COFFEE SNOBS neem jou SAAM OP REIS deur die lewe

“Daar’s ‘n ster wat skyn in die donker nag, en hy skyn oor my, en dit wys die pad. Waarheen dit lei, sal ek nie kan sê, maar ek weet dat daar ‘n toekoms lê,” is lirieke vanuit die gewilde duetpaar, Coffee Snobs, se nuwe enkelsnit, Die Reis, wat heel gepas dien as metafoor van die lewe met sy verskillende seisoene.

Alhoewel Marius en Vernette Wessels reeds in 2009 getroud is, het hulle eers in 2012 saam onder die verhoognaam, Coffee Snobs, begin optree. Sedertdien het hulle twee albums, Aroma (2015), en Lig (2018) uitgereik, waarvan die laasgenoemde vir ‘n Huisgenoot Tempo toekenning genomineer is.

Die Reis is oorspronklik deur Vernette geskryf as die titelsnit vir Laurika Rauch se gelyknamige album wat in 2016 uitgereik is. “Die lewe is ‘n reis met opdraandes, en afdraandes, sowel as Somer-, Herfs-, Winter-, en Lente-seisoene. Die lewe is soos die see – Party dae is dit omgekrap en skoon befoeterd, terwyl dit ander dae weerloos en só glad soos ‘n spieël is. Uiteindelik is dit egter juis dié kombinasie van op-en-af, verskillende seisoene, stormweer, en sonskyndae, wat die lewe só ‘n interessante reis maak!” vertel Vernette wat haar destyds geïnspireer het om hierdie liedjie te skryf.

Coffee Snobs put baie inspirasie uit hulle eie huwelik, asook hulle geloof en vertroue in hul Hemelse Vader, soos duidelik blyk uit die temas van hulle enkelsnitte, Sal Jy (2019), Donkernag Pantoen (2020), Stetoskoop (2020), Your Love (2020), Branderkind (2021), My Hart My Huis (2021), en Anker (2022). Hierdie sensuele musiekpaar van Mosselbaai het in 2019 ook hulle debuut in musikale teater gemaak met hul hoogs aangeskrewe produksie, Donkernag Pantoen: Die reis van vers na liriek, in samewerking met die veelbekroonde skrywer en digter, Riana Scheepers, wat by verskeie kunstefeeste soos die Innibos Nasionale Kunstefees, die Suidoosterfees, en die Vrystaat Kunstefees opgevoer is.

Coffee Snobs is danksy hulle diverse klanke ewe tuis in die teater, op ’n fees, of by enige funksie. Met die warm en sielvolle aanslag van hulle oorspronklike liedjies, slaag hulle beslis daarin om hul gehore saam met hul op ‘n onvergeetlike musikale reis te neem. “Vir ons is musiek ʼn geskenk wat ons graag met ander mense wil deel om sodoende die wêreld deur die kuns van musiek te kan verryk,” sê hulle.

Die Reis word oudergewoonte geassosieer met sensitiewe en intelligente lirieke, asook ‘n baie skaars musikale intimiteit, waarvoor Coffee Snobs deur die jare heen bekendheid verwerf het. “Ons hoop dat mense sal besef wanneer hulle hierna luister die lewe gaan eintlik glad nie oor die eindbestemming nie, maar oor ons elkeen se onderskeie reis daarheen,” verduidelik Marius en Vernette opgewonde. 

Coffee Snobs se nuutste enkelsnit en musiek video vir Die Reis, sal vanaf Donderdag, 21 Maart 2024, op alle digitale musiekplatforms, insluitend Youtube, Youtube Music, Spotify, iTunes, en Deezer beskikbaar wees.

KunstenaarLiedISRCSkrywerPublisher
Coffee SnobsDie ReisZA-81W-2400001Esme Vernette RautenbachSAMRO

Vrygestel deur Tania Fourie Promosies.

Vir media navrae, kontak Tania Fourie by 072 194 2794, of stuur ‘n e-pos na tania@tfpromosies.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →