JAKKIE LOUW WIL MET SY NUWE ALBUM VIR ALTYD JONK BLY

Jakkie Louw doen beslis sy status as immergroen studentesanger gestand met sy splinternuwe album, JONK, wat eersdaags ter viering van sy 26 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf bekend gestel word.

Hierdie album bied ‘n groot verskeidenheid van komedie, dans, rock, country, gospel, inspirasie, en nostalgie wat beloof om luisteraars mee te voer na ‘n wêreld waarin hulle nog jonk, en vrolik kon wees. “Ek hoop dat almal wat na hierdie album luister vanaf die heel eerste oomblik wat hulle daardie play-knoppie gedruk het sommer weer jonk sal voel,” het Jakkie Louw tong-in-die-kies hieroor gesê.

“Belowe my dat ons jonk sal bly” is lirieke vanuit die titelsnit, Jonk, waarmee Jakkie sy aanhangers uitnooi om nooit die jeugdigheid, wat hulle deur die jare heen op die ritme van sy grootste treffers beleef het, te verloor nie. Die komiese snit, Karen, wat die storie vertel oor daardie tipiese vrou wat altyd in ‘n restaurant oor alles kla, is die ideale liedjie vir ‘n lekker kuier rondom die braaivleisvuur.

Die eerste enkelsnit vanaf hierdie album, Doen Jou Bes, is ‘n inspirerende liedjie met ‘n ritmiese pop-aanslag wat Jakkie geskryf het vir ‘n vriendin wat met kanker gediagnoseer is en chemo-behandeling ontvang het. “As jy wil wen, moet jy daarvoor werk. Wat jou nie dood maak nie, maak jou sterk. As jy dit soek my vriend, rig jou oë na bo. Doen net jou bes, God doen die res,” is die lirieke waarmee hy nie net vir haar nie, maar almal wat tans moeilike omstandighede beleef, wil aanmoedig om deur te druk.

“Hou nie van rave nie, dis nie my besluit nie. Gee my net ‘n Stetson met ‘n ou mooi storie, ‘n slide kitaar was nog nooit só mooi nie, gee my net ‘n bietjie country,” is die lirieke vanuit nog ‘n liedjie op hierdie album wat luisteraars se voete sal laat jeuk om op die maat van countrymusiek te kan dans. Glory land is Jakkie se verwerking van Elvis Presley se Dixi land as deel van sy poging om ‘n meer geestelike aanslag aan hierdie tydlose treffer te kan verleen.

Een van die grootste verrassings op hierdie album, in samewerking met die bekende kitaarspeler, Juan “Floors” Oosthuizen, is ongetwyfeld ‘n akoestiese opname van Jakkie se debuut enkelsnit, ‘n Bottel Tas, wat in 1998 vir die heel eerste keer die lig gesien het. Dit bevat verder ook ‘n splinternuwe rock-‘n-roll weergawe van een van sy heel grootste treffers, Drie Pikkewyne, wat oorspronklik in 2006 as ‘n popsnit uitgereik is, maar nou in hierdie weergawe deur harde dromme en kitare gekenmerk word.

Jakkie sluit hierdie album af met sy weergawe van Garth Brooks se treffer, The River.

Jakkie Louw se langverwagte vollengte album, JONK, sal vanaf Vrydag, 8 Desember 2023, op alle digitale musiekplatforms soos Youtube, Youtube Music, Spotify, iTunes, en Deezer beskikbaar wees.

Hiermee die skakel na die volledige album.  Die snitte wat gemerk is vir radio is  Doen jou bes, Gee my ‘n bietjie Country en Jonk.

https://we.tl/t-zLtWODWF1Z

LiedISRCPublisherSkrywer
Doen jou besQZTBE2388276Jakkie Louw ProduksiesJakkie Louw
Gee my ‘n bietjie CountryQZWFH2387946Jakkie Louw ProduksiesJakkie Louw
JonkQZWFE2371626Jakkie Louw ProduksiesJakkie Louw
KarenQZWFE2394909Jakkie Louw ProduksiesJakkie Louw
Bottel Tas AkoestiesQZWFE237218Jakkie Louw ProduksiesJakkie Louw
Drie Pikkewyne RemastredQZWFH2390158Jakkie Louw ProduksiesJakkie Louw
GlorylandQZWFJ2397411Jakkie Louw ProduksiesDaniel Decatur Emmett
The RiverQZWFJ2397369Jakkie Louw ProduksiesGarth Brooks

Vrygestel deur Tania Fourie Promosies.

Vir media navrae, kontak Tania Fourie by 072 194 2794, of e-pos by tania@tfpromosies.co.za

Stuur gerus ‘n e-pos na anel@jakkielouw.co.za, of besoek sy webtuiste by www.jakkielouw.co.za, of sy Facebook-blad, Jakkie Louw Amptelik, om Jakkie Louw gedurende 2024 vir optredes te bespreek.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →