Moniqe Fiddes is terug met ‘n nuwe enkelsnit – Because I am a woman

Die Suid-Afrikaans gebore sangeres en sakevrou, Moniqe Fiddes, is terug op die radiospeellyste met haar jongste enkelsnit, Because I am a woman. Dié snit vier nie net die kern van vrouwees nie, maar fokus ook op die sterk bande wat tussen ’n ma en haar kind, tussen susters en vriende gevorm kan word.

Met dié snit maak Moniqe ook haar terugkeer – na ’n tydperk van drie jaar – in die musiekbedryf. Sy het gedurende die Covid-19 pandemie ’n vollengte album, Colourful, bekendgestel. Musiekresensente het dié album geloof vir die ryk repertoire van liedjies wat onder meer opgewekte popliedjies tot stadige dansmelodieë ingesluit het.

Moniqe is ’n veelsydige liriekskrywer wat moeiteloos tussen verskillende musiekgenres beweeg. Sy is ook baie suksesvol in alles wat sy aanpak; of dit nou ’n nuwe enkelsnit is of  om  nuwe besigheidsgeleentheid raak te sien.

Because I am a woman is ook ’n getuienis van vroulike bemagtiging en bevryding. ’n Snit wat deur ’n vrou geskryf is en wat aan vroue opgedra word.

“Die doel van die liedjie is om vroue te inspireer om die beste weergawe van hulself te wees,” sê Moniqe.

En daarin het sy beslis ook geslaag: Moniqe is een van die rykste vroue in Brittanje.  Sy besit nie net een van die grootste eiendomsportefeuljes in die suidweste van die Verenigde Koninkryk nie,  maar is ook die uitvoerendehoof van verskeie besighede wat onder meer vegkuns- en dansskole regoor die wêreld insluit.

Haar stem het ook die afgelope dekade ontwikkel in ’n magtige instrument wat Because I am a woman op ’n eerlike en inspirerende manier oordra. Die lirieke is ook pasknapperfek vir haar donker heuningstem. 

Enersyds  resoneer die lirieke ook sterk met die posfemistiese beweging wat op die veronderstelling uitgaan dat volwaardige geslagsgelykheid nog nie bereik is nie, andersyds daag dit ook genderstereotipes uit.

Dit vind aanslag in die lirieke:

“Radio won’t play me, they objectify me, because I’m a woman. They taught me to curtsey, but they taught you to achieve. They say Adam came before Eve – don’t think less of me because I’m a woman. I fight harder, love stronger. I’m a daughter, I’m a mother.”

Vir dié ma van drie beteken vrouwees om toegewyd te wees in alles wat jy aanpak. “Selfvertroue maak ’n vrou sterk.”

“Ek het in Witbank, nou bekend as Emalahleni, grootgeword. My gesin was baie arm en ons het soms net brood gehad om te eet,“ vertel sy.

Sy het op sestien die skool verlaat; nie net om haar droom vir musiek uit te leef nie, maar ook om brood en botter op haar gesin se kombuistafel te sit. “Ek is op skool ook vreeslik geboelie, maar ek het besluit om nie die teëspoed in my lewe as iets negatiefs te beskou nie. Ek het dit omgesit in iets positief.’’

Moniqe se loopbaan in Suid-Afrika was egter nie besaai met rose van aanhangers of groot konserte nie. Sy het dikwels van die een kuierkroeg na die volgende gereis; mikrofoon en kitaar in die hand. Sy het soms net R1000 per vertoning verdien wat sy onselfsugtig bygedra het om in haar gesin se daaglikse behoeftes te voorsien.

Haar ambisie was egter nimmereindigend en op sestien het sy ook ’n platekontrak losgeslaan. Sy het later ’n kursus in drama en uitvoerende kunste by die aktrise Brümilda van Rensburg voltooi wat sy ook met onderskeiding geslaag het.

Sy was negentien jaar oud toe sy met die multimiljadêr besigheidsmagnaat Matt Fiddes getroud is.  Na langer as ’n dekade saam is hulle een van die bekendste paartjies in Brittanje en versier gereeld die voorblaaie van plaaslike tydskrifte.

Because I am a woman herinner ons daaraan dat ’n liedjie ’n kragtige instrument kan wees op vroue se pad na ware emansipasie. Dit stem ook in met die oortuiging dat drome nie abstrakte  arbitêre idees is nie, maar dat dit kan waar word as vroue voluit en met passie leef.  

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →