Jason Bradley se nagedagtenis met nuwe enkelsnit vereer

Aanhangers van die hoogs aangeskrewe country sanger, Jason Bradley, wat in Augustus 2022 na ‘n lang siekbed oorlede is, kan nou ‘n jaar later na ‘n splinternuwe enkelsnit, Versekerd, luister nadat dit eintlik heel toevallig uit ‘n demo-liedjie gebore is.

Versekerd wat deur die bekende musikant en dromspeler, Bruce Wallace, vervaardig is, kom uit die liedjieskrywer, komponis, pianis, en kunstenaar, Vita Lumé Kruger, beter bekend as Vita Lu, se pen. Hierdie aangrypende geestelike enkelsnit is ‘n vertolking van Romeine 38:38-39, en 1 Johannes 3:1a, wat op God se onvoorwaardelike liefde vir sy kinders fokus, asook op hoe Hy ons deur Sy Woord en Gees daarvan verseker.

Bruce Wallace is nie net ‘n internasionaal erkende drommer wat reeds op meer as 600 albums en 20 lewendige musiek DVD’s gespeel het nie, maar is ook die eienaar van die opname-ateljee, Beat In Time Studios, waar Versekerd vervaardig is. Wallace het oorspronklik ‘n sessie musikant gereël om ‘n demo-weergawe van dié liedjie by hom op te neem sodat Vita Lu dit aan ‘n ander musikant vir sy nuwe album kon voorlê, maar sy was egter onbewus daarvan dat dit Bradley is wat daarop gesing het.

“Ek het gehoop dat daardie musikant van my demo-liedjies sou hou en dit vir sy eie album sou gebruik, maar hy het intussen van plan verander, en gesê dat hy nie meer ‘n nuwe album gaan maak nie, waarna die liedjies net op my rak gelê en stof vergader het. Ek het eers baie later uitvind dat Jason Bradley die sessie musikant was wat Bruce destyds gevra het om my demo-liedjies op te neem. Aangesien daar reeds só baie tyd en energie daaraan bestee is, wou ek dit egter nog steeds baie graag vrystel, en ek het vir Bruce gevra of dit onsensitief sou wees om Jason se stem daarop te behou. Hy het dit met Jason se vrou, Tina Botha, bespreek en sy het só baie daarvan gehou dat sy vir ons toestemming gegee het om sy stem daarop te mag gebruik,” vertel Vita Lu byna verwonderd.

Haar eerste virtuele rock band, Vital curv., is in 2012 gestig en hulle selfgetitelde debuutalbum is op 23 Maart 2013 uitgereik. Hierop volg verskeie Afrikaanse enkelsnitte, Voel Die Reën, Oproep Na Die Hemel, en Noorder Kleure, sowel as elektroniese instrumentale snitte, Woeste Oseaan, en Herfs Blare, wat Vita Lu as ‘n solo-kunstenaar uitgereik het.

Sedert Jason Bradley in 2003 vir die eerste keer op die plaaslike country musiektoneel verskyn het, was hy ‘n trotse ambassadeur wat Suid-Afrika deur die jare by verskeie feeste in Nashville, Texas, en New-Zeeland verteenwoordig het. Sy album, Dirt Road, wat in 2013 uitgereik is, word deur kundiges as ‘n enorme mylpaal binne die County Musiek Genre beskou. Dit het internasionale luisteraars behoorlik aan die gons gehad, soos duidelik blyk uit die feit dat dit binne die eerste week na die vrystelling daarvan reeds op die Top 10-musiekranglyste in Noorweë en Ierland gepryk het.

“Ons wou graag Jason se nagedagtenis met hierdie enkelsnit vereer, en daarom het ek dit ook onder sy naam by SAMRO geregistreer, selfs al was hy nie een van die liedjieskrywers daarvan nie. Dit sal verseker dat Tina ook van die opbrengste kry indien dit ‘n inkomste sou oplewer,” verduidelik Vita Lu.

Kyk gerus uit vir hierdie inspirerende enkelsnit, Versekerd, wat vanaf Augustus 2023 op alle digitale musiekplatforms, insluitend Youtube, Youtube Music, Spotify, iTunes, en Deezer beskikbaar sal wees.

Vrygestel deur Tania Fourie Promosies.

Vir media navrae, kontak Tania Fourie by 072 194 2794, of e-pos by tania@tfpromosies.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →