The Best Regrets reik tweede enkelsnit uit, Say Anything

Die jongste toevoeging tot die elektroniese pop-rock genre in die Suid-Afrikaanse
musiekbedryf The Best Regrets het sowat ses maande gelede die klankgolwe binne
gestroom met hulle eerste enkelsnit A Little More.
Nou is die groep, wat bestaan uit Jean Hepburn, Len Botha, Jaques Lotter, en Jacques
Mouton terug met nog ’n enkelsnit, Say Anything, wat die luisteraar op ’n bittersoet reis
gaan neem.


Dié groep is een van die min plaaslike groepe wat die kuns van elektroniese musiek
vervolmaak het. Hulle ondersteuners stem saam, want hulle eerste snit het uitstekende
gevaar en is duisende kere gestroom en gedeel. Die musiekvideo, wat van die enkelsnit
gemaak is, het ook baie kommentaar uitgelok, en die jong manne maak natuurlik ook die
vroue van regoor die land se knieë lam…


’n Musiekblogger beskryf die groep as “energiek en interessant,’’ en het A Little More
beskryf as snit wat luisteraars na ’n Mediterreense eiland neem.
Die groep bewys nou ook met Say Antyhing dat elektroniese musiek nie noodwendig
net soos die smaak van ’n skemerkelkie op ’n warm dag is nie, maar dat daar ook dieper
gedelf kan word in die pyn van ’n verhouding wat besig is om op die rotse te loop.
Die snit is nie ’n standaard liefdeslied nie, maar eerder ’n ondersoek na liefdespyn en die
invloed wat dit op jou lewe kan hê.

Jacques, wat ook die hoofsanger van die groep is, se stem is pasknap vir die snit. Sy stem
sny deur die melancholiese lirieke sonder om temerig oor te kom. Ten spyte van die
melancholiese lirieke, neem die opgewekte, dansklanke die luisteraars na ‘n wêreld
waar hartseer en vreugde hand-aan-hand loop.
Die groep is onafhanklike kunstenaars en het ook dié snit self opgeneem, vervaardig en
vrygstel. Die groep se naam The Best Regrets weerspieël ook hulle positiewe
gesindheid teenoor hulle eie foute, wat hulle “as die beste berou in hulle lewens’’
beskou.


Hulle musiek is ’n kombinasie van instrumente en elektroniese musiek en kan ook
beskryf word as Indi/pop-rock. Jacques vertel dat die lirieke in ’n oomblik van passie,
van inspirasie geskep is. Die lirieke word dan getoonset en die resultaat is ’n melodieuse
elektroniese aanslag op die oor.
The Best Regrets het begin toe Jacques Mouton en Len Botha musiek geskryf het vir
hulle vorige groep. Hulle het hierdie musiek gaan opneem by Jaques Lotter, wat daai tyd
Musiek Produksie geswot het. Van daar af het hulle ‘n verhouding begin nou en het
liedjies heen en weer geskryf en gestuur. Hulle het toe, uiteindelik, besluit om ‘n nuwe
moderne pop-gebaseerde projek te skep. Jean het later as baskitaarspeler by hulle
aangesluit.


The Best Regrets is besig om ’n beduidende impak op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf
te maak en die groep het al geleer dat harde werk, respek en nederigheid baie
belangrike bestanddele vir ’n suksesvolle loopbaan is.
Say Anything is nie net die resultaat van die werk en passie wat hulle reeds in hul
loopbane belê het nie, maar is ook een van dáárdie snitte waarop jy nie net gaan dans
nie, maar ook regig na gaan luister.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →