Ink se debuutalbum heet , Winterhuis.

Op die publisiteitsfoto van hul debuutenkelsnit, Winterhuis, staan Ilse Lotz en André Fourie kop-aan-kop. Hulle profiele duidelik sigbaar teen die wit agtergrond van die foto. Ilze het ’n fyn ringetjie in haar neus; haar skouers en rug ’n inkleurboek van simbole en woorde. Fyn haartjies versier die ontblote vlees van André se bo-lip, grys vlek sy eens gitswart haredos.

Dié foto is reeds ’n bewys van die splinternuwe Pretoriase groep, Ink, se andersdenkenheid; ’n alternatiewe musikale vreesloosheid wat ook die bo-toon voer in Winterhuis.

Enersyds is ’n winterhuis ’n tipe huis wat veral in Skandinawiese lande gebou word. ’n Heeljaar huis vol magiese objekte en rakke vol boeke. ’n Huis wat sterk staan teen die natuur se aanslae.

Andersyds kan dié huis ook ’n eensame plek wees waar die kamers op sy mense wag.

En dit is ook presies die boodskap wat Ilse en André met die snit wil oordra: Kamers sonder mense word ’n simbool van eensaamheid, die winterhuis ’n plek waar die reis eindig.

Ink is ’n Indie-Folk rockgroep wat inspirasie vir hul musiek uit die werke van Leonard Cohen, Bob Dylan en The Be Good Tanyas put. Tog is hulle musiek nie net ’n klakkelose napratery van goue musikante nie.

Hulle lirieke is eietyds Afrikaans gepeper met magiese blues klanke wat die luisteraar op ’n betowerende musikale reis neem.

Ilse het ’n amper dromerige donker alt wat jou saam met die musiek na die wêreld van folkmusiek laat reis. Daarteenoor is André se stem weer soos ’n Koorsboom se donker bas wat goed met Ilze se stem konstrateer.

Winterhuis was ook Ilse en André se eerste gesamentlik skrypoging. Die liedjie het in Hoedspruit ontstaan en vertel die storie van verlange en saam wees.

Ilse en André, wat beide reeds bekendheid verwerf het as musikante, liriekskrywers en sangers in groepe soos onderskeidelik BoneKey en Grey Matters, het Ink in 2022 gestig.  

Hulle sê dat hul klank gekenmerk word deur beklemmende stemme en melodieë wat jou sal by bly, lank nadat die laaste noot weggesterf het.

Ilse het in ’n musikale huis grootgeword; haar pa, George Lotz, was die voormalige voorsanger en liedjieskrywer van die groep Silver Creek Mountain Band. Sy het deur die jare by verskillende groepe waaronder BoneKey en Suitcase Hearts as sanger en liriekskrywer betrokke geraak.

Die destydse musiekresensent Danie Marais het toe BoneyKey se eerste album, Heartsong, as een van die beste albums in 25 jaar beskou.

André is een van die land se meester klassieke- en folkkitaar spelers. Hy was betrokke by die groep Grey Matters wat onder meer die album Agter Hierdie Einders die lig laat sien het.

Ink is besig om ’n beduidende impak op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te maak en die groep het al geleer dat harde werk, respek en nederigheid baie belangrike bestanddele vir ’n suksesvolle loopbaan is.

Winterhuis is nie net die resultaat van die werk en passie wat hulle reeds in hul loopbane belê het nie, maar is ook een van dáárdie snitte waarna enige liefhebber van musiek werklik na kan luister.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →