JOSHUA NA DIE REËN EN KARLIEN VAN JAARSVELD SPAN KRAGTE SAAM VIR HOENDERVLEISMOOI LIEFDESDUET

Wanneer twee gewilde en geliefde musikante kragte saamspan om ’n besonderse liefdesliedjie op te neem, kan die eindresultaat niks anders as betowerend wees nie.

Om die maand van liefde te vier, het die twee bekroonde sangers en liedjieskrywers, Joshua na die Reën (JNDR) en Karlien van Jaarsveld ’n enkelsnit opgeneem wat beloof om luisteraars se asems weg te slaan.

BETER VIR ONS ALBEI is hartroerende popliedjie, uit die ateljee van Gideon Botes, wat gaan oor die bakens wat jy vir jouself in die lewe plaas sodat jy kan onthou hoekom jy hier is en wat jy moet doen.  

“Na ’n optrede so ’n paar jaar gelede, het ek die slegte nuus gekry dat een van my vriende se pa oorlede is. Hy was iemand na wie baie mense opgekyk het en ek was net in hierdie gat. As iemand doodgaan wat so ’n groot impak op mense se lewens gehad het, laat dit ’n groot leemte en ek het al hierdie vrae gehad vir God. Die lewe is so onseker en ’n mens weet nooit wat volgende gaan gebeur nie. Ek het by die gastehuis gekom en met my kitaar op die kombuisvloer gaan sit en gevoel hoe God vir my sê dat vir ingeval jy vergeet, moet jy ’n knoop in jou oor maak en onthou,” verduidelik JNDR, of te wel Jacques de Villiers, wat die liedjie geskryf het. “Vir my, voel dit asof God hierdie oomblikke skep waarin ons alleen kan wees saam met hom en dit raak die bakens wat jou herinner.”

Volgens De Villiers, wat vir Karlien jare gelede ontmoet het toe hy vir haar broer klavier gespeel het, was die idee om die snit saam met haar op te neem eintlik sy vrou, Danelle, s’n. “Toe ek die lied vir haar speel, het sy gesê sy hoor Karlien se stem daarin en ek het dadelik geweet dis wat moet gebeur. Ek was baie bly toe sy instem om dit saam met my te doen.”

Vir hom is dié samewerking ’n groot voorreg omdat hy groot waardering het vir haar menswees, talent en stem, en ook omdat hulle albei die persoon geken het oor wie die liedjie gaan. “Dis nou nie ’n duet wat mense sou verwag het nie, maar ek bewonder iemand wie se uitkyk oor musiek nie net is om vermaak te wees nie, maar iets moois en heilig na die wêreld te bring,” sê hy.

Van Jaarsveld stem heelhartig saam en meen dat sy baie gemaklik gevoel het om saam met JNDR te werk. “Hy kyk anders na die wêreld, sien meer as net dit wat voor hom staan en laat jou toe om net jouself te wees. Hy is ’n diep denker, soos ek, en so musikaal! Definitief een van my heel gunsteling kunstenaars,” voeg sy by.

’n Musiekvideo, wat gebou is rondom ’n aangrypende lewendige optrede, is nou ook te sien. Buiten vir die twee kunstenaars wat mekaar met gemak op die verhoog aanvul, is slim beligting ook gebruik om die teer emosie van die lied te komplementeer en die eindproduk hou kykers vasgenael totdat die laaste note wegraak.

Luister die liedjie hier:   https://open.spotify.com/track/4QK4YRuTNNAQbLnrEhrsXf?si=vd9owb7VQfWj4ZcpFLiY5g

Joshua na die Reën werk al vir meer as ’n dekade in die musiekbedryf. Hyhet al talle toekennings gewen, verskeie suksesvolle radiotreffers, waarvan die laaste ’n kerslied Daar is Lig wat baie goed ontvang is, uitgereik.

Tans besig met verskeie opwindende projekte en samewerkings waaroor hy baie opgewonde is. Dit sluit in ’n hoofrol in die rolprent Reisigers wat later vanjaar verfilm word, ’n bewusmakingsveldtog oor die mens se verantwoordelikheid om die aarde op te pas en ’n reeks klere en toebehore saam met die handelsmerk NAVA. Verder is hy ook een van die gesigte van Tapputi Egyptian Perfume Oils se splinternuwe mansreeks wat onlangs bekendgestel is en rig hy skoolkore af in sy vrye tyd.

Karlien van Jaarsveld is ’n bekende sanger, liedjieskrywer, aktrise, skrywer en ma van vier. Oor die afgelope twee dekades, het sy nie net verskeie suksesvolle treffers uitgereik nie, maar haarself ook gevestig as een van die grootste vroulike kunstenaars in die land. Als is okay, haar mees onlangse vrystelling, is baie goed ontvang en sy het 2023 op ’n hoë noot afgesluit met optredes by Afrikaans is Groot en ’n Aitsa-musiektoekenning saam met Jacob Swaan vir beste luisterliedjie van die jaar. Buiten vir musiek, is sy besig om te skryf aan ’n boek wat sy hoop om binnekort te finaliseer.

BETER VIR ONS ALBEI val sag op die oor, praat behoorlik met die hart en is beslis een van daardie liedjies waaroor musiekliefhebbers nog lank gaan praat.

“Ek dink mense hou van musiek en ’n boodskap waarmee hulle kan vereenselwig en hierdie is beslis so ’n liedjie. Dit sal jou ook herinner om te soek na hierdie oomblikke waarin jy alleen is en vrede het en waarin jy werklik by die kern uitkom van wie jy as mens is,” sluit JNDR af.

Dit is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms.

Laai dit hier af: xxx.

SOSIALEMEDIASKAKELS

JOSHUA NA DIE REËN

Facebook: https://www.facebook.com/JoshuaNaDieReen

X: @JoshuaNaDieReen

Instagram: @joshuanadiereen

Webwerf: www.jndr.co.za

KARLIEN VAN JAARSVELD

Facebook: https://www.facebook.com/Karlien.van.Jaarsveld.II

X: @KarlienVanJ

Instagram: @karlienvanjaarsveld

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies

Danelle Liebenberg El Far

Sel: 071 534 7796 (Whatsapp only)

E-pos: danelle@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →