Die Kaapse sanger Murphy se derde enkelsnit, Vellies en sokkies, is ’n nostalgiese terugkeer na die tagtigerjare

Die Kaapse sanger Murphy se derde enkelsnit, Vellies en sokkies, is ’n nostalgiese terugkeer na die tagtigerjare toe grils met kort rokkies nog op die dansvloer gedraai en geswaai het, toe ’n  kêrel nog  stout-stout aan ’n oulike nooi se boud kon vat.

_blur _autotone

Murphy het sedert sy toetrede tot die Afrikaanse musiekmark homself onderskei as ’n  sanger wat met gemak tussen die verskillende musiekgenres kan beweeg. Sy eerste twee snitte, Dans soos ’n kind  en  Ons sal jou nie vergeet  het dieper emosies aangeraak en ook dinge (wat soms net vergete moet bly) in luisteraars se siele losgekarring.

Met Vellies en sokkies bewys hy dat nie net rou-rock ballades kan sing nie, maar ook die voete aan die beweeg kan kry.

Vellies en sokkies is loutere sokkieplesier – en al hoef sokkiemusiek nie noodwendig ’n dieper betekenis te hê nie– kan ’n mens jouself tog  inleef in die lirieke wat die storie vertel van ’n sanger, wat na een van sy vertonings, net ’n meisie se hand wil gryp en tot die vroeë oggendure wil vastrap.

Murphy is ’n paar jaar gelede met  karpale tonnelsindroom gediagnoseer is, en kon vir ’n hele paar jaar nie die kitaarsnare pluk nie. Dié sindroom was soos ’n nagmerrie waarin hy daagliks vasgevang was; die simptome sluit onder meer pyn en gevoelloosheid in die duim, wysvinger, middelvinger en halwe ringvinger in.

Díé sindroom (en die nare ou Murphy – sy naamgenoot – se wet wat bepaal dat as iets moet verkeerd gaan, dit sal verkeerd gaan) het egter nie in sy musiekpad gestaan nie sy eerste twee snitte is uitstekende deur die publiek en plaaslike radiostasies ontvang.

Waar hy in die verlede donkerder temas soos dood en ontsterflikheid aangeraak het, het sy pen die keer die regte paar voete raakgeboor, want sokkiemusiek is ook besig om weer sy groot halleluja op die plaaslike dansvloere te maak.

Murphy vertel langgend dat hy met twee gesonde dansende voete geseën is en dat hy kan cha-cha en two-step en sokkie en vastrap. “My dansdae het die nuwe enkelsnit geïnspireer,” vertel hy. “As die kans hom voorgedoen het, het ek met die beste danseres wat ek kon opspoor gedans. Ek was toe nog baie jonk en het ook heel dikwels smoorverlief op my dansmaat geraak.”

Murphy sê hy kon dans nog voordat hy kon sing of praat. “Op driejarige ouderdom het ek my ma se dag opgekikker met my malse danspassies. Ek moes selfs die matrikulante – so net voor die matriekafskeid in die LO-saal leer dans. Ek is sommer ook na ses verskillende matriekafskeidbyeenkomste genooi – net omdat ek nie twee linkervoete gehad het nie.’’

“Dit was asof my voete net nie genoeg van die ritme kon kry nie; so het ek bly dans totdat ek matriek voltooi het, my eerste werk begin het, getrou het. En ek dans steeds. “Ek dink dans het ’n baie belangrike rol in die ontwikkeling van my loopbaan as kunstenaar gespeel.’’

Murphy, wat al sowat drie dekades in die musiekbedryf doenig is,  het ’n ritmiese pen in die opsig dat liriek en musiek sinchroniseer. 

Hy het reeds twaalf liedjies geskryf, maar het besluit om dit oor die volgende paar jaar as enkelsnitte uit te reik.

Murphy het die afgelope paar jaar vir hom ’n sterk luistermark oopgesing en sy ondersteuners geniet veral sy dreunende tenoorstem wat pasknap vir die lirieke is.

Murphy gaan met dié liedjie ’n paar nuwe aanhangers werf. Hulle sal soos ’n paar veldskoene aan sy voete klou.

Vellies en sokkies  is deur Darryl de Lange (’n voormalige lid van Mean Mr. Mustard) van Musicology Studios opgeneem en vervaardig.  

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →