“’n Boer se gebed is al wat ek het… dan bid ek Liewe Vader dat U ons sal red…”

Met die lirieke en simboliese woorde, wat amper aan ’n smeekgebed herinner, maak Jovan & Thelma na ’n musikale droogte van ’n paar jaar weer hulle toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf.
Dié enkelsnit, Boer se gebed, wat op die punt van volwasse kontemporêre rock dans, is sterk liriekgedrewe en vertel die storie van die boere in ons land se stryd teen “die vyande” wat onder meer misdaad, plaasmoorde, veediefstal en droogtes insluit.
Met die snit voeg hulle ook hul stemme by die van Steve Hofmeyr. Dié drie vorm ’n uitstekende trio en hulle stemme pas ook bymekaar; Steve se rokersbas wat deur murg en been sny, Thelma se sagter sopraanstem en Jovan se sagter bas.
Volgens die sangpaar het hulle onlangs by die organisasie, SA for Hope, wat droogte- en humanitêre hulp aan boere in drooggeteisterde areas bied. Hulle betrokkenheid by dié organisasie was ook ’n groot inspirasie vir Boer se gebed.
Jovan & Thelma het nog altyd bewys dat hulle uitstekende liedjieskrywers is en die snit stel ook nie teleur nie.
Jovan vertel dat die liedjie hoop aan boere bring. “Ons kan die woorde van die liedjie op elke boer se gesig sien. Dit is asof die woorde ook hulle stories vertel. Ons hoop dat die snit nie net ’n verskil in ons lewens sal maak nie, maar ook in die lewens van elke boer en hulle families.”
Die sangpaar het in twee dekades gelede derde geeïndig in kykNET se Zing-sangkompetsie, en sedertdien het hulle diep note op die Suid-Afrikaanse verhoog getrap, maar na hul bekroonde album Rondomtalie Liefde in 2012 uitgereik is, het hulle meer op optredes by korporatiewe geleenthede gefokus.
Maar hulle het nie van die musiektoneel afverdwyn nie. Hulle het vir vyf jaar hulle tuiste in Indië gemaak en daar voor internasionale gehore opgetree.
Volgens sosiale media kon hulle Indiese ondersteueners net nie genoeg van dié sangpaar kry nie.
Jovan is in die stadium in Amerika waar hy solo-optredes doen, maar hy sal later dié jaar terug wees om weer musiekkragte saam met die van Thelma se snoer.
“Ons is musikante, sangers en besigheidsmense; ons is reisigers wat orals waar ons kom sing,” eggo dié sangpaar, wat ook in die werklike lewe getroud is, hulle lewensbeskouing op Facebook.
Boer se gebed ’n snit wat ’n mens aan die dink sit; ’n snit wat gelatenheid van teenstrydighede tussen droogte en reën, tussen vyand en vriend, nie sommer net voetstoots aanvaar nie, maar waar die boere “tandeknersend” deur die dae en jare werk om ten einde aan Suid-Afrika die voedsel te bring wat ons nodig het om te oorleef.
Met die snit bewys Jovan & Thelma dat hulle nog net so vars en uniek soos twee dekades gelede is. Die snit is tegnies goed versorg en dit sal by oud en jonk (dus almal wat die hoogste agting vir boere het) byval vind.


