Stefan Jansen se eerste Engelse album met die titelsnit “Wasting Time” word oor drie dae vrygestel.

Met die aanloop vir die bekenstelling van Stefan Jansen se eerste Engelse album, het Olka Bolka bietjie met Stefan gesels. Hou Olka Bolka dop vir die Persverklaring wat op 3 Maart met die amptelike vrystelling van “Wasting Time”

Vertel ons lesers kortliks wie is jy?

Ek is Stefan Jansen. Ek was al baie ander dinge en name en persoonlikhede, maar ek het myself gevind en my identiteit as ’n trotse, eenvoudige Afrikaner is nou so rots-vas soos ’n Hilux op ’n grondpad!

Hoe het jy in die musiekbedryf begin?

Ek het op skool begin kitaar speel vir pret, op universiteit vir sakgeld, en na dit het musiek altyd maar net ’n ekstra inkomste’tjie in gebring, en toe raak dit maar net so spontaan iets wat ek nie kon ophou doen nie. Dit was nog nooit vir die geld nie. Dit het maar net deel geword van wie ek is.

Wat geniet jy die meeste van wat jy doen?

Die mense se gesigte in die gehoor. Ek is hier om geluk en hoop te bring, en ek kan sien dat dit wys op my aanhangers en die feesgangers se gesigte. Op daardie stadium voel mens deel van iets groter. Dis magic.

Wat doen jy behalwe musiek?

Ek bou kitare, gee vir mense raad oor kitare, speel kitare, ek het ’n YouTube kanaal wat ’n besigheid geword het, ek is btrokke by VONK Musiek by hulle spesiale projekte, en ek hou regtig baie van braai.

Vertel my van jou nuutse enkelsnit?

Hierdie is my eerste Engelse vrystelling. Die nuwe vrystelling, die hele album, is ’n versameling van liedjies wat ek van 2010 tot min of meer 2020 geskryf het. Dis ’n terug flits uit verskillende era’s van my lewe, en wat ek daaruit geleer het. Die titelsnit “Wasting Time” is ’n liedjie oor groot liefdes-besluite en wat ek daaruit geleer het, terwyl liedjies soos “Song of Silence” en “Winds of Change” geskryf is gedurende die pandemie. Alles gaan oor Lesse wat ek geleer het wat ek voel ek wil deel met my mense.

Skryf jy self jou liedjies?

Korrek, ja. Dis vir my baie belangrik om my eie gedagtes te deel met die wêreld. Ek is nie primêr ’n sanger nie. Ek is ’n skrywer. So dis vir my persoonlik ’n baie belangrike deel van my loopbaan dat ek my eie woorde en gedagtes daar buite sit.

Is daarn liedjie wat vir jou uitstaan wat jy opgeneem het?

Song of Silence het vir my ’n groot lied van ontwikkeling en self-verstaan geword. Daar is baie mense betrokke by hierdie lied, in sy vorming, en ek is dankbaar vir hulle almal. Hierdie lied kon netsowel die titelsnit gewees het van die vrystelling.

Wat verkies jy om Afrikaans of Engels te sing?

Ek is Afrikaans, en ek wil my loopbaan voortsit in Afrikaans. Maar hierdie vrystelling se doel is om ’n verlede era op rekord te plaas, toe ek nog Engels geskryf het.

Wat is jou gunsteling Musiek genre?

Ou volksmusiek. Bob Dylan. Joni Mitchell. Leonard Cohen. Paul Simon.

Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?

Ek is nogals ’n oop-boek tipe mens, so ek dink almal weet nogals alles van my af. Ek praat ook gewoonlik te veel. So ja.. Nee ek dink julle ken my maniertjies…

Wat inspireer jou?

Mense wat weet waarheen hulle op pad is. Ek hou van suksesverhale, en mense wat hard werk om hulle drome self waar te maak inspireer my. Dis wat ’n verskil maak. Harde werk.

As jy saam met enigeiemand in die wêreld kan sing, wie sal dit wees en hoekom?

As ek saam met Paul Simon, met Tony Rice op Kitaar, op Wembley kon sing sou dit nogals nice gewees het…

Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?

Ek is hierdie jaar gefokus op nuwe Afrikaanse musiek, ’n baie lekker Teater optrede wat ek tans skryf, en my tweede Europese toer deur Nederland en België. Ek wil myself graag vestig as ’n volk-sanger wat in Afrikaans die wêreld rond toer.

Watter raad sal jy gee aan iemand wat pas in jou industrie begin het?

Hou op dink aan die romantiese dele van musiek. Jou sukses gaan kom as jy hard en aanhoudend werk. Talent is een ding, maar harde werk is definitief die groter onderliggende antwoord op jou drome.

Wat is die onvergeetlikste/snaaksste voorval wat jy al in jou besigheid beleef het?

Ek het eendag, na ’n vertoning, by ’n tafel van my aanhangers in geloer om hello te sê. Oorkant my het ’n klein, fyn, dame gesit en ’n slukkie gevat van haar drankie letterlik net op die oomblik toe ek besig is om ’n grap te maak…toe spoeg sy per ongeluk haar hele sluk drank oor die tafel op my uit soos sy lag. Toe lag ons almal so hard dat almal aandie tafel amper verstik aan hulle drankies. Dit was chaos. Hahahha!

Wat is op jou Bucket List?

Ek wil graag toer oor die wêreld en die mees merkwaardige 15 Bome gaan sien. Ek wil aan hulle raak en in hulle teenwoordigheid staan. Dit fasineer my verskriklik.

Wanneer verjaar jy?

2 Junie 1988

Wat is jou gunsteling:

Musiek – Folk en Celtic

Sangers – Paul Simon, Bob Dylan, Leonard Cohen

Band – Dire Straits / Lumineers

Gunsteling liedjie – Local Hero (Wild Theme) (Live) – Mark Knopfler

Rolprent – A River Runs Through It

Akteurs – Al Pacino

Reeks – Our Planet (National Geographic)

Kos en drankie – Tequila, Aartappels

Ontspanning – Kitaar om ’n kampvuur

Boek – Mindset (Dr. Carol Dweck)

Vakansie bestemming – Bosveld

Kleur – Bruin

Waarvan hou jy niksnoem 4 dinge.

Seesand in my tande.

Te veel sout in kos.

Selfsugtige mense.

Agressie.

Waar kan mense jou kry en volg?

“Stefanjansenmusic” op alle platvorms en Google natuurlik.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →