ʼn Hemelse skat skitter bo Taalmonument Sterrekykpiekniekers sal oë opslaan na skouspelagtige Juweelkissie

Met die somer wat vaarwel roep, kan Kapenaars en besoekers die skitterende sterrehemel – spesifiek die veelkleurige Juweelkissie – verken tydens die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se laaste Sterrekykpiekniek op Paarlberg op Saterdag, 11 Maart 2023. Dit beloof om ʼn feestelike aand in die beeldskone omgewing te wees; boonop is ʼn pragtige sonsondergang en ʼn gratis besoek aan die ikoniese beeldhouwerk ingesluit, én is die aand ten bate van ʼn goeie saak. 



Gaste sal die heelal verken met behulp van Orion Observasie Groep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope gratis deel. Die fokus is op die Juweelkissie – ’n oop sterrebondel styf langs die Suiderkruis – wat danksy haar skouspelagtige kleure ’n fees vir die oog is en as een van die mooiste voorwerpe in die suiderhemele beskou word. Die Juweelkissie is die eerste keer deur Nicolas Louis de Lacaille beskryf terwyl hy astrometriese waarnemings gedoen het vir sy 1751-1752 suidelike sterrekatalogus Cœlum Australe Stelliferum aan die destydse Kaap die Goeie Hoop. 

Die pieknieks is gewild onder plaaslike inwoners en oorsese besoekers wat veral die mooie vergesigte van die valleie, berge en skiereiland geniet. Besoekers is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ʼn piekniekmandjie by Die Suikerkan via 082 216 2510/082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Gaste word aangemoedig om die omgewing te verken en die monument, ʼn simboolgelaaide beeldhouwerk sonder weerga, te besigtig. ʼn Gratis begeleide toer om dit alles te verduidelik, vind om 18:30 plaas. Daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Onthou asseblief verkykers en warm kleding; genoeg beveiligde parkering is gratis beskikbaar.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders, derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke te skenk.

Die geleentheid begin om 18:00 waarna besoekers van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur. Die toegangsprys is R50 per volwassene en R15 vir onder-18’s; kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar, maar bespreking (021 8630543/4809 of bemarking2@taalmuseum.co.za) is noodsaaklik sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word. Sterrekykpieknieks sal helaas gekanselleer word indien die weer nie saamspeel nie – skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 vir weernavrae op die dag self. Voorafgekoopte kaartjies kan oorgedra of vergoed word. 

•    Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →