Vrede. Dié titel van die enkelsnit roep beelde van geluk, van vreugde, van geluksaligheid op. Maar dan, as paradoks vergestalt die naam Marikana geweld en bloed. Koeëls wat salvo uit die bekke van ’n gewapende blou mag. Woede en Hartseer.

Dit is ook wat die jongste toevoeging tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, Marikana, met hulle musiek wil bereik: Om enersyds vrede te verkondig, maar andersyds ook om hulle stemme dik te maak teen anargie en die sinnelose geweld wat daagliks in Suid-Afrika afspeel.
“Ons roep na vrede. Kan ons ooit laat gaan van die verlede? ” kanon hulle in Vrede, die groep se jongste enkelsnit wat pas uitgereik is.
Die snit handel nie soseer oor die bloedbad, wat amper elf jaar gelede net buite Rustenburg, afgespeel het nie. Dit is eerder ’n harde, emosionele getuienis van die sinnelose geweld wat besig is om ons land te verlam. En dan; ’n smeekgebed om te vergewe en in vrede saam te woon en te leef.
Die groep bestaan uit Norman Clack, hoofsanger en liriekskrywer en Chris Volbrecht, kitaarspeler en sanger. Chris was voorheen deel van groepe waaronder Pyramid Tounge, Bomskok, The Christian Heath Band, Nova Rise, en Music Box with Sasha-Lee and Jason Green. Michael Morare, wat al al saam met die SAMA-wenner Shekhinah gewerk het, het die snit vervaardig en laat ook die klanke uit die klawerbord spat.
Norman Clack, wat ook dié lirieke vir Vrede geskryf het, sê dat hulle juis die naam Marikana vir die groep gekies het, want “tirannie, chaos en korrupsie is nie net tot spesifieke regeringspartye beperk nie. Ons moet ons eie stemme dik maak en aktiewe burgers van dié land word,’’ meen hy.
Vrede omsluit daarom ook die hartseer en pyn van alle Suid-Afrikaners. “Ons glo dat almal vrede wil bewerkstellig en die enigste manier waarop vrede gevind kan word is as ons die verlede vergeet en die toekoms omarm,’’ sê Norman.
Die lirieke van die snit is eenvoudig, maar Norman se bykans donker-bas dryf die snit tot ’n volmaakte eenheid.
Dié snit herinner nogal sterk aan die van die liriek-gedrewe luisterrock van Battery 9, ’n groep uit die negentigerjare, maar die klanke val nie vreemd op die oor nie. Daar is iets oer-aards in hulle musiek; Afrika-klanke gemeng met harde rock en alternatiewe musiek.
Marikana het hulle eerste snit Load shedding verlede jaar bekendgestel en musiekkritici het die snit as “eiesoortige vryheidsmusiek bestempel wat sosiale kommentaar op hedendaagse knelpunte en probleme lewer.”
Dit is ook wat hulle met die groep wil bereik. “ Ons wil ’n stem vir die masses wees. Ons wil opstaan teen die regering en politici se magsgebruik deur middel van kuns en musiek. Sommige van ons snitte is wel ernstig, maar daar is ook ’n ligter kant aan ons; ’n kant wat ook humor insluit en waarop ons op ’n satiriese wyse na die verskillende kulture in ons land kyk.’’
Daar is iets anders aan die groep; iets wat lanklaas in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gehoor is.
Vrede is beslis ’n stroom werd. Die snit laat jou dink en luister, en wonder of vrede werklik ’n moontlikheid in ons land is.
