Unieke Paarlse huis spog met toere, mark, sang en rieldans op 20 Mei 2023
Ter ere van Internasionale Museumdag op 18 Mei 2023 bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ʼn boeiende gratis program op Saterdag, 20 Mei, in die Paarlse middedorp aan. Met begeleide toere, unieke rieldansuitvoerings, gedigtevoorlesings, sang, ʼn mark asook kindervermaak beloof die dag nie net pret nie, maar ook die kans om meer oor die omvattende geskiedenis van Afrikaans en die historiese Taalmuseum te wete te kom.

Om na die gemeenskap uit te reik, borg die ATM die vervoer en etes vir ʼn groep seniors en kinders, en gratis toegang aan almal sover as wat die tyd en ruimte dit toelaat. Die geleentheid is vanaf 09:00 tot 13:00 by Pastorielaan 11 en sal wegspring met ‘n verwelkoming, sangitems deur Sydwell Beziek en gedigte deur Gaireyah Fredericks. Begeleide toere sal tussen 11:00 en 12:00 plaasvind waartydens besoekers meer oor die huis se geskiedenis, die Genootskap vir Regte Afrikaners, Arabies-Afrikaans en die ontwikkeling van die taal, van toeka tot in die toekoms, leer. Om die dag op ‘n hoë noot af te sluit, sal die Tiervlei rieldansers van 12:00 dans tot die stof staan.
Buite sal ʼn springkasteel die kinders vermaak en sal die mark, danksy Buzy Bees en die Vroue-landbouvereniging, in besoekers se spys- en drankbehoeftes voorsien; kurio’s sal ook te koop wees.
Die internasionale museumraad (ICOM) vier sedert 1977 Internasionale Museumdag waardeur museums regoor die wêreld op of rondom 18 Mei die geleentheid gebruik om op skeppende wyses en deur spesiale aktiwiteite uiting te gee aan ’n bepaalde tema. Vanjaar se tema is ‘Museums, volhoubaarheid en welstand’ wat die kollig plaas op museums se sleutelbydraes tot volhoubare ontwikkeling van gemeenskappe. As betroubare instellings en belangrike drade in ons gedeelde maatskaplike struktuur, is hulle uniek geplaas om positiewe verandering te bevorder. Daar is baie maniere waarop museums kan bydra om die internasionale doelwitte vir volhoubare ontwikkeling te bereik: van die ondersteuning van klimaatsoptrede en die bevordering van inklusiwiteit, tot die aanpak van sosiale isolasie en die verbetering van geestesgesondheid.
Sien taalmuseum.co.za vir besonderhede en icom.museum/en/ vir meer oor ICOM.
* Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat onbeperkte toegang tot die ATM, bistro en Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.