TAMLYN WESSELS INSPIREER MET HAAR NUWE INTROSPEKTIEWE ENKELSNIT

Die 19-jarige Tamlyn Wessels is terug met haar tweede enkelsnit, Ek’s Verlore, wat die verhaal vertel van iemand wat nog besig is om haar voete te vind in ‘n wêreld wat wyd uitgestrek voor haar lê.

Nadat Tamlyn op 13-jarige ouderdom met Guillain Barré-sindroom gediagnoseer is, en altesaam agt maande lank in die hospitaal moes deurbring, is sy inderdaad reeds gekonfronteer met die uiterste vorm van onsekerheid wat die lewe ‘n mens kan bied. Dit het ook gedien as die inspirasie vir haar splinternuwe enkelsnit, waarin sy verskeie onsekerhede met betrekking tot haar lewensreis, drome, en toekomsplanne aanspreek – Beslis ‘n tema waarmee soveel jongmense sal kan identifiseer! Te midde van al die onsekerheid, en verlorenheid, waarmee die meeste mense daagliks worstel, is daar egter by Tamlyn ‘n interne sekerheid te bespeur, soos baie duidelik blyk uit haar lirieke, “Ek’s verlore met die rigting in my sak, ek’t belowe ek weet waarheen ek stap.”

Dié introspektiewe popsnit vanuit Tamlyn se eie pen is oorspronklik deur Rian Swanepoel van Pro Trax vervaardig, voordat ‘n heropname gemaak is deur Paulo Azevedo van Coleske Artists, wat ook vir die verspreiding daarvan verantwoordelik is. “Ek is ongelooflik dankbaar teenoor Paulo, sowel as Rian, vir hulle albei se onderskeie bydraes tot die eindproduk van hierdie boodskap wat my só na aan die hart lê,” vertel Tamlyn opgewonde oor hierdie onderlinge samewerking.

Dit volg kort op die hakke van haar opwindende debuutenkelsnit en musiekvideo, Enigste Een, wat sy ook self geskryf het, en in April vanjaar reeds uitgereik is. Dit vertel die tipiese liefdesverhaal vanuit ‘n jongmeisie se oogpunt waarin sy, weereens te midde van al die gepaardgaande onsekerheid, die hoop uitspreek dat ‘n nuwe verhouding sal uitwerk.

Tamlyn wat nie slegs ‘n begaafde liedjieskrywer is nie, maar ook die ukelele kan bespeel, vertel trots dat sy haar musiektalent van haar ma geërf het. Sy het op 12-jarige ouderdom aan haar heel eerste talentkompetisie deelgeneem, ‘n jaar voordat haar lewe vir altyd handomkeer sou verander, maar dis immers hierdie noue ontkoming wat haar gemotiveer het om ander deur haar storie te inspireer.

Hoewel daar verskeie onsekerhede in Tamlyn se nuwe enkelsnit ter sprake kom, is sy alles behalwe verlore oor waarheen sy oppad is – Sy wil graag vir ander mense ‘n lewende bewys wees dat niks in die lewe jou moet keer om voluit te lewe en al jou drome te bereik nie.

Tamlyn Wessels se tweede enkelsnit, Ek’s Verlore, sal vanaf Vrydag, 8 September 2023, op alle digitale musiekplatforms, insluitend Youtube, Youtube Music, Spotify, iTunes, en Deezer beskikbaar wees.

Volg Tamlyn op Sosiale Media

Instagram – tamlynwessels_official        |       TikTok – tamlyn_ wessels

SANGERLIEDISRCPUBLISHERSKRYWERVERSPREIDINGBEMARKING
Tamlyn WesselsEk’s VerloreZA34K2301295Coleske Artist ManagementTamlyn WesselsColeske Artist/Warner MusicTania Fourie Promosies

Vrygestel deur Tania Fourie Promosies. Vir media navrae, kontak Tania Fourie by 072 194 2794, of e-pos by tania@tfpromosies.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →