SHAUN NIEUWOUDT VERRAS MET TRILOGIE PROPVOL LIEFDESROMANSE IN AFRIKAANS.

Die 27-jarige Shaun Nieuwoudt se debuutalbum, Stories Oor Jou, in die vorm van ‘n trilogie dien as ‘n bundel liefdesromanse, waarin elke liedjie ‘n hoofstuk vanuit ‘n boek verteenwoordig.

Hierdie gebore Oos-Vrystater met die baritonstem het oorspronklik in 2020 bekendheid verwerf met die uitreiking van sy enkelsnit, Hartsbegeerte, wat ook op hierdie album verskyn. Dié betekenisvolle pop-country ballade poog om hoop te bring aan diegene wat glo dat ware liefde nie meer bestaan nie. Alhoewel dit eintlik ‘n cliché oor die liefde is, probeer dit egter nog steeds om opregte liefde se ware betekenis te definieër,” vertel hy meer oor hierdie lekker romantiese vasdansliedjie waarvoor daar onlangs ook ‘n musiekvideo uitgereik is.

Die nuwe enkelsnit vanaf hierdie album is Die Oorlog waarvan daar ‘n oorspronklike weergawe, sowel as ‘n sogenaamde “club mix”, op alle digitale musiekplatforms beskikbaar sal wees. Shaun het dié liedjie, wat oor ‘n liefdesdialoog tussen twee verliefdes handel, saam met sy goeie vriendin, Valerie Joubert, geskryf na aanleiding van ‘n kort gedig wat sy vir hom geskryf het. “Volgens my verteenwoordig die liefde ‘n oorlog tussen twee mense wat binne ‘n huwelik een word sodat hulle saam, as een mens, kan baklei teen al die uitdagings wat die wêreld hul bied. Die feit dat daar in enige oorlog altyd twee verskillende kante is, het aanleiding gegee tot die besluit om twee weergawes van hierdie liedjie te laat vervaardig, wat luisteraars dan in staat stel om self te kan besluit aan watter kant van die oorlog hulle hulself wil bevind,” verklap hy meer oor die twee uiteenlopende weergawes.

Nog ‘n enkelsnit vanaf hierdie album, Wonderwerk, se lirieke, “Tot die tyd stilstaan, tot ons lewens aangaan, saam met jou, saam met my,” bevat die woorde wat hy graag eendag vir sy vrou op hulle troue sal wil sing. Shaun is egter daarvan oortuig dat hierdie enkelsnit oor die potensiaal beskik om in die toekoms wel nog vir ander paartjies ook ‘n baie gewilde liedjiekeuse by hulle troues te kan word.

Alhoewel Shaun die meeste van die liedjies se lirieke self geskryf het, gee hy egter ook erkenning aan Valerie vir die belangrike bydrae wat sy, as mede-skrywer op Die Oorlog, tot sy debuutalbum gelewer het. “Ek wil met dié album my eie unieke klank en energie na die Afrikaanse musiekbedryf bring. Daarom was dit vir my baie belangrik dat die idees vir alle liedjies baie oorspronklik moet wees en dat ek nie soos enigiemand anders moet klink nie. Dit moet ‘n klank heeltemal op sy eie wees, sonder enige verwysingsraamwerk,” verduidelik hy.

Shaun Nieuwoudt se debuut album, Stories Oor Jou, sal vanaf Vrydag, 12 Januarie 2024, op alle digitale musiekplatforms soos Youtube, Youtube Music, Spotify, iTunes, en Deezer beskikbaar wees.

SangerLiedISRCSkrywerPublisher
Shaun NieuwoudtDie OorlogQZFYX2431986Shaun Nieuwoudt / Valerie JoubertWoudt Records/Distrokid/SAMRO
Shaun NieuwoudtDie Oorlog (Club mix)QZFYX2431984  

Hiermee die skakel na albei snitte in WAV: https://we.tl/t-qmaAGa8KJD  

Vrygestel deur Tania Fourie Promosies.

Vir media navrae, kontak Tania Fourie by 072 194 2794, of e-pos by tania@tfpromosies.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →