Be creative with Arabic Afrikaans.

Wil jy Afrikaans toelies in Arabies?

As deel van die ATM se uitreik na die gemeenskap sal die instelling nie net ʼn paar deelnemers borg om die werkswinkels gratis by te woon nie, maar ook vervoer vanaf Kaapstad se suidelike voorstede verskaf.


As part of the ATM’s outreach to the community, the institution will not only sponsor a few participants to attend the workshops for free but will also provide transport from Cape Town’s southern suburbs.

Om die herlewing van Arabies-Afrikaans verder te versterk bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) asook Historium Trust twee werkswinkels en besprekings oor hierdie unieke skryftradisie aan. Die immer gewilde dr Shamiega Chaudhari sal beginners op Saterdag, 29 Julie 2023, via ‘n moderne ‘madrassa’-klas touwys maak en op 25 November gevorderde skrywers begelei om onder meer spesifieke Afrikaanse klanke die beste manier moontlik met die Arabiese skrif voor te stel. Dit volg op die hoogs suksesvolle werkswinkel en kompetisies in 2020 en 2022 waartydens tientalle nuwe Arabies-Afrikaanse geskrifte vanuit Suid-Afrika, Duitsland, Katar, Oostenryk en Saoedi-Arabië ontvang is. Die positiewe reaksie, mediadekking en talle inskrywings bewys dat daar steeds ʼn groot belangstelling in Arabies-Afrikaans is.

As deel van die ATM se uitreik na die gemeenskap sal die instelling nie net ʼn paar deelnemers borg om die werkswinkels gratis by te woon nie, maar ook vervoer vanaf Kaapstad se suidelike voorstede verskaf. Chaudhari is ‘n dosent in die fakulteit opvoedkunde aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie waar sy Afrikaans as hoofvak en Kurrikulumstudie doseer. Sy is ʼn kenner op Afrikaans en Arabies (en liefhebber van Jawies), maar fokus ook op dekolonisering, identiteitstudies en oratuur. Haar tweetalige, interaktiewe werkswinkel sal ʼn inleiding tot die geskiedenis van Arabies-Afrikaans, opleiding in die Arabiese skryfstelsel en die guroof (alfabet) behels.

Daarna sal sy deelnemers help om hul eie woorde/sinne in Arabies-Afrikaans te skryf, met ʼn weergawe van die teks in die Romeinse skrif daarnaas. “Hierdie werkswinkel is veral gerig op beginners,” verduidelik Chaudhari. “Wat ons gaan doen is om ʼn tipe Arabies-Afrikaanse madrassa-klas van die verlede te herskep om deelnemers ʼn gevoel te gee van hoe dit sou gewerk het, maar met ʼn moderne aanslag. Dit is gemik op almal wat meer wil leer oor hierdie pragtige skryftradisie, nie net Moesliems nie,” sê Chaudhari, wat hartstogtelik oor die geskiedenis van Afrikaans in die algemeen is, en veral hoe ons almal onlosmaaklik verbind is in die tapisserie van hierdie ongelooflike taal. Arabies-Afrikaans, oftewel Afrikaans wat met behulp van die Arabiese alfabet geskryf is, word algemeen aanvaar as die eerste geskrewe vorm van Afrikaans. Talle Arabies-Afrikaanse geskrifte – soos studentenotaboeke, verkiesingsplakkate, publikasies en manuskripte – het behoue gebly; tot dusver is 74 van dié werke wat tussen 1845 en 1957 geskryf is, deur kundiges ontdek en geïdentifiseer. Hieronder tel uitstekende voorbeelde van die vroegste Afrikaanse literatuur.

Daar is boonop heelwat onopgetekende Arabies-Afrikaanse geskrifte in privaatbesit; die ATM wil hulle graag digitaliseer om vir die nageslag te bewaar. Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die doel van hierdie werkswinkels en kompetisies om ʼn moderne bydrae tot dié skryftradisie te lewer. “Ons missie is immers om onder meer die versweë geskiedenisse van Afrikaans te belig en die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook haar moderne gedaantes te vier. Daarom wil ons mense aanmoedig om ook op hierdie manier hul deelname aan hierdie taal te herbevestig,” sê hy. “In die Taalmuseum in die Paarl gee ons heelwat erkenning aan Abu Bakr Effendi wat in die 1800’s ʼn groot rol in die ontwikkeling van Arabies-Afrikaans en derhalwe ook Afrikaans in die Bo-Kaap gespeel het. Ons wil graag sien dat die Afrikaanse gemeenskap hierop voortbou.”

Die beginnerwerkswinkel is op 29 Julie vanaf 09:00 tot 12:00 in die Historium Trust in Pastorielaan, Paarl, en kos slegs R300. Die inskrywing sluit ook ʼn kort besoek aan die Taalmonument en Taalmuseum se Arabies-Afrikaanse uitstalling asook Kaaps-Maleise verversing in. Om in te skryf, kontak Amila Ernstzen op 021 872 2022 of info@historium.co.za teen 24 Julie. Aansoekers kan ook vertoë aan haar rig rakende borgskappe, en meer inligting kry oor die gratis vervoer wat waarskynlik vanaf Athlone sal vertrek. Sien intussen meer inligting op die ATM se webtuiste en taalmonument.co.za/arabies-afrikaans/
Die gevorderde werkswinkel op 25 November, as deel van die herdenking van die afskaffing van slawerny aan die Kaap, sal onder meer fokus op die harakat, vokale, diftonge en ’n oorsig bied oor die bydra van Arabies-Afrikaans asook slawe tot die ontwikkelling van Afrikaans. * Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms.

Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat onbeperkte toegang tot die ATM, bistro en Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via
diesuikerkan.co.za of 082 216 2510. Toelies: ‘om te skryf’, van die Maleise ‘tulis’. Bron: af.wikipedia.org/wiki/Arabiese_Afrikaans

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →