TIFFANY STEYN se versugting vir wedersydse liefde in nuwe enkelsnit

Die opkomende kunstenaar, Tiffany Steyn, se tweede enkelsnit, Voel Dit, wat binnekort op alle digitale musiekplatforms uitgereik word, is ‘n moderne liefdeslied in ‘n pop-rock styl met ‘n aansteeklike ritme.

“Sê my ek verbeel my nie, want ek voel dit. Sê my ek verveel jou nie, want jy voel dit?” is die lirieke vanuit hierdie enkelsnit wat dui op ‘n universele versugting vir wedersydse liefde deur die eeue heen. “Enigeen wat al ooit heimlik verlief was, sal hiermee kan identifiseer, en hopelik sal dit hulle voete ook laat jeuk wanneer hulle die dansvloer betree,” sê Tiffany oor haar nuutste vrystelling. Aanhangers van hierdie enkelsnit met sy ligte, byna speelse, produksie kan ook uitsien na ‘n pragtige musiekvideo daarvan wat by La Villa Vita Boutique Hotel & Spa in Nelspruit verfilm is.

Dit volg op die uitreiking van Tiffany se debuutenkelsnit, Girl Vir Jou, in Junie 2022 wat ook baie goed deur die publiek ontvang is soos duidelik blyk uit die nommer 1-posisie wat dit op Radio Laeveld 100.5 FM se Top 20 behaal het. Die styl van musiek tydens haar vertonings wissel tussen country, pop, alternatief, kontemporêr, en jazz, aangesien sy daarvan hou om haarself met die musiek van Lady Gaga, Celine Dion, Bonnie Tyler, en Corlea Botha uit te daag om slegs ‘n paar te noem. Sy kom oorspronklik vanaf Phalaborwa, maar woon die afgelope ses jaar saam met haar man, en hulle twee dogters in Nelspruit, waar sy bedags ‘n juffrou en die mede-eienaar van ‘n plaaslike kleuterskool is.

Sedert Tiffany die plaaslike musiekbedryf verlede jaar as ‘n onafhanklike kunstenaar betree het, was sy bevoorreg om deel te kon wees van die produksie, Local Gospel, ten bate van Children In Distress by Manna Church, asook die jaarlikse Kers-Loffees saam met Ruan Josh, Jannie Moolman, en verskeie ander plaaslike kunstenaars. “Die geleentheid wat ek gehad het om vanjaar by die Innibos Nasionale Kunstefees saam met my orkes op te tree, was ongetwyfeld ‘n hoogtepunt in my loopbaan tot dusver, maar ek droom nog steeds daarvan om in die toekoms ook op die hoof-verhoog saam met hulle op te tree,” vertel die passievolle blondekop sangeres.

Verder wil Tiffany ook graag in die toekoms haar vlerke sprei na verskeie ander feeste en geleenthede buite die Laeveld se grense met die doel om uiteindelik ook musiekliefhebbers regoor die res van die land te kan bereik. “Ek wil graag die gehore wat na my luister met my vriendelikheid, nederigheid, en die talent wat God aan my toevertrou het, positief beïnvloed” verduidelik sy.

Tiffany Steyn se tweede enkelsnit en musiekvideo, Voel Dit, sal vanaf Vrydag, 29 September 2023, op alle digitale musiekplatforms soos Youtube, Youtube Music, Spotify, iTunes, en Deezer beskikbaar wees.

SangerLiedISRCPublisherSkrywer
TiffanyVoel DitZA34K2301400SAMROTiffany Steyn

Vrygestel deur Tania Fourie Promosies.

Vir media navrae, kontak Tania Fourie by 072 194 2794, of e-pos by tania@tfpromosies.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →