Zondagkraal  se nuwe enkelsnit is –  Ongenooide seën.

Die plaasrockgroep Zondagkraal is na hulle eerste twee enkelsnitte, Blom en Brandweerwag, net so bekend soos ’n Brahman-stoetbul by veilings.

Dit is egter nie net die plaas- en landelikegemeenskappe wat aanklank by hulle unieke soort rock vind nie, maar ook die millenniërs  wie se duime al blou “gelike’’ is op sosialemediaplatforms.

Ongelukkig hou hulle onderskeie plaasprojekte die groep baie besig en jy sal hulle nie sommer op een van ons musiekverhoë in aksie sien nie. Hulle is soos ongemaskerde musieksmaakmakers wat ons orals op sosiale media kan sien en hoor, maar van wie ons nie foto’s kan neem of handtekeninge vra nie – dit kan ook moontlik die rede vir hulle ongekende sukses wees.

Hulle jongste enkelsnit, Ongenooide seën, is ook weer ’n eiesoortige liedjie wat ook nie afwyk van hulle resep om  Bybelse simboliek iewers by  hulle lirieke in te werk nie.

Hoewel hulle nie ’n gospelrock-groep is nie, kom daar altyd bedekte verwysings na versreëls uit die Bybel voor.  Die seën waarna die lirieke verwys kan ook vertolk word as die “ongenooide seën” wat almal van ons daagliks in ons eie lewens sien.

Hannes het dié snit neergepen. “Die liedjie handel oor ’n lewensreis; die mense wat ons langs die pad ontmoet en vriendskappe wat gevorm word. Dit is ook ’n snit wat ons aan nou, maar ook aan die ewige lewe sal laat dink.”

Ongenooide Seën vertel nie nie net die storie van hoop nie, maar ook van skepe in die nag wat ons dalk nooit weer gaan sien nie.

Die trefkrag van die snit lê in die eerlikheid, treffende klank, opwindende en progressiewe orkestrasie (ligte rock, en ’n skeut melancholies folk wat in kontemporêre styl verpak word) en suiwer vokale vertolkings.

Zondagkraal het verlede jaar hul toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf met die snit Blom gemaak. Die snit is beskryf as een van die beste rocksnitte wat toe uitgereik is.

Hulle het middel Februarie ook ’n musiekvideo van die snit op YouTube bekendgestel wat binne drie dae al bykans ’n duisend unieke trefslae gekry het. Die kykerskommentaar wissel van “Amazing, song, amazing video’’ en “Ek love dit.’’

Hannes en Roelf het op die naam Zondagkraal besluit, want eerstens beteken die woord “dag van rus” en tweedens simboliseer dit hulle diep geloof in die Here. Kraal beteken weer “plaas” – ’n plek waar hulle bly en werk; lag en huil.

Die drie musiek-indoenas is almal plaasmense en hulle grootste droom is om eendag hulle eie grond te besit. Die naam sal dan ook  Zondagkraal wees.

Musiekresensente beskryf hulle eiesoortige musiek as plaasrock, ’n musiekgenre wat stories vertel in ’n folk-rockerige styl.

Ongenooide seën is weereens  sterk liriekgedrewe en Hannes se diep “bulkende“ tenoorstem is  soos ’n onrustige wind wat dinge in ’n mens se siel loskarring.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →