Die sanger van Beaufort-Wes, Meinhardt, reik die maand weer ’n enkelsnit, Kaap toe, uit

Die sanger van Beaufort-Wes, Meinhardt, reik die maand weer ’n enkelsnit, Kaap toe, uit wat menslike emosies en pyn tot in die fynste besonderhede uitkerf.  ’n Musiekvideo vergesel ook die snit, wat weer op sy beurt verbroke verhoudings, skeiding en die “smart van twee verskillende huishoudings” visueel baie eerlik uitbeeld.

Meinhardt het in April vanjaar tot die Afrikaanse musiekbedryf toegetree met sy snit, Koffie in die tronk, wat die “liefde as ’n hopelose realiteit waarbinne ons moet leef” uitbeeld.

Net soos met sy eerste solo-uitreiking krap dié snit in die psige van die menslike siel rond, maar probeer terselfdertyd ook oplossings vir die emosionele warboel waarmee verhouding skeiding dikwels gepaardgaan vind.

Dié snit, wat uit Meinhardt se pen verskyn het, is ook baie persoonlik, want hy is ook ’n geskeide pa “wat vir sewe jaar moes ry en weer ry; wat moes hallo sê en weer totsiens wuif.

Dit is veral die “hallo-gedeelte”  wat hartseer verwoord word in die koorgedeelte van die snit: “ …Pappa, Pappa, hier’s ’n prentjie net vir jou… Pappa, Pappa van die Kaap tot Gordonsbaai…”

Kaap toe vertel dus ook die storie van oor en weer kuiers; dit is ook, volgens Meinhardt,  die nuwe model waarom  onskuldige kinders hulle lewens moet bou.  “Weke en maande waar kinders en ouers in die perfekte wêreld moes saam wees, word nou vervang deur prentjies van herinneringe en beperkte ure van ’n in-haal verhouding,” vertel Meinhardt.

“Die lied verwys na die kinders se drome en teleurstelings; hulle woorde van verlange wat hulself herhaal. In die geval is dit ook ’n pa se volgehoue poging om uit die gebroke verhoudings hoop te vind. Selfs al skyn die sterre nie elke nag helder nie.’’

“Pappa, Pappa sal jou liefde aanhou klou …?” is weer die vraag waarmee duisende kinders, wat die produk is van gebroke huwelike, daagliks worstel.  ’’ ’n  Mens wil nie veralgemeen nie, want baie egskeidings is nie donker nie, maar kinders word tog aan ’n nuwe liefde bekendgestel; een van uithou en aanhou hoop.“

Meinhardt sê dat die liedjie, en dan ook die samelopende video, die storie vertel van ’n vaderhart en volharde liefde, en ook die keuse om aan te hou kies al wil omstandighede dit ook smoor.

“Die beplanning en samestelling van die liedjie en die video was ’n reis van goeie herinneringe, maar ook ’n hartseer pad. Ek was gelukkig genoeg om my eie twee seuntjies ook deel te kon maak van die video. Op die manier het ons  prentjies op mekaar se harte geskilder,“ vertel Meinhardt.  

Meinhardt, wat al in 2004 tot die Afrikaanse musiekmark toegetree het, het ’n goedgeoliede stem wat sterk herinner aan die helende effek wat karooplante soos katbos en kambroo op die mens kan hê. Dit is ’n stem wat lig in die duisternis kan bring.  

Meinhardt is in Delmas in Mpumalanga gebore, maar het aan die Hoërskool Hanklip in Queenstown in die Oos-Kaap gematrikuleer. Daarna het sy paaie na die Vrystaat geloop waar hy grafiese ontwerp aan die destydse Technikon Vrystaat studeer het, en toe wéér terug na die Oos-Kaap waar hy in die bosboubedryf beland het.

Hoewel die gastebedryf hom aan die wikkel hou, verskyn daar gereeld liedjies, wat oor die lief en leed van die lewe handel, uit sy pen.

Kaap toe is ’n snit waarby alle verdeelde ouers sal aanklank vind. Dit is ’n snit wat die boodskap oordra dat niemand jou keuse om liefde te leef kan steel nie, dit bly joune om te gee.“ 


Die liedjie is deur Darryl de Lange verwerk en opgeneem.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →