Marco Steyn is ’n talentvolle Suid-Afrikaanse musikant met ’n passie vir betekenisvolle musiek. Daarom is dit nie vreemd dat sy nuutste enkelsnit en musiekvideo jou diep tref wanneer jy dit vir die eerste keer hoor nie.

Die Droom van die Skepper, uit die pen en ateljee van die gewilde sanger en liedjieskrywer Rudi Claase, het ’n sterk boodskap van hoop en wys ons dat ons foute kan maak, maar dat ons ’n kans het om te verander as ons onsself aan God oorgee. Die liedjie skets ’n prentjie van die uitdagings wat ons as mense kan ervaar, maar dat daar ’n manier is om dit te oorkom deur hoop en liefde.
“Ek het vir Rudi gevra ek soek ’n lied wat hoop bring. Nooit het ek gedroom dat hy my wens so mooi saam sou kon vat nie. Ek vra dat elkeen luister na die woorde en weet dat die Here ons hoop is,” vertel hy.
Die snit komplementeer dié 27-jarige se strelende stem en unieke musiekstyl perfek en hy glo dat dit sal aanklank vind by oud en jonk.

’n Musiekvideo, geskiet in Alberton deur die bekwame videograaf Marius Potgieter van Beyond Film, bied ’n aangrypende storielyn wat die lirieke van die liedjie ondersteun. Dit wys drie individue in verskillende uitdagende omstandighede en hoe hulle daardeur werk – ’n sukkelende weduwee, ’n dogter wat met druk worstel en ’n alkoholis wat ’n pad na herstel vind. Die boodskap van hoop en die krag van geloof word weerspieël deur die harte en aksies van die karakters.
“Sonet van Sa Entertainment Group het die storielyn geskryf, sy het ook die akteurs en videograaf beskikbaar gestel. Vir die begroting waarmee ons gewerk het, wie almal betrokke is, en die tyd wat als neem, is ons baie trots op die eindproduk. Dis ook vir my ekstra spesiaal, omdat daar ook ’n gedeelte ingesluit is in die video waarin ek die ja-woord van my verloofde gekry het,” verduidelik die sanger. “Met die video wou ons mense laat besef hoe sleg dinge kan gaan in omstandighede, soms buite ons beheer, en hoe alles omgedraai kan word as ons die Here vra vir hulp,”
Die Droom van die Skepper is Marco se tweede enkelsnit en volg in die voetspore van ’n pragtige lied wat deur Brandon Good en Dusty Story van Nashville geskryf is.
Marco is gebore in Pietermaritzburg en het die musiekwêreld betree toe hy op die ouderdom van sewe sanglesse begin neem het by Keyboard Magic in Benoni. Sy talent was van die begin af opvallend.
Na skool, het hy musiek eers vir ’n rukkie opsy geskuif totdat sy paaie toevallig met die van ’n ou skoolvriend gekruis het wat hom aangemoedig het om aan ’n sangkompetisie deel te neem.


Tydens dié geleentheid het hy die oog van Sa Entertainment Group se Sonet Shields gevang, wat sy potensiaal raakgesien het en hom genader het om deel te word van haar platemaatskappy. Hy is ook die eerste kunstenaar wat gebruik maak van Sa Entertainment se splinternuwe publisiteitsafdeling wat nou beskikbaar is.
Ondanks die uitdagings en teleurstellings wat hy al moes oorkom, is sy vasberadenheid en passie vir musiek onwrikbaar. Hy word altyd geïnspireer deur bekende plaaslike kunstenaars soos Jannie Moolman, Kevin Leo en Dewald von Solms, asook internasionale musikante soos Josh Groban, Andrea Bocelli en Mark Vincent. Hierdie invloede, saam met sy eie artistieke flair, het ’n invloed gehad op sy kenmerkende styl en klank.
Wanneer hy nie besig is met musiek nie, werk hy vir ’n sagtewaremaatskappy, waar hy ’n rol speel in die ontwikkeling van programme vir verskeie besighede.
Die vermaakbedryf het hom geleer om getrou te bly aan homself en wie hy is en om die ondersteuning van geliefdes te koester.
Met Die Droom van die Skepper wil Marco graag harte raak, hoop bring en ’n positiewe verskil maak in elkeen se lewe wat daarna luister.
“Ek weet hoe dit voel om hopeloos te wees, ek is daar deur met hulp, ons het almal hulp nodig, ons moet net leer om te vra,” sluit hy af.
Hou dop waarmee hy besig is op:
Facebook: https://www.facebook.com/marco.steyn.3705
Instagram: https://www.instagram.com/marco.steyn.3705/
Webblad: https://www.saentertainmentgroup.com/marco-steyn/
YouTube: https://www.youtube.com/@MarcoSteynSinger/
YouTube: https://www.youtube.com/watch?v=3_dbnxtT2Tg&lc=UgzFdJwRqbTCqqRq_yV4AaABAg
Media navrae:
Miggie Krauspe
067 036 9537
Sa Entertainment Group:
Sonet Shields
079 821 5946
sonet@saentertainmentgroup.co.z |
