Jy is mal oor jou ou, verwaarloosde hardebandboeke, maar wens net jy kon die kuns bemeester om hulle met liefde reg te dokter? Dan is die boekherstelspesialis George Wentzel se kursusse by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl weereens die antwoord op jou drome. Wentzel, ‘n gekwalifiseerde meesterboekbinder met meer as 46 jaar se ondervinding, bied ‘n inleidende kursus oor die herstel van ou hardebandboeke vanaf Maandag, 29 Mei 2023, tot Woensdag, 31 Mei, aan. Hierdie kenner het voorheen in die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika se boekbewaringsafdeling gewerk en is altyd geesdriftig om hierdie skaars vaardigheid aan andere te onderrig. Danksy sy vele toekennings en die aanbied van meer as 50 rampbestuur- en boekbindwerkwinkels dwarsoor die land, is hy ongetwyfeld ʼn fontein van teoretiese en praktiese kennis.

Geen vooraf opleiding is nodig vir die tweetalige driedagkursus nie. Deelnemers sal drie boeke maak en bladgoudwerk en basiese boekherstelwerk doen. Ingesluit is werksprosedures, ‘n oorsig van die dele van ‘n boek en die samestelling daarvan, asook demonstrasies van en praktiese oefeninge in skutblaaie, boekbindwerk, leerbindwerk, omhulsel afronding en bladrugsteun.
Die kursusfooi beloop R2 000 per persoon, wat ʼn sertifikaat van bywoning en ʼn stel basiese gereedskap/materiaal insluit. Dit vind daagliks van 09:00 tot 15:30 in die Besoekersentrum se konferensielokaal by die Taalmonument plaas. Koffie en tee is ingesluit, maar deelnemers moet sorg vir hul eie etes of die bistro ondersteun waar hulle ‘n 15%-afslag ontvang. Vir besonderhede en besprekings tot en met 25 Mei, kontak Sunet Basson by 021 872 3441 of stuur ʼn e-pos na kommunikasie@taalmuseum.co.za. ‘n Gevorderde kursus vind later vanjaar plaas.
* Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat onbeperkte toegang tot die ATM, bistro en Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.