PETRONEL BAARD EN JOHAN LIEBENBERG SPAN KRAGTE SAAM VIR  HARTROERENDE DUET            

Wat gebeur wanneer twee begaafde musikante, soos Petronel Baard en Johan Liebenberg, besluit om ’n duet op te neem van ’n besonderse lied uit Helena Marais se pen?

Jy kry ’n hoendervleismooi radiotreffer wat nie net die kieskeurigste oor sal tevrede stel nie, maar ook sal aanklank vind by ’n wye gehoor.

MAG JY is ’n melodieuse samesmelting van pop, rock en alternatiewe klanke wat op ’n kragtige, tog weerlose, manier aan die luisteraar oorgedra word.

Volgens die skrywer gaan dié snit, wat vervaardig is deur Schalk Maas en David Cruickshank, oor goeie wense vir geliefdes en die hoop dat hulle lewensreis meer mooi as seer sal inhou.

Die tema is geïnspireer deur die geboorte van haar vriendin se babadogter en hoe spesiaal dit vir haar was om te aanskou hoe ’n nuwe lewe die wêreld inkom; met al die moontlikhede en uitdagings wat nog voorlê.

Foto Krediet: Jorina Kriel

“Dit is ’n pragtige lied en die woorde en musiek bly ’n mens by lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het,” sê Petronel oor die tweede enkelsnit uit Marais se pen wat sy opneem. “Dit het ’n sterk en tog sagte boodskap van liefde en ons dink luisteraars sal aanklank vind by die innige en opregte seënwense wat daarin versteek lê.”

Baard en Liebenberg, wie se paaie vir die eerste keer met dié samewerking gekruis het, is baie opgewonde om die enkelsnit uiteindelik met die publiek te deel en sien ook uit om in 2024 saam ’n musiekvideo hiervoor op te neem.

“Petronel is ’n nederige en opregte mens. Ek het dit baie geniet om saam met haar te werk en sien uit om te sien waarheen hierdie liedjie gaan,” sê hy.

Sy voeg by: “Johan is ’n spanspeler, talentvol, hardwerkend en baie gaaf. Dit was net ’n plesier om saam met hom te werk. Hy is ’n puik showman en musikant.” 

Petronel Baard, ’n passievolle musiekster met ’n strelende storievertellerstem, het oor die afgelope vyf-en-twintig-jaar reeds diep spore in die musiekbedryf kom trap.

Sy het in Villiersdorp grootgeword en was van kleins af versot op musiek. Haar uitsonderlike solo-stem is op die ouderdom van twaalf ontdek tydens ’n skoolopvoering van Die Slapende Skoonheid en net daar het die sang- en toneelgogga haar behoorlik gebyt. Na skool het sy Drama by Stellenbosch gaan studeer en in 1998 professioneel begin optree. Aan die einde van haar honneursjaar, het sy ATKV se Crescendo-kompetisie gewen en voltyds by die vermaakbedryf betrokke geraak.   

Oor die afgelope paar jaar het sy al verskeie optredes en toneelstukke gedoen en die geleentheid gehad om met kunstenaars te werk vir wie sy die wêreld se respek het. Sy het ook al verskeie toekennings gewen, waaronder die Cordis Trust se Orde van die Beiteltjie vir haar volgehoue bydrae tot Afrikaanse kultuur en skryfkuns.

Wanneer sy nie sing nie, werk dié veelsydige vrou ook as mentor vir ATKV-Crecsendo en vervaardig haar eie verhoogproduksies wat by groot kunstefeeste opgevoer word. Sy het nog baie planne vir die toekoms en geniet dit om voltyds in die musiek- en teaterbedryf te wees.

Johan Liebenberg, oorspronklik van Walvisbaai in Namibië, het op die ouderdom van 21 die sandduine verruil vir die stad om sy droom om ’n musikant te word na te jaag.

In 2004 het hy sy buiging op die Barnyard-verhoog gemaak as kitaarspeler, maar sy sangtalent is gou ontdek waarna hy in 2009 deur Louis Moller en Duck Chowles genader is om Niel Diamond- en Céline Dion-huldeblykvertonings te doen.

Oor die jare, het hy nie net saam met verskeie musikante gewerk op hulle en sy eie albums nie, maar ook die verhoog gedeel met, onder andere, Matthys Roets vir ’n Cohen en Diamond-vertoning en Chloe Eddy vir Divas en Divos.

Hy is nie iemand wat kan stilsit nie en is konstant besig met nuwe musiekprojekte om die pot en sy kreatiwiteit aan die kook te hou. Die rol wat hy natuurlik die meeste geniet is die van pa wees vir sy veertienjarige dogtertjie, Mila.

MAG JY is nou op alle digitale stromingsplatforms beskikbaar en hierdie duet, met sy sterk temas van liefde en goeie wense, gaan verseker diep spore trap in die harte van Afrikaanse musiekliefhebbers.

Kry die lied hier: https://petronelbaard.hearnow.com/mag-jy

SOSIALEMEDIASKAKELS

PETRONEL

Facebook: https://www.facebook.com/petronelbaardmusic

Instagram: @petronelbaardmusic

Webwerf: www.petronelbaard.com

YouTube: https://youtube.com/@petronelbaard

JOHAN

Facebook: https://www.facebook.com/johan.e.liebenberg

Instagram: @johanliebenmila

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCNX8nZM67Xj1xsBIfnfaGyA

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →