaanse Inspirasie- en Gospelmusiekindustrie. Die sanger met die groot stem is tans weer terug met sy unieke weergawe van die gospelsnit, Die Seën.

Dit is ‘n Christelike lied wat oorspronklik in Engels geskryf en gesing is deur Cody Barnes en Kari Jobe, getiteld The Blessing. Dit is toe in Afrikaans vertaal en gesing deur Riana Nel en Retief Burger.
Johan verklap: “Die lied is ‘n gebed en ‘n seënwens wat jy uitspreek oor iemand. Die lirieke is meestal gebaseer op Numeri 6: 22-27. Dit herinner ons dat ons God vir ons is en dat Hy ‘n God is wat ‘n verwagting vir ons wil skep.”
Die lied sal altyd ‘n baie spesiale betekenis vir Johan hê. Die sanger vertel dat voor sy pa se afsterwe in Augustus 2021, het hulle gereeld die lied saam geluister. Die kunstenaar se pa het kommentaar gelewer oor die kragtige lirieke en dat dit die gebed is wat ons daagliks oor ons gesinne moet bid.
Die musiekvervaardiger, Sean Butler, het die kunstenaar genader om ‘n opname van Die Seën te doen as ‘n passieprojek te maak. Johan het al gereeld saam met Sean gewerk en het dadelik ingestem om deel te vorm hiervan, omrede hul albei ’n liefde het vir die lied as gelowiges.
Die tydsberekening was perfek. Johan wou die lied graag opgeneem vir sy toekomstige kortspeelplaat en Sean wou die produksie van die lied doen as ‘n passieprojek.
Wat die lied nog meer spesiaal maak, volgens Johan, is dat drie van die matrikulante vir wie hy skoolgehou het, die agtergrondstemme op die lied is. “Dit was ook lekker om hulle betrokke te kry en te wys wat hulle meneer nog doen!”
Johan het ook die vrystellingsdatum sorgvuldig gekies as die 4de November, omrede sy pa se verjaarsdag op die 5de November was. Hy verklap: “In my drome sien ek hom van daar Bo af luister met ‘n glimlag.”
Die Seën is Johan se vierde enkelsnitvrystelling, buiten vir sy album, en volg in die voetspore van treffers soos Hoop en Bid, Soldaat en Ek Belowe (ft. Sasha-Lee Davids), wat nie net goed ontvang is op die radio nie, maar waarvan die musiekvideo’s ook deur duisende mense op YouTube gekyk is.
Wanneer die Oos-Kapenaar nie besig is om musiek te maak nie, hou hy ook sy lyf akteur, aangesien hy met ’n BA-graad in Drama van Stellenbosch spog, waar hy onder die leiding van bekende regisseurs soos Marthinus Basson kon leer. Hy was ook al op die kassie te sien in ’n glimprol in een episode van die eerste seisoen van die kykNET-reeks, Boland Moorde.
Tans is hy besig om aan nog musiek te werk vir ’n album op ‘n kortspeelplaat en beplan hy om nog lank in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf doenig te wees.
Olka Bolka het in ‘n onderhou met Johan bietjie meer oor hom uitgevind
Vertel ons lesers kortliks wie is jy?
My naam is Johan Anker, ek is Inspirasie en Gospel Kunstenaar wat op die ouderdom van 9 al begin sing het. Ek het groot geword in Port Elizabeth, waar ek as Hoofseun gematrikuleer het by die Hoërskool Andrew Rabie. Ek was ook vir ‘n kort rukkie deel van die Drakensberg Seunskoor en het al van jongs af geweet wat ek wil doen.
Hoe het jy in die musiekbedryf begin?
Ek was raak gesien vir my talent in die Kerk en my ouers was aangemoedig om my te laat sanglesse neem. Ek het so al singend groot geword en selfs ‘n Klassieke Sang Sertifikaat Program gevolg by Stellenbosch Universiteit. Hierna het ek Johannesburg toe verhuis in die hoop om n sangloopbaan na te streef. Ek het toe aan Die Voice SA deelgeneem en dis waar ek werklik begin het in die musiekbedryf.
Wat geniet jy die meeste van wat jy doen?
Ek geniet dit om my passie met ander te deel. Ek maak musiek met die hoop dat dit mense nader sal bring aan God, maar ook dat dit hulle sal inspireer en nuwe hoop gee. As my musiek dit kan doen, en ek die geleenthede het om my passie op die verhoog met ander te deel is ek op my gelukkigste.
Wat doen jy behalwe musiek?
Ek is ook tans ‘n voltydse Engelse Onderwyser by die National School of Arts. Ek geniet dit ook om te skilder en my lyf akteur te hou.
Vertel my van jou nuutse enkelsnit?
Die lied se naam is Die Seën. Dit is ‘n Christelike lied wat oorspronklik in Engels geskryf en gesing is deur Cody Barnes en Kari Jobe, getiteld The Blessing. Dit is toe in Afrikaans vertaal en gesing deur Riana Nel en Retief Burger.
Die lied is ‘n gebed en ‘n seënwens wat jy uitspreek oor iemand. Die lirieke is meestal gebaseer op Numeri 6: 22-27. Dit herinner ons dat ons God vir ons is en dat Hy ‘n God is wat ‘n verwagting vir ons wil skep.
Skryf jy self jou liedjies?
Ek het al tot dusver drie van my eie liedjies geskryf of help skryf wat vrygestel is. Ek het nog ‘n hele notaboekie vol wat ek met tyd sal vrystel.
Is daar ‘n liedjie wat vir jou uitstaan wat jy opgeneem het?
Soldaat, sal altyd een van my gunsteling liedjies wees wat ek opgeneem het. Die eenvoudige rede is dat ek dit self geskryf het en dit werklik n temalied van my lewe is. Die lirieke handel oor weer opstaan elke keer wat jy val en besef dat jou krag van die Here alleen kom.
Wat verkies jy om Afrikaans of Engels te sing?
Afrikaans dis die taal van my hart.
Wat is jou gunsteling Musiek genre?
Ek geniet Meestal Christelike Kontemporere Musiek soos Hillsongs, Phil Wickham, Brandon Lake en Kari Jobe. Dan geniet ek ook Afrikaanse Musiek, veral kunstenaars soos Corlea, Riana Nel, Demi Lee Moore en Jo Black. Ek hou daarvan as musiek stories vertel.
Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?
Ek het werklik ‘n ongelooflike groot liefde vir diere, veral honde. Soms dink ek, ek is liewer vir diere as mense!
Wat inspireer jou?
As kind van die Here, is my grootste inspirasie altyd Sy woord en die liefdes opoffering wat Jesus vir ons was. Ek vind inspirasie in Sy skepping en al die werke van Sy hand.
As jy saam met enigeiemand in die wêreld kan sing, wie sal dit wees en hoekom?
Wel ek sou bitter graag met my Pa wou sing, net nog een keer, maar hy rus tans in die Hemel. Ek het my sangtalent eintlik van hom gekry. Maar as ek ‘n persoon moes kies op Aarde sal dit verseker Mariah Carey wees, my pa en ek het altyd haar kersalbum geluister en saam gestem dat sy een van die beste sangeresse is wat nog geleef het.
Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?
Ek sal graag wil aanhou sing en optree, en hopenlik as dit die Here se wil is ‘n kortspeel album digitaal vrystel met nuwe musiek .
Watter raad sal jy gee aan iemand wat pas in jou industrie begin het?
Moenie bang wees vir hard werk nie, dis nie so “glansryk” soos wat mense dink dit is nie. Jy sal baie keer, jou eie speakers moet dra, jou klank instel ens as jy net begin. Daar is nie ‘n maklike kaartjie tot sukses nie. Mens moet aanhou probeer en glo in jouself. Ook, wees jouself, moenie ander kunstenaars probeer namaak nie, wees die beste musikant wat JY kan wees.
Wat is die onvergeetlikste/snaaksste voorval wat jy al in jou besigheid beleef het?
Een van die hoogtepunte vir my was toe ek by KKNK een jaar die Oorwinningslied gesing het en ‘n gehoor van 3000 mense soos een man opstaan en die lied hardop saam sing. Dit gee my steeds hoendervleis om daaraan te dink.
Wat is op jou Bucket List?
Ek sal baie graag Israel toe wil gaan en loop waar Jesus geloop het. Ek sal ook graag Europa wil sien, veral Oostenryk, Duitsland, Frankryk en Prague.
Wanneer verjaar jy?
27 November 1992
Wat is jou gunsteling:
Musiek : Christelik Kontemporer.
Sangers: Internasionaal: Brandon Lake, Phil Wickham, Josh Groban, Mariah Carey, Whitney Houston
Plaaslik: Demi Lee Moore, Riana Nel, Corlea, Jo Black
Band: Hillsong Worship
Gunsteling liedjie: Goodness of God deur Bethel Worship
Rolprent: The Greatest Showman
Akteurs: Meryl Streep, Angela Bassett, Leonardo di Caprio, Henry Cavil
Reeks: Ek is mal oor realiteitsprogramme soos sangkompetisies, soos The Voice, Die Kontrak ens.
Kos en drankie: My ma se tuisgemaakte boerekos en dan en wan ‘n knertsie rooiwyn.
Ontspanning: Om met my twee honde te speel of the Gym.
Boek: Ek kry werklik min tyd vir lees, omrede ek so baie opstelle merk, maar ek maak tyd vir Bybel lees as dit mag tel! Verder geniet ek Deon Meyer se boeke of biografiee.
Vakansie bestemming: Port Elizabeth, dis waar my huis is, my ouers, my mense.
Kleur: Rooi
Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge.
Enige iemand wat n dier of kind sleg behandel. Eks baie beskermend oor kinders en diere. Arrogansie, Laat Aande ( Ek is ‘n oggend mens) en Narre.
Composer: Kari Jobe/ Codi Carnes/Steven Furtick/
Chris Brown/ Charles Noke/ Riana Nel
Retief Burger
Publisher: WMG (on behalf of Coleske Group (Pty) Ltd
ISRC: ZADGR2200174
VOLG HOM OP:
Facebook – https://www.facebook.com/JohanAnkerArtist en
Instagram – @johananker_
VIR MEER INLIGTING OOR DIE ENKELSNIT EN KUNSTENAAR, KONTAK:
Christien de Klerk: Christien@embracethebrand.co.za