
Leer meer oor joernalistiek met splinternuwe Skryfnet-kursus! Stel jy belang om joernalistiek te studeer of wil jy graag vir jou plaaslike koerant of nuusplatform skryf? Dan is dit jou gelukkige dag! Skryfnet spog eersdaags met ʼn splinternuwe kursus wat spesifiek geskep is vir hierdie doel. Skryf vir gemeenskapsmedia is ʼn praktiese joernalistieke kursus vir diegene wat passievol is oor nuus en dit met integriteit wil oordra. Dit is ontwikkel deur Maroela Media en fokus op die fynere detail van joernalistiek, spesifiek in die digitale omgewing. Meer as 2 miljoen lesers besoek maandeliks Maroela Media en hierdie platform het oor die jare gegroei en ontwikkel tot een van die mees betroubare nuusbronne in die land. Daarom weet jy dat jy in goeie hande is wanneer jy by hierdie span kundiges kers opsteek oor skryf. Dié tien weke lange aanlyn kursus word aangebied deur Landi Slatter, ʼn dosent in joernalistiek by Akademia. Landi het haar BA-graad in kommunikasiestudies aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus verwerf, asook haar BA Honneurs (met spesialisering in Joernalistiek) en meestersgraad (in kommunikasiestudies met spesialisering in Joernalistiek) cum laude aan dieselfde universiteit. Slatter het haar loopbaan by Maroela Media begin en later by Rapport se nuuskantoor in Pretoria aangesluit as algemene joernalis; sy het ook die “onderwysbeat” gedek en in hierdie hoedanigheid as gas opgetree by radiostasies en Facebook Live-paneelgesprekke. Sy is steeds ʼn vryskutjoernalis en tree weekliks as radiogas op om plaaslike nuusaangeleenthede te bespreek. Skryf vir gemeenskapsmedia is ʼn goeie inleidende kursus vir enigeen wat graag ʼn loopbaan in joernalistiek wil hê en basiese vaardighede wil aanleer. Die kursus skop amptelik op 15 Mei 2023 met ʼn aanlyn verwelkomingsessie af. Om jou plek te bespreek, klik hier. Sodra die registrasieproses afgehandel is, sal daar ʼn e-pos met verdere inligting deurgegee word om toegang te kry tot die leerplatform. Deelnemers wat die kursus voltooi, ontvang ʼn sertifikaat van Akademia. Inskrywings sluit op 12 Mei 2023. Koste beloop R4 000 per persoon. Vir meer inligting oor die kursus, stuur ’n e-pos na navrae@skryfnet.co.za Besoek ook Skryfnet se webblad vir meer inligting en antwoorde op gereelde vrae. Skryfnet is ’n projek deur Maroela Media en Akademia. |
