Wanneer dit by familie kom, is ons almal al op ’n stadium deur iemand in die verleentheid gestel. Baiekeer is dit die gevolg van persoonlikhede, opinies en waardes wat tussen verskillende generasies verskil.

Dit is die geval in die splinternuwe fliek, ABOUT MY FATHER, wat losweg gebaseer is op die lewe van die gewilde Italiaans-Amerikaanse komediant, Sebastian Maniscalco, wat homself speel, en sy verhouding met sy pa, Salvo, wat deur Robert De Niro vertolk word.
In hierdie komedie, met die bekroonde draaiboekskrywer en vervaardiger Laura Terruso as regisseur, sien ons die Oscar-bekroonde De Niro as ’n hardkoppige Italiaans-Amerikaanse pa wie se lewensuitkyk en tradisionele waardes sy seun se pogings in die wiele ry om sy meisie, Ellie (Leslie Bibb), se effens eksentrieke familie te beïndruk.
Die drama begin wanneer Salvo Sebastian, wat beplan om Ellie te vra om te trou, oortuig om hom saam te vat na haar familie se Onafhanklikheidsdag-wegbreek op hulle somerlandgoed. As ’n eerstegenerasie-immigrant het Salvo nog altyd die Amerikaanse droom nagejaag, terwyl Ellie se gegoede familie dit daagliks leef. Verder, verskil sy koue en emosielose benadering hemelsbreed van die van haar warm en liefdevolle gesin. Die resultaat is dat die naweek ontaard in, wat kan beskryf word as, ’n kombinasie van kultuur- en generasie-geskille met verrassende gevolge.
Maniscalco beskryf die rolprent as “die storie van twee families, uit verskillende agtergronde, wat koppe stamp gedurende ’n langnaweek, voordat hulle besef dat dit juis hulle verskille is wat hulle uniek maak”. Die storielyn is geïnspireer deur sy eie ervaring, alhoewel hy erken dat die meeste tonele oordrewe en aangepas is vir die vermaak van die gehoor.
Buiten vir Maniscalco en De Niro, spog ABOUT MY FATHER ook met ’n sterbelaaide rolverdeling, wat Kim Cattrall, David Rasche, Brett Dier en Anders Holm insluit as Sebastian se aanstaande skoonfamilie.
Alhoewel die rolprent skreeusnaakse tonele bevat, is daar ook warm, emosieblaaide oomblikke. Bibb sê: “Dis dramaties en snaaks en herinner jou om jou geliefdes te waardeer”.
Volgens Austen Earl, wat saam met Maniscalco aan die draaiboek gewerk het, kan die fliek beskryf word as ’n romantiese komedie – nie net tussen ’n man en vrou nie, maar ook tussen ’n seun en sy pa. “Sebastian se pa was sy held toe hy klein was, maar soos wat hy ouer geword het, het hy begin skaamkry vir hom. Met tyd, besef hy egter dat sy pa die rede is hoekom hy is wie hy is, wat hulle verhouding herstel.”
ABOUT MY FATHER herbevestig die waarde van familie en liefde en herinner die kyker dat dit soms nodig is om mekaar halfpad te ontmoet wanneer dit by familie kom.
“Almal het ’n familielid met wie hulle nou en dan koppe stamp, maar op die einde van die dag gaan dit oor familie en ons liefde vir mekaar,” sluit Maniscalco af.
ABOUT MY FATHER word plaaslik versprei deur Filmfinity Pty (Ltd.) en sal vanaf 26 Mei 2023 in bioskope te sien wees.
Kyk die lokprent hier: https://www.youtube.com/watch?v=txLSE7tpgr0
SOSIALEMEDIASKAKELS
FILMFINITY
Facebook: https://www.facebook.com/TeamFinityZA/
Twitter: @TeamFinityZA
Instagram: @teamfinityza
PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webwerf: www.starburstmusic.co.za
STARBURST PROMOTIONS
Alani Coetsee – PUBLICIST
www.starburstmusic.co.za | alani@starburstmusic.co.za | 072 442 6918
