Onvergeetlike laatmiddag met jazz en piekniek wink laat jou siel rus en jou voete dans by die Taalmonument

Die ryk Suid-Afrikaanse en inderdaad Afrika-jazztradisie is die strelende fokus van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se soel sonsak-piekniek op Saterdag, 25 Februarie 2023 wanneer bekende jazzsterre hulde bring aan dié musiekstyl wat in die vasteland en haar mense gewortel is. Chadleigh Gowar se orkes beloof om die gehoor op ‘n musikale reis te neem terwyl die son agter die ikoniese monument wegsmelt.


Die res van die talentvolle en ervare groep bestaan uit Ramon Alexander op die klavier, Heinrich Isaacs op die saksofoon asook bekendes soos Ernie Smith en Sammy Webber. Gowar is ʼn Gold Standard Bank Ovation-bekroonde kunstenaar van die Nasionale Kunstefees en baskitaarspeler op kykNET & kie se gewilde ‘Koortjies saam Jonathan Rubain’. Hy is ook bekend om sy lang musikale verbintenis met die Suid-Afrikaanse gospelgroep Dumisani asook Alexander. Die aand se jazz-repertoire sal plaaslike, oorspronklike en Afrikaanse items insluit, asook dansmusiek wat jou die hele aand op die been sal hou. 

Die vertoning begin om 18:00 in die Tuinteater op die sagte grasperk aan die voet van die monument – net betyds vir ʼn pragtige sononder en maanopkoms. Gaste kan vooraf die monument, ʼn simboolgelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing en tydelike uitstallings te verken; daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. 

Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ʼn piekniekmandjie by Die Suikerkan via 082 216 2510/082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie koffiewinkel sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Oorgenoeg gratis en veilig parkering, asook ʼn pendeldiens, is beskikbaar. Onthou warm klere, ’n kombers of kussing en flits. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie.

Kaartjies, wat na verwagting snel gaan uitverkoop, is vooraf by Computicket en die Taalmonument teen R150. As daar enige kaartjies oor is, sal dit vanaf 17:00 by die hek self verkoop word. 

•    Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die koffiewinkel bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →